Jou boekrak is deesdae veel meer as ’n stowwerige opgaarplekke vir boeke; dit is dikwels ’n fokuspunt in leefvertrekke en het ’n uitstalruimte vir mooi goed ook geword. Kalinka Lombard van The Home Collective deel wenke oor hoe om jou boeke en mooigoed te kombineer, sonder dat dit te besig en vol word. Verwerk deur Suzanne Kotzé
10/03/2023
7 Boekrak en uitstalwenke
1. Besluit op ’n kleurskema.
Pak boeke uit wat mooi inpas by jou kleurpalet en dekor sodat dit die vertrek waarin dit is, die beste komplementeer.
2. Meng en pas
Meng en pas dekor en boeke. Meng jou mooiste boeke met kershouers, rame met kuns en of blompotte.
3. Speel met vorms
Stapel jou boeke bo-op mekaar of langs mekaar in rye en bou ’n mooi estetiese prentjie.
Gebruik boekstaanders tussenin. Los genoeg spasie of “breathing space” tussen die stapels boeke. Onthou dat groter en swaarder boeke beter sal lyk op die onderste rakke.
4. Wees kieskeurig
Moenie voel dat jy elke boek wat jy besit op die rak moet sit nie. Kies die wat spesiaal is, mooi rûe het of inpas by jou kleurskema.
5. Volg die reël van ongelyke getalle.
Stileer goed op jou rakke in drie, vyf of sewe groepies of items. Bv. die boonste rak het drie items en die volgende rak het vyf. Onthou ook dat elke individuele rak gebalanseerd moet wees. Staan vêr genoeg terug en bekyk die hele prentjie sodat alles mooi saamwerk.
6. Sit plante by
Bring lewe na jou rak deur plante tussenin te sit. Dink aan plante soos Heartleaf Philodendron of Strings of Pearls , wat mooi afrank by rakke.
7. Die reënboogmetode bly gewild
As jy baie boeke het op jou rakke bly The Home Edit se reënboogmetode van dieselfde kleure boeke saam groepeer, steeds baie gewild.
Pst: Deesdae is dit ook ’n gier om jou boeke verkeerdom te gebruik, met hulle rugkante na agter. ’n Mens doen dit veral om ’n neutrale, minimalistiese gevoel te skep. Jy kan dit doen as van jou boeke se rugkante of stofomslae dalk seergekry het, maar as boekliefhebbers is hierdie beslis nie iets wat ons voorstaan nie.