Angstige troeteldiere; angstige eienaars?

Selfs ons troeteldiere is deesdae angstig. Ons gesels met veearts dr. Inelia Buys wat meer verduidelik oor angstige troeteldiere en die menslike verbintenis. Saamgestel deur Suzanne Kotzé

Angstige troeteldiere en die menslike verbintenis

Vearts dr. Inelia Buys verduidelik: “Angs is ’n algemene probleem by klein diere, veral honde en katte, en dit strek dikwels verder as bloot omgewingsfaktore of vorige trauma. Meer navorsing en waarneming wys op die sterk emosionele band tussen troeteldiere en hul eienaars as ’n bydraende faktor.

Ons diere, veral dié wat nou aan ons gebind is, kan emosionele spieëls word – ’n weerkaatsing van ons geestestoestand en innerlike spanning.”

Tekens van angstigheid by honde

“By honde kan angs sigbaar word deur oormatige blaf, destruktiewe gedrag of aanhangery, dikwels ontketen deur afsondering of skielike veranderinge in roetine,” sê dr. Inelia.

Anstige katte

“Katte, alhoewel meer onafhanklik, kan tekens toon soos onvanpaste urinering, wegkruip, oormatige versorging of skielike aggressie. Hierdie gedrag kan spruit uit vorige ervarings, soos verwaarlosing of mishandeling, maar ook uit die emosionele klimaat van die huishouding.”

Menslike gedrag en angstigheid by troeteldiere

“Menslike gedrag speel ’n deurslaggewende rol,” verduidelik dr. Inelia.  “Troeteldiere is hoogs intuïtief; hulle neem ons lyftaal, stemtoon en selfs subtiele veranderinge in ons roetines waar.

 ’n Angstige eienaar – miskien oorweldig deur stres, inkonsekwentheid of emosionele onstuimigheid – kan onbewustelik daardie angs oordra na sy of haar troeteldier. Op hierdie manier word ons diere ’n refleksie van ons innerlike toestand.”

“Vir troeteldiereienaars bied hierdie verbintenis ’n waardevolle geleentheid tot selfbewustheid en introspeksie. As ’n troeteldier tekens van angs toon, kan dit die moeite werd wees om eie gewoontes en emosionele gesondheid onder die loep te neem.

Deur ’n kalm, voorspelbare omgewing te skep en jou eie stresvlakke te bestuur, kan jy jou troeteldier se emosionele stabiliteit direk ondersteun.

Ondersteunende maatreëls vir angstige troeteldiere kan positiewe versterkingsopleiding, omgewingsverryking, feromoonterapie of veearts-geleide intervensies insluit. Een van die kragtigste hulpmiddels bly egter ’n kalm en emosioneel gebalanseerde menslike teenwoordigheid.

Uiteindelik gaan die versorging van ’n troeteldier nie net oor hul fisiese behoeftes nie—dit is ’n wedersydse emosionele verhouding.

Om bewus te wees van jou eie geestesgesondheid is een van die mees impakvolle maniere om jou troeteldier se emosionele welsyn te ondersteun.”

Pootpraktyk steek op kykNET ’n hand na ons dierevriende uit

As jy belangstel in troeteldiere, en hulle as deel van jou gesin sien, kyk gerus na die nuwe reeks, Pootpraktyd op kykNet. Die reeks, wat Saterdag 11 Oktober om 18:30 op DStv-kanaal 144 begin het, gee ’n unieke kykie agter die skerms van die bekende Valley Farm-dierehospitaal.

Die reeks word aangebied deur die hoog aangeskrewe veeartse dr. Tim Crafft en dr. Dean de Kock, wat hul passie, kennis en medemenslikheid gebruik om diere van alle soorte die beste moontlike sorg te gee. Pootpraktyk wys nie net die uitdagings van veeartsenykunde nie, maar ook die ongelooflike bande tussen mense en hul diere.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Ilse Klink
Ilse Klink, opgewonde oor haar nuwe rol en die nuwe generasie akteurs
error: Content is protected !!