Hier is ’n paar hoogtepunte (en ook wat ek geleer het) tydens ’n onlangs besoek aan Avène, en ander mooi dorpe/stede in Frankryk. Wat ’n ongelooflike ondervinding. Deur Suzanne Kotzé
’n Klompie jaar gelede, woon ek in ’n Avène funksie by, waar dr. Willie Visser, hoof van dermatologie by Tygerberg en ’n paar van sy kinderpasiente en hul ouers gepraat het. Die kinders het almal met erge atopiese ekseem gesukkel en is deur Avène na hulle hidro-terapiesentrum genooi vir behandeling. En die manier waarop die kindertjies en die ouers gepraat het, oor die verligting wat die behandeling gebring het, was werklik hartroerend. Dit was nog lank voor die dae van ‘manifesteer’, maar ek het vir myself gesê; dit is iets wat ek eendag sal wil beleef. En nooit sou ek kon dink dat ek ’n paar jaar later wel die geleentheid sou kry om nie net self ’n behandeling in die sentrum te kon kry nie, maar ook sien waar die hele wêreld se Avène produkte gemaak word.
Die dorpie Avène
Die klein dorpie Avène is in die Suide van Frankryk geleë. En dit is hier waar ’n markies van die area in 1736 agtergekom het een van sy perde het ’n velsiekte. Die perd het gereeld vanself gaan bad in die natuurlike fontein op sy land. Toe die markies die perd ’n paar weke daarna sien, was die perd se velsiekte weg. En dit is toe dat hulle ondersoek instel waar presies hierdie perd heen gegaan het. Later het hulle spesiale baddens gebou waar mense van die area kom week het om veltoestande te behandel.
Wat maak die water van Avène so spesiaal
Terwyl ons die Avène fabriek besoek en sien hoe die water wat reg onder ons deurvloei vanaf die berge wat ons omring, direk uit die ondergrondse bron in die Eau Thermale Avène spoeibottels geplaas word, besef ons dat hierdie water nie een keer aan lug blootgestel word todat jy dit oopmaak en aanspuit nie. So bly die water suiwer en daar is absoluut geen lugblootstelling nie.
Nadat die Avène vir nege jaar bestudeer is, het navorsers agtergekom dit bevat nie net ’n klomp minerale nie, maar ook ’n unieke eeuoue mikroflora (genoem Aquaphilus dolamiae) wat nêrens anders in die wêreld gekry word nie. Hierdie mikro-organisme produseer aktiewe stowwe wat anti-irritante kwaliteite het. En dit is juis as gevolg hiervan dat Avène so bekend vir hul produkte wat helend, strelend en nie-irriterend is vir sensitiewe vel en veltoestande soos atopiese ekseem en psoriase is.
Wat ek tydens ons velsensitiwiteitswerkswinkel geleer het.
Celia Guevara, hoof van Avène se velgesondheidsopvoedingswerkswinkels het ons meer geleer hoe om vir atopiese vel te sorg.
Voorsorg is beter as nasorg
Gereelde instandhouding en sorg is baie belangrik. ’n Daaglikse roetine van was (met ’n was wat geen kleurstowwe, sulfate of parfuum bevat nie) en bevogtiging is nodig.
Eau Thermale Avène is veel meer as ’n afkoelingsproei
In ons huis gebruik ons die sproei op warm dae, of ek spuit sommer kinders se ‘buie’ weg daarmee (Ek noem dit die betervoelsproei.) Ek hou ook een in my oefensak om my gesig mee te spuit om af te koel na oefening.
Ons het egter geleer mens kan dit ook vir die volgende gebruik:
Help vir jeuk
Hierdie een het ek eintlik geweet, maar daar is nou sommer op elke bedkassie een vir vel wat jeuk weens ekseem of muskietbyte.
Om ’n koue-kompres mee te maak
Vir vel wat sensitief en rooi is en lafenis nodig het/jeuk te verlig. Spuit ’n sneesdoekie met die water, plaas die sneesdoekie op die sensitiewe deel, druk liggies en sproei nog ’n lagie van die Eau Thermale Avène. Los dit vir 10 minute aan en verwyder.
Help jou room beter aansmeer
Hierdie het ek nooit geweet nie, en nou spuit ek my hele lyf en gesig met die water nadat ek klaar gestort het. Jou room gly behoorlik aan jou lyf en gesig.
Laat sonskerm minder taai voel
Kinders kla altyd dat sonskerm te taai voel. Deur eers te sproei en dan sonskerm aan te smeer, voel dit minder taai.
