Is jou jassekas gereed vir die komende winterseisoen? Ons het die kenners gevra: Wat is die moet- hê jasse en baadjies wat elke vrou in haar klerekas behoort te hê? Hier is drie stylkenners se 9 moet- hê jas- en baadjiestyle. Deur Justine Kroes
Stylkenners se 9 moet hê jasse en baadjiestyle
1. Trench jas (Soldatejas)
Al drie stylkenners is hier in akkoord, die trench styl jas of soldatejas is ’n moet hê in jou jassekas.
Voorkomskonsultant en stylkenner Susra Matthee sê “Indien jy net een jas in jou kas het, maak seker dit is ’n trench jas. ’n Jas styl wat feitlik nooit uit die mode sal gaan nie, en so veelsydig – dra dit by enige uitrusting van broeke tot rokke of rompe.”
Susra waarsku; “die gewilde roomkleur trench jas met ’n effense geel ondertoon pas nie by almal se gelaatskleur nie. Indien jy onseker is, kies ’n roomskakering trench jas met ’n grys ondertoon.
Stylkenner Simone Lombard stem saam en sê “Die trench jasstyl kan verslankend wees as jy die jas om jou middel vasmaak, of selfs net laat oophang. Daar is verskeie kleure, teksture en snitte beskikbaar, wat beteken daar sal ’n trench jas wees vir elkeen”
Jeanine Theron, smaakmaker en voorkomskonsultant sê” vanjaar se trench jas is veral gewild in ’n khaki skakering. Ek hou van die kleur omdat dit ’n kleur is wat by die meeste vroue sal pas.”
2. Jas wat ’n stelling maak
“Jy het een jas of baadjie nodig wat jy vir geen praktiese doeleindes gekoop het nie, maar bloot net omdat jy dink dit is bitter mooi!”
Susra Matthee
“Dit kan enigiets wees van helder kleure tot ligte kleure, patrone of blinkers. Hier moet jy nie fokus op trends nie maar eerder of die jas by jou persoonlike styl pas. En die belangrikste is hoe die jas jou laat voel!” is Susra se goeie raad
Simone stem saam oor ’n jas wat ’n stelling maak “Vir my is dit die luipermotief jas. Ek sien hierdie jas elke winterseisoen en wonder wanneer ek self die moed bymekaar gaan skraap om een te koop. Luiperdmotief is immers tydloos. Dink Mob Wife Aesthetic. Dit sal enige uitrusting dadelik meer glansryk laat lyk”
3. Leerbadjie
Susra verduidelik “’n Leerbaadjie word nie net vir die winter gebruik nie, maar gereeld in die herfs, lente en selfs ook koeler somersaande gedra. Die baadjie laat ’n uitrusting dadelik cool en edgy voorkom. Indien jy net een kies, maak dit ’n swart een. Ek dink ’n swart leerbaadjie is tydloos en modieus, en kan maklik van dag na aand gestileer word.”
“Die regte leerbaadjie sal jare lank hou en sal altyd’n staatmaker in jou jassekas wees”.
Simone Lombard
4. Goeie gehalte woljas
Jeanine sê “belê in ’n woljas, hierdie jas styl sal nog vir jare en jare lank klassiek en tydloos wees. Kies ’n neutrale skakering, ’n woljas in navy, swart, grys of ligbruin sal nie oornag uit die mode gaan nie.”
Stylvol stem saam – daar is min jasse so elegant en mooi soos ’n goeie kwaliteit woljas – en terwyl dit nooit Europese temperature hier by ons raak nie, is dit dalk ’n goeie idee om ’n ligter geweefde woljas te kies sodat jy nie te vinnig te warm kry nie.
5. Bomberbaadjie
Simone sê “die bomber jacket is ook prakties vir tussen seisoene en kan omtrent by enige iets in jou klerekas gedra word. Die snit van hierdie baadjie-styl werk saam met die meeste liggaamstipes.”
Volgens Jeanine is hierdie die moet-hê baadjie vir die “trend setters”. Jeanine se topwenk: “As jy dalk groot borste of ’n groot magie het, kies eenvoudig ’n langer styl bomber baadjie.”
6. Blazer baadjie
Waarheen dra jy ’n blazer? Die vraag is eerder waarheen dra jy dit nie? is Susra se antwoord. “Dit is nou een baadjiestyl wat geskik is vir elke geleentheid (werk, naweek, dag en aand) en jy sal nooit “over of under dressed” voel met jou blazer aan nie.”
Susra se blazer wenk: Vermy een met skouerkussings indien jy breë skouers of groot borste het, dit kan jou moontlik groter laat vertoon as wat jy werklik is.
Simone sê “Deur ’n blazer by enige uitrusting aan te trek, verhef dit dadelik daardie uitrusting. Ja selfs by jou oefenbroek en t-hemp, dra jou blazer vir ’n sports luxe gevoel. Kies een wat by jou stylpersoonlikheid pas – daar is tientalle verskille snitte, teksture en skakerings daar buite.”
7. Denimbaadjie
Volgens Simone sal die denimbaadjie altyd in die mode wees. “die denimbaadjie is ook die heel beste tussenganger vir dae wanneer die weer onvoorspelbaar is. Daar is natuurlik ook so ’n groot verskeidenheid denimbaadjies vir elke liggaamstipe en stylvoorkeure.”
“Denimbaadjies werk veral goed by rokke en rompe. Maak seker jy kies ’n korter denimbaadjiestyl wat eindig op die kleinste deel van jou middel – dit sal jou figuur die meeste vlei.”
Susra Matthee
Stileerwenk: “Op die oomblik is denim steeds ’n groot modetrend – dra jou denimbaadjie as denim-on-denim saam met jeans en denimrompe.
8. Die pofjas
“Jy het beslis ’n pofjas nodig wat jou deur die koue, minder formele dae en naweke gaan sien. Hierdie baadjies is prakties en warm. Dit is ’n groot bonus as dit ’n kappie het en waterbestand is. Kies een in neutrale kleure waarvoor jy nie gou moeg sal raak nie.” is Susra se raad.
Simone sê “die pofjas is ’n moet, maar asseblief nie daardie kort een wat so baie vroue dra nie, julle weet waarvan ek praat! Die pofjas kom in so baie style, lengtes en ontwerpe voor, dit is nie nodig dat ons almal dieselfde styl (of maak) pofjas kies nie.”
9. Baadjie vir ’n aand uit
Susra noem nog ’n moet-hê: “Ons benodig almal daardie ‘fênsie’ baadjie vir ’n aandgeleentheid wanneer jy op jou heel beste wil lyk en daarby ’n stelling ook wil maak. Hierdie baadjie kan enigiets wees van blink tot kunspels” sê Susra. “Twee baadjies wat ek keer op keer vir aandgeleenthede uitruk, is ’n kort swart blinkerbaadjie en ’n bottelgroen kunspelsbaadjie.”