Min mense vertel jou dat jou dertigs en veertigs die jare is wanneer jou skoonheidsroetine ’n behoorlike opgradering nodig het. Die truuks wat in jou twintigs gewerk het, doen skielik nie meer die ding nie. Van oormatige afskilfering tot die oorslaan van sonskerm op bewolkte dae, hierdie onskuldige foute kan mettertyd jou vel se glans steel. Van produkte wat jy ontgroei het tot stappe wat jy dalk mis, ons deel 11 algemene skoonheidsfoute wat vroue (veral in hul 30’s en 40s) gereeld maak … maak jy dalk een van hulle? Deur Justine Kroes
11 Skoonheidsfoute in jou 30’s en 40’s
1. Jy hou steeds by jou 20’s se velsorgroetine
Namate ons ouer raak, neem die produksie van kollageen af, jou vel se sperfunksie verswak en jou vel benodig meer hidrasie.
Die velsorgroetine wat jy vroeër jare gevolg het, het moontlik nou een of twee ander stappe nodig. Jou velsorgroetine in jou 30’s en 40’s het die volgende bestanddele nodig: peptiedes, seramiedes en hialuroonsuur vir hidrasie en om die vel op te plomp. Retinol is belangrik vir eweredige vel en om fyn plooie te versag.
Fokus op produkte met aktiewe bestanddele wat hard werk om jou vel te voed, hidreer en te beskerm.
2. Om nie daagliks sonskerm te dra nie
Ons is self skuldig hieraan! Jy mag dalk dink “ag wat maak dit saak as ek ’n dag van sonbeskerming mis”, onthou UV- beskadiging bou op oor tyd en die resultaat: hiperpigmentasie, fyn lyntjies en ’n oneweredige veltekstuur begin nou wys.

Gebruik eerder daagliks ’n sonskerm met ’n SBF van 30 of hoër (ja, selfs as dit bewolk is). As jy nie daarvan hou om sonskerm en onderlaag saam te dra nie, probeer gerus ’n getinte bevogtiger vir ’n natuurlike glans en ligte dekking.
3. Jy neem nie jou slaap en stresvlakke ernstig op nie
Hoë vlakke van kortisol (streshormoon) veroorsaak inflammasie in jou liggaam, Dit affekteer nie net jou geestesgesondheid nie, maar ook jou fisieke gesondheid en daarby jou voorkoms. Moenie slaap en stres ignoreer as skoonheidsfaktore nie.

Fokus op asemhaling, rus en eet magnesiumryk kosse. Volg roetines wat stres en angs verminder soos byvoorbeeld skermvrye aande.
4. Jy dra steeds dieselfde grimering as in jou 20’s
Jy dra grimering wat huidiglik onvleiend op jou lyk, onthou jou veltekstuur en ondertoon verander subtiel met tyd.
Swaar matte grimering en die gebruik van poeier gaan sit in al die fyn lyntjies wat dit eintlik net meer opsigtelik maak.
Jy dra dalk ook steeds dieselfde lipstiffie skakering – probeer gerus ’n nuwe skakering vir ‘n varser voorkoms.

Kies eerder ligte, hidrerende onderlaag, room oogskadu’s en blosser, hierdie tipe produkte laat vel glansend en jonger voorkom. Vermy swaar donker oë, gee eerder ligte definisie om die oë en wenkbroue vir ‘n natuurlike vars voorkoms.
5. Jy dra steeds dieselfde haarstyl
Jou haarstyl is een voorkomselement wat jou dadelik ouer of dated kan laat voorkom. Vroue is geneig om die haarstyl te dra van die tydperk in hul lewe waar hulle die gelukigste was … dink daaroor!

