9 algemene bekende snellerbestanddele in skoonheidsprodukte

Jy gebruik dalk ’n nuwe skoonheidsproduk, of dieselfde een wat jy al vir jare gebruik en ewe skielik kry jy ’n uitslag of jou vel lyk rooi en voel sensitief. Ons gesels met dermatoloog dr. Suretha Kannenberg oor algemente snellerbestanddele in skoonheidsprodukte. Verwerk deur Suzanne Kotzé

Die twee tipe reakies op snellerbestanddele

Dr Kannenberg verduidelik: “Daar is twee tipe reaksies wat ’n mens kan kry: irritant kontakekseem en allergiese kontakekseem.

Irritant kontakekseem

Enigiemand kan irritasie en soms irritant kontakekseem kry. Dit gebeur gewoonlik binne dae. Hier praat ons van sepe (veral die wat skuim) of baie harde ‘harsh’ produkte (byvoorbeeld retinoïede, vrugtesure en handontsmettingsmiddels onder andere) wat dit sou kon veroorsaak. 

Allergiese kontakekseem

“’n Mens se vel moet eers *gesensitiseer word om allergiese kontakekseem te ontwikkel.  Mens kry ook ’n kumulatiewe effek met skoonheidsprodukte.

Jy kan dalk vir weke of selfs jare ’n produk gebruik voordat jy ’n reaksie ontwikkel.”  

Dr. Suretha Kannenberg

* ’n Gesensitiseerde vel stem ooreen met ’n sensitiewe vel daarin dat dit gedehidreerd, branderig, jeukerig en ongemaklik mag voel. ’n Sensitiewe vel is egter ’n mediese en soms genetiese toestand terwyl ’n gesensitiseerde vel ’n gevolg van gewoontes, produkte en of bestanddele en omgewingsfaktore is.

9 algemeen bekende snellerbestanddele in skoonheidsprodukte

Dr. Kannenberg verduidelik

1. Parfuums/Reukmiddels:

Hier kry ons twee groot groepe: Sintetiese en natuurlike reukmiddels.

Sintetiese reukmiddels

Sintetiese reukmiddels het twee doele: óf om die produk lekker te laat ruik, óf om ’n bestanddeel wat minder lekker ruik, weg te steek.

Dit (saam met preserveermiddels) is die mees algemene rede tot allergiese kontakekseem in die kosmetiese industrie.

Natuurlike reukmiddels

Natuurlike reukmiddels sluit in essensiële olies en botaniese ekstrakte. Dit is ook bekend om in sommige sensitiewe velle irritasie/kontakekseem te veroorsaak.

2. Preserveermiddels

Parabene word algemeen gebruik omdat dit effektief is om skoonheidsprodukte te preserveer. (dit langer te laat hou/vars bly) agv die effektiwiteit daarvan. Daar is egter individue wat sensitief is daarvoor.

‘Formaldehied vrystellers, soos quaternium-15, DMDM hydantoin, en imidazolidiniel urea, word ook algemeen gebruik.

Isothiazolinone, wat methilisothiazolinone en methylchloroisothiazolinone insluit, is die ligter preserveermiddels wat nou algemeen in die industrie gebruik word. Omdat dit nou meer algemeen gebruik word, ontwikkel mense nou sensitiwiteite daarteen ook.

3. Sonskerm agente

Chemiese sonskerms soos Oxibenzone, avobenzone, octocrilene, onder andere, kan fotoallergiese reaksies veroorsaak. Dit beteken dat mens ’n tipe ekseembeeld in sonblootgestelde areas ontwikkel na aanwending van die produk. Fisiese sonskerms soos titaniumdioksied en sinkoksied is oor die algemeen minder geneig om reaksies te veroorsaak, maar as jou vel reeds gesentiseer is, kan dit ook ’n reaksie veroorsaak.

4. Surfaktante en emulsifiseerders 

Natriumlaurylsulfaat (SLS) is ’n algemene bestanddeel in gesigwasmiddels en selfs sommige vogrome en dit is bekend om irriterend te wees.

Cocamidopropilbetain kom ook in heelwat sjampoes en gesig en lyfwasmiddels voor en kan kontakekseem veroorsaak. Produkte wat baie alkalies is (hoë pH) is meer geneig om velirritasie te veroorsaak.

Die beste pH vir die vel is 4,5-5,5.

5. Versagmiddels (emollients) en bevogtigers

Lanolien is van skaapwol afkomstig, werk wonderlik vir sommige mense, maar kan ongelukkig ook allergiese reaksies veroorsaak.

Propileenglikol is ’n bevogtiger (humectant) wat ook sensitiserend kan wees en dus lei tot irritasie.

6. Sintetiese kleurstowwe

Sintetiese kleurstowwe (dyes) om byvoorbeeld grimeermiddels te kleur kan sensitiwiteite induseer. Natuurlike kleurstowwe sluit byvoorbeelde henna of kleurstowwe van plantafkoms in en kan beter opsies wees.

7. Alkohol

Alkohols soos Benzylalkohol word gebruik as preserveermiddel en oplosmiddel, en kan kontakekseem veroorsaak.

Cetyl- en Stearylalkohol word algemeen as ‘n bevogtiger (emollient) en emulsifiseerder gebruik.

8. Botaniese ekstrakte

Botaniese ekstrakte soos Kamille (Chamomile), teeboomolie (Tea Tree) en Aloe Vera: Die meeste mense sien hierdie as strelende produkte. Dit kan egter in sommige mense wel probleme veroorsaak. Teeboomolie word algemeen vir ontsmetting gebruik ook, maar dit kan ongelukkig baie irritasie veroorsaak. Ander plante soos bloekom (eucalyptus), peperment, en laventel olies kan ook probleme veroorsaak in sommige mense.

9. Retinoïede en vrugtesure

Dan kom ons by die retinoïede en vrugtesure. Ons weet dat retinoïede goed is vir ’n mens se vel. Ons gebruik dit daagliks in die behandeling van aknee en velverjonging. Dit veroorsaak egter ook baie algemene irritasie – tretinoin meer as retinol.

Dit is oor die algemeen van verbygaande aard – die meeste mense se velle raak gewoond daaraan.

Vrugtesure, soos  alfa en beta hidroksiesure (hydroxy-acids) sluit in glikoliese en salisielsuur. Hierdie kan natuurlik beide irriterend wees.

Suretha-Kannenberg

Dr. Kannenberg se praktyk is in Durbanville, Kaapstad, maar jy kan ook ‘n aanlyn konsultasie met haar doen. Klik hier: dr.derma.co.za

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
bob haarstyl Kevin Murphy
Die mooiste bob-haarstyle gaan jy nou wil dra
error: Content is protected !!