Ons sien hulle oral: angstige kinders wat oorversigting en bekommerd is. Ons spreekkamers is vol ouers wat raad kom vra en wil weet: hoe help ek my angstige kind? Ouers, onderwysers en professionele persone is dit almal eens: hierdie generasie se kinders is beslis meer angstig as die vorige. Deur sielkundige Gerda Kriel
Ses redes waarom ons angstige kinders het
Om ons kinders optimaal te ondersteun en help, het ons nodig om die kernoorsake van angs by hulle te identifiseer. Hoewel elke kind se omstandighede en redes verskillend kan wees, is hier ses van die mees algemene redes waarom kinders vandag angs beleef.
1. Kinders spandeer te veel tyd in die teenwoordigheid van skerms

Skerms word deesdae gebruik om enige ongemak wat ’n kind beleef, te verwyder. Lang motorrit tydens die vakansie: kyk ‘n fliek op die tablet. Aandete by vriende wat nie kinders het nie: speel ’n speletjie op Ma se foon. Die restaurant neem lank om jou aandete te bring: kyk Youtube om jou aandag van die wag af te lei.
Ahoewel skerms ’n belangrike funksionele rol speel in vandag se lewe, is hierdie tipe gebruik besig om aan ons kinders die boodskap te stuur dat hulle nie ongemak KAN deurleef nie. En kom ons wees eerlik: groot dele van die lewe is ongemaklik, en ons behoort ons kinders eerder voor te berei op die hantering van ongemak, as dat ons hulle telkens daarvan probeer red.
Wenk
Probeer om jou kinders voor te berei vir verveeldheid en ongemak, deur met hulle daaroor te gesels voordat dit gebeur. Hou bordspeletjies, ’n pak speelkaarte, ’n potloodsakkie vol penne of potlode en papier byderhand, gereed om te gebruik wanneer jou kind dalk verveeld begin raak. So word verveeldheid ’n geleentheid vir jou kind om kreatiwiteit te ontwikkel.
2. Ons doen te veel vir ons kinders
’n Toenemende hoeveelheid ouers vertel dat hulle kinders nie meer huistakies het nie. Hulle beddens word vir hulle opgemaak, hulle kos agter hulle aangedra, en hulle leef in huise asof dit vyfsterverblyf is. Wanneer ons nie vir ons kinders take gee nie, ontwikkel hulle dikwels nie die deursettingsvermoë wat nodig is om selfvertroue te ontwikkel nie. Die afwesigheid van huistakies klink dalk luuks, maar studies dui aan dat kinders wat wel huistakies moet doen, ’n groter gevoel van behoort ervaar, en ook beter toegerus voel vir die lewe.
Wenk
Kinders kan van so klein as twee jaar oud af ouderdomstoepaslike huistakies doen, soos klere in die wasmandjie gooi. Begin jonk, en hersien jaarliks die toepaslikheid van take en pas die verantwoordelikhede gereeld aan. Huistakies is ’n wonderlike manier om jou kind belangrike lewensvaardighede (soos wasgoed was) te leer.
3. Ouers voel self onder druk
Kinders word direk beïnvloed wanneer hulle ouers onder druk of stres verkeer, selfs al praat die ouer nooit daaroor nie. Dit kan ’n kind baie onseker laat voel wanneer dit nie met ’n ouer goed gaan nie, en onbewustelik absorbeer die kind die idee dat, as hulle ouers nie probleme kan hanteer nie, kan hulle ook nie.
Wenk
Dis belangrik dat jy self jou geestesgesondheid evalueer en aanspreek. En ja, jy mag eerlik met jou kind wees wanneer jy sukkel! Soms glo ouers hulle moet altyd sterk wees, maar wanneer ouers met hulle kinders eerlik is daaroor wanneer hulle deur stresvolle tye gaan, en dan vir die kind wys hoe hulle die uitdagings oorkom, stel hulle vir die kind ’n voorbeeld oor hoe om uitdagings te oorkom.
4. Kinders word te veel beskerm

Jy ken dalk die term “helikopter-ouer”, maar het jy al gehoor van ’n “stootskraper-ouer”? Dit verwys na ouers wat hulle kinders se uitdagings uit die weg ruim sodat die kind nooit met probleme hoef te sukkel nie, omdat die ouer dit vooraf reeds vir hulle opgelos het.
Of ouers is bang dat kinders risiko’s neem (soos boomklim of foefie-slide) omdat hulle bang is die kind kry dalk seer. Hierdie ouderdomstoepaslike risikogedrag kan moontlik tot beserings lei, maar in die afwesigheid daarvan ontwikkel kinders wat nie weet hoe om moeilike uitdagings te oorkom nie en wat in die teenwoordigheid van uitdagings eerder wegskram as volhard. Dit dra by tot angs in ’n kind omdat hulle nie selfvertroue ontwikkel nie.
Wenk
Moedig jou kind aan om hulle fisieke grense te toets! Laat hulle boomklim en aan touswaaie swaai, en moenie elke moontlike uitdaging uit hulle weg ruim nie. Dis belangrik vir kinders om risiko’s te neem en probleem-oplossend te dink, sodat hulle, wanneer hulle in die regte lewe uitdagings in die oog staar, die vermoë het om planne te beraam wat hulle uit die probleme kan kry.
5. Kinders sit te veel
Kinders spandeer langer ure as ooit in ’n sittende posisie, wat bydra tot die belewenis van angs. Wanneer kinders beweeg (grootmense eintlik ook) stel die kontraksie van spiere serotonien en dopamien vry. Dit help kinders ook om aan opgeboude frustrasie uiting te gee en te verwerk en kan ’n wonderlike manier wees om stres te ontlaai sonder dat jy die woord stres eens hoef te noem.
Wenk
Maak seker dat jou kind daagliks minstens vir ’n uur buite speel of rof speel binne. Soos wat hulle proprioseptiewe en interoseptiewe terugvoer van hulle liggame kry, verwerk hulle moeilike emosies en gebruik hulle hulle liggame om stres te ontlaai, wie weet – dalk leer jy selfs iets by hulle!
6. Ons kinders eet te veel verwerkte kosse
Meer en meer studies word vrygestel oor die impak van kos op geestesgesondheid. Die meeste kosse wat vir kinders bemark word, is hoogs verwerk en bevat hoë vlakke suiker en preserveermiddels. Ons weet dat verwerkte kosse kinders se mikrobioom kan beskadig, wat kan lei tot verskeie gemoedsteurings – onder andere angs. Genoeg water is ook noodsaaklik om jou kind se liggaam en brein optimaal te hidreer.
Wenk
Berei waar moontlik self jou gesin se kos, met ’n fokus op vars groente, proteïne en vrugte. Hoe minder produkte jy uit ’n pakkie

Gerda Kriel is ’n kliniese sielkundige wat in Somerset-Wes praktiseer. Besoek gerus haar webwerf helderbergpsychology.com