’n Verandering is soms nodig, onthou jou gewig, gesigvorm en haardigtheid verander met tyd. Besoek ’n professionele stilis wat ’n eerlike konsultasie sal doen met haarstyl voorstelle,
6. Jy vergeet van jou nek en bors area (décolletage)
Jou nek en bors is een van die areas op jou lyf wat heel eerste tekens van velveroudering wys. Die kombinasie van gereelde sonblootstelling en tech neck (gereelde gebruik en afkyk na jou foon) maak velveroudering op jou bors en nek ’n belangrike skoonheidsstap wat jy nie meer kan ignoreer nie.

Onthou om jou sonskerm, vogroom en retinolprodukte ook op jou nek en bors aan te wend vir ’n egaglige, jonger voorkoms.
Onthou jou gesig stop nie by jou ken nie, dieselfde velreëls en stappe hoort te geld vir jou nek en bors area ook.
7. Jy gebruik te veel produkte
Jou 9 stap velsorgroetine het dalk goed gewerk in jou 20’s, maar vir jou 30’s en 40’s is dit belangrik om te onthou jou vel is dalk meer geneig tot sensitwiteit en kan reaktief wees teenoor die gebruik van ’n klomp verskillende produkte saam. Om te veel aktiewe bestanddele saam te gebruik kan irritasie veroorsaak.

Hou jou roetine eenvoudig en wissel eerder jou aktiewe bestanddele af. Gebruik sagte formules en produkte wat dalk vir sensitiewe velle geformuleer is.
8. Jy gee nie aandag aan hormoonveranderinge nie
Jou hormone speel ’n baie groter rol in jou vel as wat jy dink.
Estrogeen en progesteroon, die twee “glans”-hormone, begin in jou 30’s meer wissel, wat jou vel se hidrasie en kollageenvlakke beïnvloed. Die gevolg? ’n Vel wat effens droër voel, minder glans het, en soms puisies op dieselfde plekke wat jy gedink het jy agtergelaat het in jou twintigs.
Teen jou 40’s daal estrogeenvlakke namate perimenopouse begin. Kollageen en elastien, die boustene vir ’n gesonde gladde en glansende vel, neem vinniger af, wat lei tot fyn lyntjies, minder fermheid en droë areas.
Die beste benadering? Werk saam met jou hormone, nie teen hulle nie. Fokus op bestanddele wat jou vel se beskermingslaag herstel (soos keramiede, peptiede en hialuroonsuur), gebruik daagliks sonskerm, en ondersteun kollageenproduksie met aktiewe produkte soos retinol of vitamien C.
Lees gerus: Peri-menopouse, tekens, mites en bestuur
9. Jy vergeet van jou hande en lippe

Jou hande en lippe is twee areas wat baie vinnig elastisiteit en volume verloor, ’n skoonheidsroetine stap wat maklik vergeet word.
Leer jouself die gewoonte aan om by jou lessenaar, langs jou bed en in jou kar gereeld handeroom (met sonskerm!) aan te wend, sommer ook ’n hidrerende lipsalf wat lippe hidreer en opplomp.
10. Jy besoek nie ’n salon nie
Ons glo goeie tuissorg is uiters belangrik, hoewel daar natuurlik ook ’n plek is vir professionele behandelinge. Hoe vroeër jy begin met sekere velsorgbehandelinge hoe makliker bly dit om jou vel gesond en glansend te laat lyk.

Velkenners behandel die dieper lae van die vel wat ons nie noodwendig tuis self sal regkry nie. As jy eers na 40 begin is voorkoming moeiliker.
Oorweeg gerus salonbehandelings soos byvoorbeeld Mikronaaldterapie om kollageen- produksie te ondersteun en veltekstuur te verbeter.
11. Jy gee nie aandag aan jou lyf nie
Die vel op jou arms, knieë en bene word mettertyd dunner en droër, nes die vel op jou gesig.

Gebruik gereeld produkte wat jou vel behoorlik afskilfer, gebruik ook gereeld ’n droë borsel vir ’n gladder, fermer vel. En moet nie vergeet om jou lyfroom gereeld aan te wend nie!





