Is dit dalk binnekort jou beurt as ma van die bruid of bruidegom? Hier is al die moets en moenies wanneer dit by jou uitrusting kom. Ontwerper Sune Snyman kry te doene met baie ma’s van bruide of bruidegomme en sy waarsku teen foute en ou reëls wat nie meer geld nie en gee boonop handige stileerwenke. Stuur gerus die artikel aan vir ’n ma wat dalk binnekort ma van die bruid of bruidegom gaan wees. Deur Justine Kroes
7/04/2023
Die 11 grootste ma van die bruid/bruidegom-foute
1 Jy is huiwerig vir kleur dra
Moenie bang wees vir kleur dra nie, verduidelik ontwerper Sune Snyman. Die meeste van die tyd wil ma’s van die bruid/bruidegom “inblend”, maar die probleem daarmee is, dat uitgewaste kleure nie vir almal is nie, min mense lyk rêrig mooi daarin. Die dae van beige vir ’n ma van die bruid of bruidegom is eintlik verby.
2. Jy dra iets wat ongemaklik sit
Jy wil nie heeldag staan en regtrek aan jou rok of uitrusting nie. Ek het eenmaal ’n kliënt gehad wat baie graag ’n afskouer rok wou dra, alhoewel ek verduidelik het sy gaan nie gemaklik wees nie, want sy gaan nie lekker kan dans nie. Ek was toe reg, sy was toe ongemaklik in die rok gewees. Jou ontwerp moet gemaklik wees om in te beweeg, en meer belangrik as dit, jy moet nie te warm kry nie.
3. Jy probeer sny op kostes
Ek sien dit gereeld – die ma van die bruid probeer sny op kostes en kies dalk iemand goedkoper om ’n uitrusting maak, dan kom hulle na my toe en hulle het klaar ’n paar duisend rand spandeer. Besluit eerder op ’n ontwerper wie se werk jy al gesien het, en iemand wat al vir ouer dames ontwerp en klere gemaak het.

4. Jou stilering laat jou in die steek
Ek het ’n klompie ma’s gehad wat die verkeerde juweliersware by ’n baie duur uitrusting dra en dit breek die uitrusting heeltemal af. Op ’n slag het ’n ma ’n K-Way baadjie bo-oor haar silk-sjiffon-rok gedra – ek het amper dood neergeslaan! Neem advies van iemand wat jou klassiek gaan stileer, my advies vir kliente is altyd “less is more”, veral vir ’n ma van die bruid/bruidegom, jy wil nie vir die verkeerde redes uitstaan nie.
5. Jy volg nie jou persoonlike styl nie
Dit is belangrik om ’n rok- of klere-ontwerper te vind wat sy/haar kliënte goed sal lees. Style verskil en jy kry ma’s wat modieus aantrek omdat dit hulle belangstelling is en ander ma’s wat dalk ’n bietjie meer konserwatief aantrek. Dit is belangrik om iemand te vind wat jou persoonlike styl gaan lees en verstaan en daarvolgens iets unieks vir jou styl sal skep. Jy wil nie na ’n ontwerper toe gaan wat vir jou in blinkers gaan sit net omdat dit daardie persoon se ontwerpstyl is nie.

6. Jy neem nie die styl van die troue in ag nie
Is dit ’n oggendtroue, ‘n middagtroue of ’n aandtroue? Is die troue meer formeel of minder formeel? Waar word die troue gehou, binne, buite of op die strand? Jy wil nie na ’n oggend-ontbyt-troue swart sequins dra nie!
7. Jy kies oud-modiese style
Vermy daardie langbroekpakke met al die sjiffon, kant en lae bo-op lae. Daardie uitrustings met die langer tuniekstyl bloes bo oor ’n lospassende broek. Dit is oud-modies. Dit is 2023, bly weg daarvan af. Kies eerder ’n bont patroon as om jouself te bedek in lae, is Sune se raad.

8. Jy kies die verkeerde lap
As jy ’n goedkoop lap gebruik, lyk ’n baie eenvoudige uitrusting goedkoop. As jy ’n duursame, ordentlike materiaal gebruik, lyk ’n baie eenvoudige styl meer luuks en duur. Kies daarby ook iemand wat goed met enige tipe ontwerp sal kan werk – dit maak ’n groot verskil.

9. Jy neem nie die kleurskema in ag nie
Ek dink dit is belangrik dat die ma by die kleurskema inpas, hulle verskyn op baie van die foto’s. Veral met die aantrek is daar gewoonlik ’n klomp foto’s van die ma en die bruid saam.
Swart is totaal en al aanvaarbaar. Ek hou so baie van ’n ma van die bruid/bruidegom in swart, dit bly altyd klassiek. Dit is ’n ou reël om te sê mens dra nie swart na ’n troue toe nie.
Suné Snyman

Ek sou sê ma’s moet liefs eerder wegbly van die beige, room en vuilpienk skakerings, dit laat meeste mense vaal lyk en is gewoonlik nie vleiende skakerings nie.

10. Almal moet op dieselfde bladsy wees
Gesels met die toekomstige skoonma om te hoor watter kleur of styl sy beplan om aan te trek. Op die ou einde van die dag gaan julle saam verskyn op foto’s en ’n mens wil nie twee heeltemal uiteenlopende kleurskemas sien nie. Dit is dalk die beginpunt van ’n goeie vriendskap!

11. Jou beplanning laat jou in die steek
Moet nie jou eie uitrusting tot op nommer 99 laat wag nie, maak vroegtydig vir jouself ’n afspraak by ’n ontwerper of begin die rok-soektogproses vroeg genoeg. Sune sê “Ek gee altyd ’n bietjie langer tyd vir die ma van die bruid/bruidegom. Ons begin by ’n konsultasie, ons kyk na kleur, lap, die ma se figuur, waarvan sy hou of nie hou nie. Maar daar moet genoeg tyd wees om die hele proses reg te doen. Ek doen so drie tot vier aanpas-sessies voor die finale produk om seker te maak die ma is tevrede. Almal sê altyd, naas die bruid is die belangrikste persoon die ma van die bruid, en ek dink dit is so waar!
Suné Snyman Design – kontak vir Suné by – sunesny1@gmail.com of volg haar op Instagram hier