Voel jou hare dalk die laaste ruk droër as gewoonlik? Ons het ’n haarstilis gevra en sy verklap die 9 mees algemene oorsake van droë hare en hoe om jou droë hare te versorg. Deur Justine Kroes
23/02/2024
9 Oorsake van droë hare
1. Jy was jou hare te gereeld
Om daagliks hare te was, stroop jou hare (en kopvel) van enige natuurlike olies, hierdie olies is noodsaaklik vir ’n gesonde kopvel en so ook bevogtigde hare, verduidelik Tarryn Heydenrech, haarstilis en eienaar van Soul Salon in Durbanville, Kaapstad. “As jy die palm van jou hand plat teenaan jou kop sit, is dit omtrent hoe ver jou naturlike olies strek. Daarom dat jou mid-lengtes tot punte van jou hare gewoonlik droër is as dié nader aan jou kopvel.
Probeer om eerder elke tweede of derde dag hare te was om seker te maak jou natuurlike olies doen die werk wat dit moet.
2. Kleurbeskadigde hare
Hierdie is ’n algemene oorsaak van droë hare: die oorgebruik of verkeerde gebruik van haarkleur of chemikalieë op hare beskadig die die haarvliesie of eerder die buitenste beskermende lagie van die haar. Hierdie buitenste lagie is noodsaaklik om die vog binne jou hare te hou, maar as die lagie beskadig word is dit moeilik om hare te beskerm en te bevogtig.
Haarkleur het beslis ’n impak op die vogvlakke van jou hare, sê Tarryn, wanneer jy hare kleur is dit belangrik om af te wissel tussen haarwortels kleur en die volgende keer die kleur deur te trek tot op jou punte. Wissel hierdie metode haarkleur na haarkleur af. Hierdie is ook belangrik vir vroue wat sonstrepies doen.
Haarstiliste hoort deesdae ook behandelings soos Olaplex of Fibrefix by jou kleur in te meng as hul sien jy sukkel met droë hare. Dit sal verseker dat die kleur nie jou hare verder uitdroog nie.
3. Jy oorgebruik hittestileerders
Probeer om nie elke dag ’n warmstileerder soos ’n haardroër, haaryster of krultang te gebruik nie, die oorgebruik van hierdie warmstileerders beskadig nie net jou hare nie, maar laat jou hare droog en vaal lyk.
Let ook op na die temperatuur van jou stileerder, ideaal nie bo 160 grade nie.
“dit is baie belangrik om seker te maak jou hare is droog voordat jy met jou krultang of haaryster begin werk, anders sal jy jou arme nat hare verskroei tussen jou haaryster se plaatjies”.
Probeer ook alternatiewe haarstileermetodes soos die nuwe “heatless curl method” of laat jou hare partykeer natuurlik droog word om dit ’n ruskans te gee, is Tarryn se raad.
4. Jy gebruik nie hittebeskerming nie
Indien jy gereeld ’n haardroër, haaryster of ’n krultang gebruik, is ’n goeie kwaliteit hittebeskerming ’n moet, sê Tarryn. Onthou om jou hare goed te verdeel en seksie vir seksie aan te spuit anders spuit jy die produk net op jou haarpunte of bo-op jou hare.
Hier is van ons gunstelinge om te gebruik:
5. Jy beskerm nie teen UV strale en besoedeling nie
Glo dit of nie, maar jou hare (nes jou vel), kan beskadig word weens oormatige sonblootstelling asook blootstelling aan besoedeling. Selfs al kan ons nie die strale of besoedeling met ons eie oë raaksien nie, sê Tarryn, is dit steeds belangrik om te beskerm daarteen.
Dink aan jou hare as soortgelyk aan ’n vlieëvanger wat stof en besoedeling versamel, hierdie het ’n groot impak op ons hare se vogvlakke.
Tarryn Heydenrech
Son, see, swem en sweet kan alles bydra tot droë hare. Die sout in sweet en seewater kan ’n direkte uitdroogeffek op jou hare hê, en daarby UV en sonbeskadiging ook.
Probeer ’n UV-beskermende haarproduk of los ’n bietjie opknapper in jou hare wanneer jy weet jy heeldag gaan swem.
Hierdie sproeie beskerm teen uv strale, sout en seewater asook besoedeling:
6. pH van jou water
Tarryn verduidelik die pH-vlak van jou water kan moontlik droë hare veroorsaak. Die ongebalanseerde pH van jou water kan ook die oorsaak wees dat jou haarkleur vaal en vinniger uitgewas lyk en nie hou soos dit moet nie.
Daarom beveel ek graag ’n aanbly-opknapper aan – ’n masker werk goed, maar dan spoel jy dit weer met jou ongebalanseerde pH water af – met ’n aanbly-opknapper is dit nie nodig vir afspoel nie en jy weet jou hare sal bevogtig bly.
Probeer ’n aanbly-masker of aanbly produk wat jou hare sal aanhou hidreer en voed deur die loop van die dag:
7. Jy knip nie haarpunte nie
Tarryn sê die nommer-een wenk wanneer jou hare droog voel, is om gereeld jou punte te knip. Jy hoef nie noodwendig elke 4 tot 8 weke te knip nie, jou haarkapper hoort te sien wanneer dit nodig is vir punte knip.
8. Hormonale veranderinge
Tarryn sê die hormone estrogeen en progestoroon affekteer jou hare se groeisiklus, jou kopvel, asook die gesondheid van jou haarskag en die natuurlike olies wat hare sag en glansryk hou. Daarom het hormonale verandering soos menopouse byvoorbeeld ’n moontlike impak op die vogvlakke van jou hare.
9. Kies die regte haarbehandeling
Tarryn sê die probleem met die keuse van haarmaskers en behandelings is dat die meeste van ons die verkeerde masker of haarbehandeling vir droë hare kies. Wanneer iemand sukkel met droë hare, dan dink hulle ’n haarmasker met die verduideliking “dry damaged hair” of “dry brittle hair” sal goed werk, maar hierdie maskers is byvoorbeeld eerder geskik vir iemand met kleurbeskadigde hare. Tarryn sê daar is omtrent 20 verskillende tipes proteine in hierdie maskers wat droë hare kan versorg, dit is uiters belangrik om die regte een te vind wat vir jou hare en droë haarkondisie geskik is.
Lees die verduideliking op die botteltjie noukeurig deur of vra jou haarstilis vir raad.