As jy (nes ons), al moeg is vir daardie selfde ou doodgewone poniestert-in-jou-hare repertoire dan is hierdie artikel vir jou. Ons deel ‘maklik mooi’ planne vir hare vasbind op warm somersdae om jou nek en skouers koel en sweetvry te hou en ook uit jou gesig te hou. Deur Justine Kroes
10/11/2023
1. Die “kloue” knip
Die claw knip het weer “cool” status bereik en baie stylkenners dra hierdie knip in plaas van hare vasbind. Daar word ook geglo dat hierdie knip gesonder is vir jou hare omdat stywe haarrekkies skade kan aanrig aan jou hare.
Die gewilde truuk is om jou poniestert te draai (twist), dan dubbel langs mekaar in te vou en netjies vas te knip. Sien jou “claw clip” as ’n modebykomstigheid, daar is so baie verskillende skakerings en style tans beskikbaar. Veral lekker om in jou kar of handsak te hou vir wanneer die dag lank raak en jou hare moet eenvoudig net vinnig “op”.
2. Kleurvolle serp
Syserpies is alewig een van ons gunsteling veelsydige mode-items – bind dit om jou handsak, nek of selfs om jou poniestert om ’n indrukwekkende stelling te maak met min moeite. Doen dit so: ’n Netjiese vasgebinde lae poniestert, bind jou gunsteling kleurvolle syserpie daarom en siedaar, ’n sjiek haarstyl sonder die moeite.
3. Vlegselkroon
Hierdie haartruuk wen beslis die prys vir minste moeite maar meeste effek. Verdeel jou hare in ’n middelpaadjie en maak aan weerskante van jou kop (agter elkeen van jou ore) ’n vlegsel. Neem dan elke vlegsel op en steek dit aan weerskante van jou kop vas, steek die rekkiegedeelte weg onder die ander vlegsel vas met knippies. Hierdie styl lyk ewe mooi met netjiese ge-jelde hare (vir ‘n sjiek voorkoms) of effens meer gemaklik met ’n paar hare wat hier en daar nie perfek op hul plek lyk nie.
Die met korter hare moet dalk ’n bietjie meer kreatief raak omdat jy nie die haarlengte het om die vlegsel reg bo oor jou kop te neem nie. Probeer dalk eerder agterom jou kop en steek elke vlegsel so rondom die ander vlegsel se rekkie vas.
4. “Bubble” Poniestert
Die “bubble pony” trend tans op tik tok. Maak eenvoudig jou hare in ’n hoë poniestert vas en gebruik dieselfde rekkies regdeur jou hare om die effek van “bubbles” te skep nadat jy elke rekkie vasgemaak het, trek so effens die hare deur om daardie perfekte “bubble” te skep.
Hierdie deursigtige rekkies sal perfek werk: Dis-Chem Cosmic Ladies Basic Clear Elastics (R29,99)
5. Sjiek lae poniestert
Fantasties vir daardie “vuil” hare dae. Maak hare effens nat en kam netjies terug. Gebruik ’n haarsproei of ‘hair tamer’ om enige wegvlieghaartjies te tem om daardie ekstra perfekte gladde effek te kry.
Hier is ’n hair tamer op ons moet-probeer lysie: Breast Tape Co se Stay Stick (R249), die borseltjie lyk soos ’n maskarastafie en hiermee kan jy enige wegvlieghaartjies netjies plat kam en daar bly hulle heeldag op hul plek.
Vir ’n tikkie ekstra sjiek – dra ’n strik in jou lae poniestert – een van die seisoen se grootste modebykomstigheid-trends.
6. Golwende hoë poniestert
Maak jou hare in ’n hoë poniestert vas en gebruik jou krultang om ’n paar golwe in jou poniestert te krul, gebruik ’n “texturizing” sproei en vryf krulle los om daardie ekstra volheid en tekstuur te skep. Hierdie truuk werk veral goed om die effek of illusie van ’n voller poniestert te skep.
7. Lae bolla
’n Lae bolla of chignon as jy wil, bly vir ons ’n gunsteling. Vir die met langer hare, bind jou hare netjies vas in ’n lae ponie, maar moenie jou hare heeltemal deurtrek nie. Neem jou haarpunte wat onder die bolla uitsteek en bind die punte met ’n deursigtige rekkies bo vas. Vou nou hierdie punte rondom jou bolla en steek hare in plek. Loer na die video op Instagram hier.
Vir die met korter hare
Probeer die “half tuck”, bind jou rekkie om jou hare so asof jy ’n poniestert gaan maak maar moet nie jou hare regdeur trek nie en los dit as ’n bolla.
Hou hare uit jou gesig
8. Gestapelde knippies
Knippies In alle kleure van die reenboog is weer terug. Dra jou hare los, in ’n middelpaadjie met knippies wat aan weerskante af gestapel is om hare uit jou gesig te hou.
9. 90’s kuif vlegsels
Twee dun vlegsels aan weerskante van jou gesig (genoem “baby braids”) is ’n haar-trend wat weer terug is. Nie alleen lyk hierdie truuk cool nie, dit is ook prakties. Hou jou kuif en hare uit jou gesig en veral ’n goeie haarstyl wanneer jou kuif dalk ’n was nodig gehad het. Gebruik dun rekkies om die vlegsels vas te bind of as jy nie rekkies byderhand het nie, jel effens die punte van die uber dun vlegsel (en set met ’n haarknippie terwyl dit droogword) om seker te maak als bly op hul plek, verwyder die knippie wanneer die jel droog is.