Hier is die grootste haartrends waarvan jy moet weet. Van Mocha mousse tot die Cow girl snit en 90’s volume. Deur Suzanne Kotzé
Haarstilis Charles Junior Louw deel meer oor die grootste haartrends vir 2025.
Haartrends: kleur
1. Mocha mousse haarkleur
Pantone se kleur van die jaar, Mocha mousse, is ook groot nuus as dit by haarkleur kom. Die skakering word deur Pantone as ’n warm, ryk, bruin skakering beskryf.
“Die grootste haarkleurtrend vir 2025 is beslis mocha mousse. Dit is díe kleurpallet van die jaar,” sê Charles Junior Louw.


2. Warm skakerings
“Verskillende haarkleure met warm skakerings, soos Wella se Golden Hour voorkoms is ook baie in,” sê Junior. Onthou ook warm beteken nie noodwendig rooi nie, daar is ’n magdom skakerings. Dink aan die kleure van ’n sonsopkoms.

Ons is ook gaande oor hierdie warmer haarkleure


3. Glas hare (glass hair)
Hoe blinker, en hoe meer glansend, hoe beter. Dink aan die ‘glas vel’ voorkoms wat so in was in skoonheid, maar vir hare. En onthou blink hare begin by hare wat goed versorg en gevoed is. So maak seker jy kyk mooi na jou kroon, voordat jy begin stilleer (en hittebeskerming is ononderhandelbaar). Jou haarkleur moet ook natuurlik in ’n goeie toestand wees vir dit om te blink. Kleur en behandelings wat glans gee, soos Wella Professionals se Shinefinity behandeling is ‘n goeie keuse.

Snitte wat groot nuus is
Hoe meer lae, en hoe meer beweging, hoe beter as dit by snitte vir 2025 kom.
4. Cowgirl snit
Die cowgirl snit is moeiteloos en mooi. Dit is ’n kruis tussen ’n lob (lang bob) en ’n shag Die snit het gewoonlik ’n gordynkuif ook. Dink aan volume en beweging.


5. Die moderne shag
Die tradisionele shag styl het baie lae (reeds vanaf die kroon) en die lae is taamlik stomp. Dink aan die 90’s se ‘The Rachel’ snit en Joan Jet se 70’s styl). Die moderne shag se lae is egter fyner en nie so stomp nie. Jy hoef nie noodwending die styl in die tradisionele lob lengte te dra nie, jy kan dit self in bob en langer style ook bywerk.

6. Die skoenlappersnit (butterfly cut)
Kort lae voor rondom die gesig en lang lae agter skep ’n lekker volume haarstyl. Van voor af het jy vleiende lae wat jou gesig raam, terwyl jy van agter lengte het. Die styl kan aangepas word vir verskillende lengtes hare.

Stilering
Die tipe stileerstyle wat in is, is meer ongestuktureed. Die gladde, reguit haaryster voorkoms of krulle en golwe is nie nou so in nie.
7. Bonsende volume soos Cindy Crawford in die 90s
Pak weg jou haaryster en haal uit jou groot ronde borsels, want die bonsende ‘blowdry’ voorkoms soos Cindy Crawford in die negentigs is groot nuus. Die voorkoms is luuks en blink, met hare wat glansend rondbons.

8. French girl blow out
Dink aan die ongeêrgde, moeitelose mooi styl van Franse vroue, dit is hoe die sogenaamde French girl blow out ook is. Dit het volue en beweging, sonder dat dit lyk asof jy te veel moeite gedoen het.
Met hierdie tipe styl maak jy jou hare rof droog (vingerpunte en vooroorgegooi) en fokus dan om volume op jou kroon te kry. fokus op die agterkant van jou kroon en neem ‘n driekhoekvormige stuk hare wat jy lig, en met ‘n groot ronde borstel volume in blaas. Gebruik jou haardroër se koelfunksie om dit te laat set. Daarna neem jy groot stukke hare en blaas dit met ’n ronde borsel en trek die punte uitwaarts. Die eindresultaat is ’n effense deurmekaar voorkoms met ’n bietjie van ’n golwende vookoms (wat lyk asof dit sommer maar so natuurlik is.)
