Lise Manley was nog altyd groter as ander meisies en vroue, en die gewig het net bly optel. Sy het uiteindelik bariatriese chirurgie ondergaan en dit het haar lewe verander. Lees Lise se eerlike en roerende verhaal hier.
Die lewe voor bariatriese chirurgie
Lise was altyd van nature groot
“Ek is van nature ’n groot vrou, 1.80 m lank, met ’n grootte 9 skoen, en van kleins af was ek nog altyd effens groter as ander meisies van my ouderdom,” vertel Lise. Teen die ouderdom van 10 het sy reeds begin agterkom dat sy anders lyk, en soos die jare aangestap het, het haar gewig stadig maar seker bly toeneem. “Teen matriek het ek omtrent 85 kg geweeg, en alhoewel ek nog altyd ’n redelike mate van selfvertroue gehad het, het dinge met tyd begin verander.”
Die gewig het bly optel
“Soos ek ouer geword het, het die gewig net bly optel. Teen my laat 40’s moes ek eerlik met myself wees, ek was nie meer net ’n “plus size” vrou nie, ek was morbied oorgewig. My lewe het al hoe meer beperk geraak. Ek het ’n baie sedentêre bestaan begin lei, een wat veilig gevoel het, maar in werklikheid het ek nie meer regtig geleef nie.”
Sy het soveel dinge misgeloop
“Ek het nie saam met my kinders gaan swem of strand toe gegaan nie, want ek was te selfbewus. Ek het staproetes en avonture vermy uit vrees, nie net vir my fiksheid nie, maar ook vir die “wat as”. Wat as ek val, wat as ek nie kon opstaan nie, wat as ek nie gehelp kon word nie. Hierdie vrese het my wêreld al hoe kleiner gemaak.”
Bariatriese chirurgie oorweging en Ozempic
Vir jare het Lise bariatriese chirurgie oorweeg, maar die koste was hoog en die vrees vir komplikasies het haar teruggehou. “Ek het ook ander opsies probeer, onder andere Ozempic, wat ek vir meer as twee jaar gebruik het. Alhoewel ek net 8kg gewig verloor het oor ’n tydperk van twee jaar, was dit nie volhoubaar nie. Die oomblik toe ek dit gestop het, het ek al die gewig opgetel, en nog meer. Dit was baie duidelik nie ’n langtermyn oplossing nie.
Ongeveer drie jaar gelede het my beste vriendin bariatriese chirurgie ondergaan. Ek het eerstehands gesien hoe haar lewe verander, nie net fisies nie, maar ook haar emosionele welstand. Dit het ’n saadjie by my geplant.”
Die keerpunt

Lise se keerpunt het gekom toe sy haar swaarste gewig van 162 kg bereik het. “Elke jaar het ek net swaarder geweeg en ek kon dit ewe skielik orals voel. My enkels en knieë het begin pyn as ek stap.
Sy kon nie net meer van die bank af opstaan nie, en was heeltyd moeg en haar seun Luke moes haar van die bank kom optrek. “Dit was absoluut aaklig. Ek was desperaat, het besef dat ek aan vetsug ly en meer as 70kg gehad het om te verloor.
Ek het geweet as ek nie iets drasties doen nie, sou ek heelwaarskynlik aan vetsug doodgaan terwyl ek nog ’n jong seun op skool het.”
Dit was die oomblik waar Lise geweet het, sy kan nie meer so aangaan nie. Haar endokrinoloog, Dr Jocelyn Hellig, het haar gehelp om hierdie realiteit te konfronteer en uiteindelik die besluit te neem.
Lise het dit oorweeg om die operasie in Turkye te laat doen omdat dit goedkoper is, sy wou nie so ver van haar mediese span af wees as iets verkeerd sou gaan nie. “Met die hulp van my ongelooflik liefdevolle en vrygewige ouer suster kon ek die operasie plaaslik in Kaapstad ondergaan, ’n besluit wat vir my enorme gemoedsrus gebring het.”
Die proses begin lank voor die operasie
“Wat baie mense nie besef nie, is dat die proses lank voor die operasie begin. Ek het maande se voorbereiding ondergaan, toetse, konsultasies en selfs ’n bariatriese sielkundige wat ek nog steeds sien. Dit het my laat besef dat hierdie reis oor soveel meer gaan as net die operasie self. Dit is ’n volledige lewenstransformasie.”
Die operasie

