Jou boekrak is deesdae veel meer as ’n stowwerige opgaarplekke vir boeke; dit is dikwels ’n fokuspunt in leefvertrekke en het ’n uitstalruimte vir mooi goed ook geword. Hier is wenke vir verskillende dekorstyle; van minimalisties tot maksimalitsties, klassiek en tradisioneel. Deur Suzanne Kotzé.
7 Boekrak en uitstalwenke
Kalinka Lombard van The Home Collective deel wenke oor hoe om jou boeke en mooigoed te kombineer, sonder dat dit te besig en vol word.
1. Besluit op ’n kleurskema.
Pak boeke uit wat mooi inpas by jou kleurpalet en dekor sodat dit die vertrek waarin dit is, die beste komplementeer.

2. Meng en pas
Meng en pas dekor en boeke. Meng jou mooiste boeke met kershouers, rame met kuns en of blompotte.
3. Speel met vorms
Stapel jou boeke bo-op mekaar of langs mekaar in rye en bou ’n mooi estetiese prentjie.

Gebruik boekstaanders tussenin. Los genoeg spasie of “breathing space” tussen die stapels boeke. Onthou dat groter en swaarder boeke beter sal lyk op die onderste rakke.
4. Wees kieskeurig
Moenie voel dat jy elke boek wat jy besit op die rak moet sit nie. Kies die wat spesiaal is, mooi rûe het of inpas by jou kleurskema.
5. Volg die reël van ongelyke getalle.

Stileer goed op jou rakke in drie, vyf of sewe groepies of items. Bv. die boonste rak het drie items en die volgende rak het vyf. Onthou ook dat elke individuele rak gebalanseerd moet wees. Staan vêr genoeg terug en bekyk die hele prentjie sodat alles mooi saamwerk.
6. Sit plante by
Bring lewe na jou rak deur plante tussenin te sit. Dink aan plante soos Heartleaf Philodendron of Strings of Pearls , wat mooi afrank by rakke.

7. Die reënboogmetode bly gewild
As jy baie boeke het op jou rakke bly The Home Edit se reënboogmetode van dieselfde kleure boeke saam groepeer, steeds baie gewild.

Pst: Deesdae is dit ook ’n gier om jou boeke verkeerdom te gebruik, met hulle rugkante na agter. ’n Mens doen dit veral om ’n neutrale, minimalistiese gevoel te skep. Jy kan dit doen as van jou boeke se rugkante of stofomslae dalk seergekry het, maar as boekliefhebbers is hierdie beslis nie iets wat ons voorstaan nie.
Jou boekrak en jou dekorstyl
Van kalm minimalisme tot maksimalisme, die manier waarop jy boeke en dekoratiewe items rangskik, kan die voorkoms en gevoel van jou ruimte onmiddellik verander. Hier is ’n paar gewilde dekorstyle en hoe om boekrakke te stileer om daarby te pas.
Minimalistiese styl
Minimalistiese dekor is sinoniem met eenvoud en kalmte. Wanneer jy ’n boekrak vir hierdie voorkoms stileer, is minder beslis meer. Kies ’n klein verskeidenheid boeke en ’n paar sorgvuldig gekose voorwerpe. Stapel ’n paar boeke horisontaal en laat ruim oop ruimte om ’n oorvol voorkoms te vermy. Neutraal-kleurige keramiek, ’n klein plantjie of ’n eenvoudige beeldhouwerk sal die skoon estetika komplementeer.





Klassieke of tradisionele styl
’n Tradisionele boekrak voel dikwels warm en elegant. Rangskik boeke netjies in vertikale rye en meng dekoratiewe boekstutte, geraamde foto’s of tydlose voorwerpe soos koper-kandelare en porseleinstukke in. Hardebandboeke met pragtige ruggrate voeg karakter by. Simmetrie werk dikwels goed in klassieke interieurs, so probeer om voorwerpe oor die rakke te balanseer.




Moderne styl
Moderne dekor het duidelike, opstigtelike elemente wat met intensie gerangskik is. Probeer boeke volgens kleur of grootte groepeer vir ’n treffende visuele effek. Kombineer vertikale en horisontale stapels en voeg kontemporêre dekorstukke soos geometriese vase, abstrakte beeldhouwerke of kunswerke by wat teen die agterkant van die rak leun.




Natuurlike styl
Vir ’n ontspanne, lugtige voorkoms, hou rakke lig en organies. Gebruik natuurlike materiale soos geweefde mandjies, houtvoorwerpe of glasstukke. Boeke in sagte neutrale kleure help om die kalm palet te handhaaf. Sit ’n plant by vir varsheid en tekstuur.





Maksimalistiese / dopamien styl
Maksimalistiese of dopamien-dekor vier kleur, persoonlikheid en vreugdevolle oorvloed. Boekrakke in hierdie styl is energiek en ekspressief. Rangskik boeke volgens duidelike kleure, meng speelse dekor, geraamde afdrukke, kleurvolle blompotte en persoonlike skatte in. Moenie bang wees om tekstuur en kleur te meng nie. Die doel is ’n speelse, energieke uitstalling wat vreugde bring.

























