As jy dalk beplan om binnekort jou badkamer oor te doen is hierdie vir jou. Handige raad en wenke wat jy dalk sou miskyk met beplanning en uitvoer. Die argitekspan by Kraft Architects deel hul 8 beste wenke om in gedagte te hou vir badkamer bou met ’n paar inspirasie fotos daarby. Deur Justine Kroes
29/07/2022
1. Beplan jou teëluitleg vooraf
Dit is nie meer nodig om jou hele badkamer van vloer tot plafon te teël soos in die ou dae nie (jou badkamer hoort nie ’n vistenk te wees nie!). Skep diepte en tekstuur en teël net areas soos die stortmure, “splashback” (area agter wasbakke en baddens). Die res van die mure in jou badkamer kan gepleister en geverf word met emaljeverf – of ander verfprodukte geskik vir badkamers.
Beplan ook jou teëlkeuse en die uitleg daarvan goed vooraf – dit sal verhoed dat jy ’n teël kies wat nie sin maak in die spasie nie. En daarby nie derduisende klein gesnyde seksies laat wat net onnet gaan lyk nie.
2. Goeie beligting is belangrik
Goeie lig, veral by jou spieël is uiters belangrik en word dikwels misgekyk. Indien moontlik plaas ’n lig bo of naby aan die kant van jou spieël. “Backlit” spieëls is nog ’n opsie, veral vir ’n moderne gevoel.
3. Elektrisiteitspunte
Natuurlik is daar perke tot waar jy elektrisiteitspunte binne ’n badkamer kan plaas. Indien moontlik, probeer om ’n elektrisiteitspunt vir ’n skeermasjien naby aan jou spieël te installeer – dit is veral handig om jou elektriese tandeborsels ook te herlaai.
4. Storte sonder deure? Wees versigtig:
Die trend deesdae is om storte sonder deure te installeer, met net een of twee groot glaspanele. Groot flaters kan plaasvind as die posisie van die opening aan die verkeerde kant geplaas word. So ook as die spasie te klein is – dan spat water net oral oor. Maak seker jou spasie is groot genoeg vir hierdie om te werk en dat die plasing van jou glaspanele ordentlik deurdink word.
5. Die hoogte van jou wasbak
“Countertop basins” is ook al hoe meer gewild (eerder as badkamerkassies). Indien jy jou wasbak bo op ’n 900mm (die standaard toonbankhoogte) gaan plaas, sal jou wasbak veels te hoog wees. Stel dus eers vas hoe hoog jy graag jou wasbak wil hê voordat jy die hoogte van die toonbank kies.
6. Handoekrelings en toiletpapierhouers
Dink vooraf aan die plasing van jou handoekrelings en toiletpapierhouers. Maak seker dit word geplaas op areas waar jy dit maklik sal kan bykom en gemaklik kan gebruik.
7. Kraankeuses vir jou badkamer
Die kraankeuses vir bo jou wasbakke moet in gedagte gehou word. Maak seker die kraan is nie net-net bo-oor die wasbak nie – maar meer na die middel toe. Ook natuurlik hoog genoeg sodat jy jou hande ordentlik onder die kraan kan inpas.
8. Slim ontwerpe
Dink aan ’n paar slim ontwerpe wat jou badkamer uniek en jou eie sal maak. Laat bou klein areas, rakke of gaatjies in die mure in jou stort. Dit skep spasie vir jou “duisende” produkte waarvoor ’n mens nooit genoeg plek het nie.
’n Ander oulike idee is om voetstukke (deeltjies waar jy jou voete kan rus) in te bou – dit maak die skeer en wasproses soveel makliker!
As daar spasie is vir ’n buitestort onder die sterre – hou dit in gedagte.
As daar ’n mooi uitsig is – maak gebruik daarvan met groot vensters.
Kraft Architects
Kraft Architects, gestig deur Charles Pittaway en Ruhan Dreyer, is ’n vars, ontwerp gefokusde firma wat streef na uitnemende ontwerp, pasgemaak vir jou persoonlike behoeftes. Die firma spesialiseer in residensiële, kommersiële en industriële geboue. Kontak hul gerus hier. Vir meer inspirasie fotos volg hul op Instagram hier en Facebook hier.