“Die operasie self was eerlikwaar baie minder traumaties as wat ek verwag het. Ek het minimale pyn ervaar, was net twee dae in die hospitaal en was reeds een week later terug by die werk. Fisies het my liggaam vinnig herstel, maar emosioneel was dit ’n ander storie.”
Die uitdagende maande daarna
Die eerste ses maande was uiters uitdagend. “Ek het nie besef hoe diep my verhouding met kos was nie. Vir iemand wie se liefdestaal kos, kook en onthaal is, was dit amper soos ’n rouproses. Ek kon nie meer eet soos voorheen nie, en selfs kook het my naar gemaak. Ek moes leer om ’n nuwe weergawe van myself te word.”
Lise se verhouding met kos het verander
“My verhouding met kos het heeltemal verander. Vandag eet ek nie meer vir plesier nie, ek eet om my liggaam te voed.”
“Omdat ek net klein hoeveelhede kan eet, is dit absoluut noodsaaklik dat alles wat ek inneem voedingsdig en ryk aan proteïen is. Proteïen is my grootste prioriteit, maar selfs nou sukkel ek nog om my daaglikse teikens te bereik.”
Vitamientekorte is ’n realiteit
Daar is ook praktiese realiteite wat mense nie altyd sien nie, soos vitamientekorte. Ek moes reeds vir ’n ysterinfusie gaan en sal waarskynlik elke jaar een nodig hê. Haarverlies is ook ’n werklikheid in die maande ná die operasie. Dit kan emosioneel moeilik wees, maar gelukkig is dit tydelik en groei jou hare weer terug.
Die beloning is onmeetbaar
En tog, ten spyte van alles, is die beloning onmeetbaar.



Sedert Februarie 2025 het ek 50 kg verloor, en 42 kg daarvan sedert my operasie op 12 Junie 2025.
Maar die grootste verandering is nie die nommer op die skaal nie, dit is die vryheid wat ek teruggekry het.
Die vryheid wat Lise teruggekry het
Vryheid om te beweeg sonder pyn. Vryheid om lang afstande te stap. Vryheid om op ’n vliegtuig te klim sonder angs, om gemaklik in ’n sitplek te pas sonder ’n gordelverlengstuk. Dit is die klein dinge wat eintlik alles beteken.
Gewigsverlies bly ’n proses
Lise het omtrent nog 30kg om te verloor, maar dit is ’n proses. “Dit neem ongeveer twee jaar om al die gewig te verloor wat jou lyf kan verloor.
Junie 2026 sal dit eers ’n jaar wees, so ek het nog ‘n rukkie tyd om daar te kom. Die statistieke wys dat bariatriese pasiente ongeveer 30 to 35% van hulle liggaamsmassa verloor oor 2 jaar. Party mense minder en ander meer.
Ek hoop ek is een van die mense wat meer verloor maar al verloor ek nie nog ‘n 1 kg nie, is hierdie die volgende feite:
- My gesondheid het dramaties verbeter.
- Ek was voorheen pre-diabeties, en binne ses weke na die operasie het my bloedsuikervlakke genormaliseer.
- Ek kan nou met gemak beweeg, iets wat ek lanklaas ervaar het.
- En ek is nogal vinnig wat vir my baie snaaks is!
Lise het haar lewe teruggekry
“Alhoewel my selfvertroue gegroei het, gaan hierdie reis vir my nie net oor voorkoms nie, dit gaan oor lewe. Ek voel asof ek my lewe teruggekry het. Natuurlik is dit lekker om mooi aan te trek en vir die eerste keer in dekades kan ek nou in ’n winkel ingaan en klere koop wat pas.
Ek vervang nou etes by restaurante met ervarings, stap, beweeg, verken. Ek wil meer oefen, meer sien, meer doen. Ek wil die tyd wat ek verloor het, inhaal. Want as daar een ding is wat ek anders sou doen, is dit om nie so lank te wag nie.
My enigste spyt is dat ek nie vroeër hierdie stap geneem het nie. Ek het jare verloor waarin ek nie werklik geleef het nie, maar ek is vasbeslote om dit nou op te maak.”
Bariatriese chirurgie is nie ’n maklike uitweg nie
“Vir enigiemand wat hierdie pad oorweeg, dit is nie ’n maklike uitweg nie. Dit verg harde werk, emosionele groei en lewenstylveranderinge. Maar dit kan jou lewe verander op maniere wat jy jou nie eers kan voorstel nie. En vandag, selfs al het ek nog ’n pad om te stap, kan ek met sekerheid sê, ek het my vryheid teruggekry. En ek is ongelooflik dankbaar daarvoor.”





