Beáta Bena Green se beste krulhaarwenke

Hier is aktrise Beáta Bena Green se beste krulhaarwenke, 15 van hulle! Soos baie krulhaarvroue sal weet, is dit ’n reis (veral een van aanvaarding) om krulhare te hê. Deur Suzanne Kotzé.

Beáta Bena Green se krulhaarreis

Beáta Bena Green

My hare is deur ’n reis in my lewe. Om groot te word as ’n vrou van kleur was daar baie verwagtinge oor hoe ’n  mens se hare moet lyk, en wat aan jou hare gedoen moet word, en wat aanvaarbaar en aanpasbaar en mooi is. So ek het my hare toe ek jonk was, deur baie trauma gesit deur verskillende stileringstegnieke te probeer om dit te laat lyk soos iets wat dit nie natuurlik is nie.

Maar nou, as ’n  volwassene, die afgelope paar jaar, het ek my hare baie liefde en aandag gegee, en ek glo vas dat ek die persoon is wat weet hoe om my hare die beste te hanteer, want ek bring die meeste tyd daarmee deur.

Beáta Bena Green se 15 beste krulhaarwenke

1. Die regte sjampoe

Ek gebruik op die oomblik van Goldwell se produkte, maar wat vir my hare werk gaan nie noodwendig vir iemand anders se hare werk nie. Maak seker jy het ’n sjampoe wat by jou hare pas en groei en gesonde hare ondersteun.

2. Moenie jou hare te veel was nie

Ek probeer om nie my hare meer te was as wat nodig is nie, want dit stroop dit van sy natuurlike olies.

3. Sit genoeg tyd opsy

Wanneer ek wel hare was, sit ek ten minste vier ure opsy om net diep op te knap en my hare te voed

4. Kies ’n opknapper wat bevogtig en herstel

Maak seker jy het ’n goeie opknapper wat die vog in jou hare diep versorg en herstel.

5. ’n Breëtand-kam is ’n moet

Maak seker jy gebruik die regte kamme, soos ’n breëtand-kam en ontknopingskamme, vir wanneer jy jou hare uitkam. Om hierdie byderhand te hê as ek was, is deel van my haarwasroetine sodat ek my hare met gemak kan uitkam en keer dat my hare breek. Ek neem gewoonlik die meeste tyd om net my hare uit te kam.

6. Verdeel jou hare as jy kam

Ek verdeel my hare in as ek dit uitkam en ek maak seker dat ek genoeg tyd toestaan sodat ek nie haastig raak nie. So keer jy dat jy jou hare breek en jy neem jou tyd om dit mooi glad te maak, veral as jy krullerige of kroes hare het.

7. Slaap op sy of satyn

Kry ’n sy- of satyn-kussingsloop of bonnet om jou hare te beskerm, want jou hare is ook taamlik broos. Sekere materiaal kan wrywing veroorsaak en jou hare beskadig.  Ek slaap veral met ’n satyn-bonnet as ek my hare krullerig wil dra om my krulle te beskerm.

8. Sny gereeld

Sny jou hare een keer elke ses weke om groei aan te moedig en om gebreekte punte te verminder.

9. Wees versigtig vir te veel kleur

Ek gebruik nie kleur nie, of baie kleur op my hare nie, so as jy wel kleur, maak seker jy gebruik nie kleur wat te veel chemikalieë bevat nie, aangesien dit jou hare sal oorstimuleer.

10. Hittebeskerming is ’n moet

Ek is versigtig om nie te veel hitte op my hare te gebruik nie en ek gebruik altyd produkte wat dit beskerm teen hitte.

11. Oorweeg ’n spesiale behandeling om jou hare meer beheerbaar te maak

Ek het onlangs met GoldWell se Kerasilk-behandeling geëksperimenteer, wat ‘n tydelike behandeling is. Dit skep ’n tipe van ’n binding om jou hare se krul bietjie los te maak net sodat jy nie soveel hitte hoef aan te wend as jy jou hare reguit maak nie. Dit bewaar dus my natuurlike krul, maar dit maak dit ook bietjie sag. Dit is nie ’n permanente behandeling nie, so dit is iets wat oor ’n drie-maande tydperk hou.

12. Die bantoe-knoopmetode vir stywe krulle

As ek die dag lus voel vir ’n stywe krul, is die bantoe-knoopmetode een van twee tegnieke wat ek gebruik. Ek verdeel my hare in baie afdelings nadat ek dit gewas en behandel het. Dan maak ek klein bantoeknope en laat dit dan vir ’n paar uur droogword.  Wanneer ek dit losmaak, skei ek die hare (met my vingers) en dit word, soos ’n klein krul.

13. ’n Klein krultang werk ook goed

Die ander metode wat ek graag gebruik wanneer ek my hare krullerig wil dra, is om ’n klein krultang te gebruik. Ek gebruik dit om my hare te skei deur klein ringetjies te skep waarmee ek ook die hare kan skei en ‘n groot krulle maak. Hiermee saam gebruik ek natuurlik rojaal hittebeskerming.

14. Neem ’n blaaskans van stilering

Omtrent een keer per jaar, as ek regtig wil hê my hare moet ’n blaaskans kry, en om nie enige soorte hitte of manipulasie of net stilering te ervaar nie, laat sit ek ’n stel vlegsels in. Maar dit gebeur omtrent een keer per jaar. Dit is ook ideaal want dan hoef ek nie vir ‘n ruk soveel tyd aan my hare te spandeer nie. Jy kan maar net was en gaan.

15. Wees lief vir jou hare

Laastens, net om te leer lief te wees vir jou hare is die belangrikste ding.

As jy lief is vir jou hare, hanteer jy dit versigtig en kan jy dit in al sy toestande waardeer en nie oordeel nie.

Dit was vir my die grootse les; om my hare in al sy toestande te waardeer en dit nie te oordeel nie. Om my hare nie te laat probeer lyk soos iets wat dit nie is nie, en om dit net die sorg te gee wat dit verdien.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
reis skoonheid
Reisgrootte skoonheidsprodukte en oulike sakkies
error: Content is protected !!