En dan laat dit vel natuurlik ook minder sensitief en geirriteerd voel.
Ons besoek aan die Station Thermale Avène (hidroterapie-sentrum)
Hierdie sentrum is nie ’n spa nie, maar ’n sentrum waar mediese veltoestande soos ekseem, psoriase, post-chemo-vel en selfs kopvel en mondsiektes behandel word met Avène se spesiale water.
Die sentrum is baie gewild in Frankryk, maar pasiënte van regoor die wêreld kom hierhien vir behandelings. Die dokters van die sentrum verkies ’n volledige mediese geskiedenis van die pasiënt om ’n behoorlike behandelingsplan uit te werk. ’n Tipiese behandelingsplan vir atopiese-ekseem-pasiënte, sal byvoorbeeld 3 weke wees met vyf behandelings daagliks. Hier word ook baie kinders behandel, en selfs babas so jonk as drie maande. Die ouers en kinders kry ook praktiese raad en opleiding oor hoe om vir die velle te sorg.
“Dit is werklik lewensveranderlik, vir veral mense met kinders wat sukkel met ekseem. Dit is gewoonlik ’n baie eensame siekte, en dit is so goed vir die pasiënte om nog mense/kinders te ontmoet wat ook soos hulle is,” vertel Elise Valette. “Ons post-chemo behandelings is ook besig om al hoe meer gewild te word, en benodig gewoonlik nie soveel sessies soos atopiese vel of ander veltoestande nie.”
Besoek aan Albi
Op pad van Avène na die Pierre Fabré hoofkantoor Les Cauquillous (net buite Toulouse) het ons die die mooiste dorpie, Albi, besoek. Die dertiende-eeuse dorpie is bekend vir die pragtige Sainte-Cécile katedraal, wat ’n Unesco wêrelderfenisgebied is. En behalwe die pragtige klein rooi geboue was die tuin en die katedraal binne ook besonders!
Ek het hierdie produkte gebruik tydens (en na) my Frankrykreis
My gesig het nie vir een dag droog (lang vlug) of rooi, sensitief of jeukerig gevoel nie. Ek het urticaria en jeuk dikwels vreeslik. Eau Thermale Avène, Soggens Hyaluron Activ B3 Day Cream, Saans Hyaluron Activ B3 Night Cream, Hyaluron Activ B3 Eye Cream, soggens Avène Vitamin Activ Cg Radiance Corrector Serum, saans Hyaluron Activ B3 Serum, bedags, Avène Ultra Fluid SPF50. (Ek is absoluut mal oor hierdie sonskerm! Dit brand nie my sensitiewe oë nie, en dit het ’n effense tint (’n universele skakering wat op almal van ons wat saam in Frankryk is, se verskillende velkeure werk, van lig tot donker). Dit gee ’n ‘blur’ effek, en jou vel lyk ook sommer meer eweredig en mooi glansend). Soothing Radiance Mask het ek op die vlugte gebruik.
Toulouse
Ons bring die aand in Toulouse deur en slaap oor by die pragtige Grand Opera hotel oor.
Die volgende oggend besoek ons die Pierre Fabre konsepwinkel Le lab.
Ons stop vir wynproe en middagete by die Pierre Fabre wynplaas Domaine d’En Ségur
Net langs die wynkelder is die Pierre Fabre Foundation. Ons leer onder andere oor die geskiedenis en al die liefdadigheidswerk wat hulle doen.
Domaine du Carla
Ons is bevooreg genoeg om in Domaine du Carla (in 1875 gebou) oor te bly. Die chateau is omring deur ’n 90 hektaar park met eeu oue bome. Wat ’n ongelooflike ervaring. Dit voel kompleet of jy in ’n (baie ryk) familielid se huis kuier.
Ons laaste aand (en natuurlik moes ons mooi aantrek!)
La Vitrine du Carla
Die volgende oggend stap ons deur die pragtige woud na La Vitrine du Carla, waar ons meer leer oor die besondere Pierre Fabre, apteker en botanikus, wat sy liefe vir plante en medisyne gekombineer het om medisyne van plante te maak. (Pierre Fabre is onder andere bekend vir kankermedisyne). Na sy opgang in die farmaseutiese wêreld het hy ook begin fokus op plantgebaseerde skoonheidsprodukte (onder andere Avène).
Ons het swaar afskeid geneem van ‘ons’ mooi huis en ons sommer verbeel ons is nou half Frans (kyk net die jasse!). Wat ’n ongelooflike ervaring wat ek altyd sal onthou.