Aandag bruide, pasop vir hierdie 5 foute

Het jy dalk onlangs verloof geraak en beplan jy jou groot dag? Dalk is jou sussie of vriendin binnekort ’n bruid – stuur gerus vir hulle hierdie artikel aan. ’n Bekende trourokontwerper deel met ons die grootste foute wat sy bruide al sien maak het PLUS 5 van haar beste praktiese wenke om die regte rok te kies. Vermy hierdie algemene foute en jy sal daardie glansryke, gemaklike bruid vol selfvertroue wees wat jy nog altyd wou wees. Saamgestel deur Justine Kroes

13/10/2023

Bruide, pasop vir hierdie 5 foute

Bekende trourokontwerper Janita Toerien het deur die jare van ontwerp en troues bywoon hierdie belangrike advies bymekaargemaak om met toekomstige bruide te deel:

1. Ongemaklike skoene

Mooi skoene hoef nie noodwendig seer voete te beteken nie. Onthou jy gaan heeldag (en aand) lank op jou voete wees wanneer jy dans en rondstaan om met al jou gaste te gesels. Kies eerder gemaklike én mooi skoene wanneer jy jou trouskoene kies. Dink ’n bietjie daaroor, onthou jy enige van die bruide se skoene toe jy laas by troues was? Nie nie so gedink nie! sê Janita.

2. Onderklere dilemma

Moenie toelaat dat ongemaklike en onpraktiese onderklere jou ongemaklik laat voel nie. Kies eerder onderklere wat gemaklik sit as om heel aand ongemaklik te voel met die onderklere wat jy aan het. Dit sal wys!

3. Grimering

Jou troudag is beslis nie die dag om ’n drastiese haar- en grimeringtransformasie te ondergaan nie. Kies eerder ’n haar- en grimeervoorkoms wat jou naturlike skoonheid die beste beklemtoon, om soos ’n weergawe van die mooiste jy te lyk en te voel verduidelik Janita.

4. Mismatched styl

Jou trourok behoort jou persoonlikheid te weerspieël, moenie ’n styl kies wat nie met jou resoneer of by jou aanklank vind nie, sê Janita. Hou jou stylpersoonlikheid en wat jy elke dag dra in gedagte wanneer jy jou trourok kies. Is jou alledaagse styl meer romanties vol patrone en kant of hou jy daarvan om soliede skakerings en skoon lyne te dra? Jou persoonlike styl behoort in lyn te wees met jou trourokstyl.

5. Prakties is belangrik

Dink goed na oor hoe prakties jou rok is, neem byvoorbeeld die seisoen in ag, waar jy gaan trou asook die gewig en grootte van die rok vir ’n dag vol moeitelose elegansie. Vere in die somer? Nee, te warm! Kralewerk van kop tot tone? Dit is swaar! sê Janita.

Hier is 5 praktiese wenke om in gedagte te hou wanneer jy ’n rok kies

Janita sê “wanneer dit kom by ’n droomrok kies, gaan dit nie net oor hoe die rok lyk nie, maar ook hoe prakties die rok is” hier is ’n paar wenke om seker te maak jy kies prakties reg ook:

1. “Aisle” vriendelike rok

Het jy al gedink oor die wydte van jou rok vir wanneer jy by die gangetjie na jou toekomstige man gaan afloop? Janita sê dit is iets waarvan bruide gereeld vergeet. “Die pragtige wye rok lyk asemrowend so uitgesprei, maar die rok sal al sy glans verloor as dit in ’n nou kerkgangetjie ingedruk word. Boonop nog meer so as iemand met jou by die gangetjie afstap.

2. Heildronke en drukkies

Kan jy jou arms gemaklik oplig in jou rok, daai glasie sjampanje in die lug hou vir spesiale heildronke? En kan jy jou arms lig om gaste te omhels vir ’n drukkie. Jy wil hierdie aksies gemaklik kan doen en nie staties rondstaan omdat jou rok dit nie toelaat nie, verduidelik Janita.

3. Badkamerbreke

Beplan vooruit vir badkamerbreke – volume is hier nie die enigste probleem nie, die noupassende, stywe rokke is soms dalk nog moeiliker. Gaan jy elke badkamerbreek die styfpassende rok se ritssluiter moet oopskuif? Neem hierdie in ag wanneer jy jou ontwerp kies.

4. Sit sit so

Janita sê “Een van die belangrikste praktiese elemente waarvan bruide vergeet, is of jy gemaklik tydens die onthaal in jou rok sal kan sit. Druk die rok dalk op vreemde plekke, voel dit ongemaklik? En sal jy kan eet?!

5. Bustle towerkuns

’n Bustle verwys na die slim plan wat ontwerpers gebruik om ’n rok se sleep op te lig en binne aan jou rok op te trek en vas te maak sodat jy gemaklik kan rondbeweeg en dans. Hou hierdie opsie in gedagte indien jy ’n dramatiese sleep wil hê vir foto’s en jou seremonie, maar steeds gemaklik wil kan rondbeweeg die res van die aand.

Janita Toerien

Janita Toerien ontwerp al vanaf 2009 unieke en stylvolle bruideskeppings, volg vir Janita hier om meer te sien.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
blomme
Dra blomme só (as jy nie van patrone hou nie)
error: Content is protected !!