As jou naels papierdun voel, maklik breek of skeur is dit gewoonlik ’n teken dat jou naels ’n tikkie ekstra sorg benodig. Hier is die goeie nuus; ’n paar konsekwente gewoontes, slim produkkeuses en beskerming kan die toestand van jou naels transformeer.
Of jy graag jel-mani’s of ’n skoon naelvoorkoms verkies (of dalk val jy iewers tussenin), is gesonde naels altyd die einddoel. Hier is 9 wenke vir sterker, gesonder naels. Deur Justine Kroes
9 Wenke vir gesonde, sterker naels

1. Hidreer, hidreer, hidreer!
Nes jou vel, benodig jou naels ook vog en hidrasie om sterk en veerkragtig te bly. Droë naels is geneig om makliker te breek, kraak en skeur.
Hou hande en naelvliesies gehidreer met ’n naelvliesolie en handeroom. Kies produkte wat hidrerende bestanddele bevat soos vitamien E, amandelolie en hialuroonsuur.
Wenk: hou jou naelvliesolie en handeroom op ’n plek waar jy weet jy gereeld vir ’n tydjie lank stil sit, soos byvoorbeeld in jou kar, of langs jou rekenaar. Drup ’n paar druppels olie aan jou naelvliesies terwyl jy in die verkeer sit.
Pssst; hierdie naelvleisolie aanverf”penne” verseker minder mors en maklik aansmeer:
2. ’n Gereelde manikuur
Nee jy hoef nie altyd ’n salonafspraak te maak vir ’n manikuur nie, dit is iets wat jy sommer tuis kan doen. Onthou om goeie naelsorg toe te pas vir jou tuis-manikuur;
Vyl naels in een rigting om gesplete naels te voorkom;
Druk saggies jou naelvliesies terug en wees versigtig wanneer jy hul knip.

Pamperlang jou hande en naels en skilfer goed af en probeer ‘n handmasker tuis:
Dink aan jou naelsorg soos velsorg, maar vir jou hande. Goeie, daaglikse rituele en gewoontes wat oor ’n tydjie ’n duidelike verskil sal maak.
3. Ruil jou naelvyl vir ’n glas naelvyl
’n Glas (of kristal) naelvyl is baie sagter op jou nael se rand as gewone emery board styl naelvyle.
Voordele daarvan om ’n glas naelvyl te gebruik:
Seël die keratien lagie en randjie op die bopunt van jou nael. Hierdie verhoed gesplete naels.
Die glasvyl werk ook gladder en meer presies, en laat jou toe om meer beheer uit te oefen met die vyl van jou naelvorm.
’n Glas naelvyl hou langer omdat dit nie maklik deurvyl nie, as jy mooi na jou glasvyl omsien kan dit jare lank hou wat dit ’n eko-vriendelike keuse maak.
Jou glas naelvyl is ook meer higiënies en maklik om skoon te hou.
4. Probeer ’n versterkende basislaag
Selfs al dra jy nie graag gekleurde naellak nie, oorweeg dit om ’n nael versterkende basislaag op jou naels aan te wend. Hierdie basislaag voed en hidreer naels met keratien en vitamienes en beskerm boonop jou nael se oppervlak. Die lagie kan ook verseker dat jou naels goed vog behou en nie uitdroog nie.
Sien hierdie as die ideale kleurlose behandeling wat jy tussen naellak of jel kan aanwend vir sterker naels.
Dit mag dalk soos ’n duur kopie voel, maar die produk hou lank. Ons gunstelinge sluit OPI Nail Envy en Mavala Mava Strong.
5. Wend ’n sonroom aan jou naels en hande aan
Wend daagliks ’n sonroom aan jou hande en naels ook. UV strale beskadig nie net jou vel nie maar jou naels ook. Veral as jy daagliks baie rondrits in die kar met jou hande op die stuurwiel direk in die son geplant.
Wenk: Die maklikste manier om hierdie ’n gewoonte te maak, is om ’n handeroom te kies wat ’n sonbeskermingsfaktor bevat. Wend gereeld deur die loop van die dag aan en na elke handewassessie.
6. Werk saggies met jou naels
Moet nie jou naels as gereedskap gebruik om moeilike blikkies oop te maak of plakkers af te skraap nie (ons sien jou!).

Jel en akriel naels lyk wonderlik, maar onthou dit kan jou naels breek en verswak as dit nie reg aangewend of verwyder word nie. As jy jou jelnaels gaan aftrek, kan jy moontlik lae van jou eie nael daarmee saam aftrek.
Besoek altyd ’n kundige naeltegnikus vir die veilige verwydering van jelnaels.
Gee ook elke nou en dan vir jou naels ’n ruskans tussendeur jou jel-mani afsprake.
Onthou, as jy ’n kleur naellak aanwend – dra altyd ’n basislaag om te verhoed dat jy jou eie nael vlek.
7. Eet hierdie vir sterker naels
Versterk naels van binne, jou dieet kan ’n impak hê op jou naels se toestand, voeg die volgende by jou bord kos vir sterker naels;
Kosse ryk aan biotien – eiers, amandels, soetpatats.
Proteïene om keratienproduksie te verhoog
Sink en omega-3’s om jou naelstruktuur te ondersteun.
8. Beskerm daagliks jou hande en naels
Skoonmaakprodukte, handontsmettingsmiddels en gereelde blootstelling aan water kan oor tyd jou naels se gesondheid verswak.
Dra handskoene wanneer jy skottelgoed was, tuinmaak of huis skoonmaak.
Onthou, wend ’n hidrerende handeroom aan elke keer na jy jou hande gewas het; glo ons hierdie gewoonte maak ’n reuseverskil aan jou naels se gesondheid.

9. Hou altyd ’n naelvyl byderhand
’n Nael wat haak of effens geskeur het, kan groter breuke of skeure veroorsaak. Hou ’n mini naelvyl in jou handsak ingeval jy jou nael beskadig.
Dink aan jou naelsorg soos velsorg, maar vir jou hande. Goeie, daaglikse rituele en gewoontes wat oor ’n tydjie ’n duidelike verskil sal maak.















