Kenner Marcia Leader van Styling Interiors deel 7 slim wenke om jou slaapkamer visueel asook fisies warmer te laat lyk en voel. Vir idees van kerse tot komberse, lees hier om jou koue spasie op te warm met 7 slim wenke vir ‘n warmer slaapkamer. Saamgestel deur Justine Kroes
07/07/2023
1. Knus by ’n kaggel, of maak asof jy doen …
Jy het nie noodwendig ’n werkende kaggel in jou kamer nodig om warmte te skep nie, verduidelik Marcia Leader van Styling Interiors. Kerse kan beide ’n spasie warmer laat lyk en voel – dit saam met gegeurde kerse wat die spasie vul met hemelse reuke skep ’n ekstra koesterende gevoel. Stal kerse van verskillende hoogtes uit om ’n dekorpunt te skep in die spasie.

Wenk: Onthou wanneer jy jou gloeilampe kies – kies warm wit gloeilampe vir jou ligte en bedlampies om ’n tikkie ekstra warmte by die spasie te voeg.
2. Kies houtelemente
Marcia se raad “gebruik hout as ’n ontwerpelement om ’n spasie warmer te laat voel. ’n Ideale voorstel sou wees om ’n hout muurpaneel agter jou bed te installeer in plaas van ’n tradisionele “headboard”. Marcia verduidelik; “Hout is ’n termiese en akoestiese insulasie- materiaal en is die perfekte oplossing om ’n spasie warmer te maak, beide fisies en visueel.

Kies ook gerus hout dekoraksente om jou spasie te vul – hout bedkassies, houtdekor,of selfs houtlampies.
Loer hier na Thula Wall wat maklike houtmuur installasies doen, kyk net hoe mooi:

3. Kies luukse teksture
Tekstuur is een van die belangrikste ontwerpelemente om ’n spasie cosy of snoesig te laat voel. Dink aan die gebruik van teksture soos wol, gebreide elemente, nagemaakte pels en selfs kasjmier wat diepte en warmte sal skep in enige spasie.

Jy kan ook gebruik maak van rattan en wicker meubels wat ’n natuurlike, aardse element in die kamer skep.

4. Kombersies en kussings by dosyne!
Dink aan jou bed as ’n “blank canvas” is Marcia se raad. Met die hulp van goeie linne, kussings en kombersies kan jy blitsvinnig ’n spasie skep wat snoesig en uitnodigend lyk. Nie alleen bied kussings en kombersies ’n interessante ontwerpelement nie, dit voeg ook ’n element van snoesigheid en warmte by die kamer.

Skep lae op jou bed met ’n donsige gebreide kombersie, of selfs ’n faux fur kombers. Iets wat sag, snoesig en warm is – ook perfek vir daardie luilekker middagslapies!
Marcia

Loer hier na ‘n paar gunstelinge op ons wenslysie:
5. ’n Groot mat maak ’n groot verskil
Marcia sê “Daar is niks meer terapeuties as om uit jou bed uit te klim en jou tone in ’n groot “fluffy” mat in te sink nie. ’n Groot mat in enige spasie sal dadelik visueel die spasie warmer laat lyk asook insulasie bied en die spasie opwarm”.

Nog ’n truuk is om matte te “layer”, en matte bo oor mekaar te plaas. Dit bied ekstra tekstuur en sodoende warmte in ’n spasie. ’n Goeie voorbeeld is om twee kleiner skaapwol (of donsige) matjies weerskante van die bed te plaas bo-op ’n groot mat.
6. Versier daardie vensters –
Kaal vensters is een van die groot oorsake vir ’n kamer wat koud lyk (en koud voel). Maak gebruik van dik gordyne met tekstuur, dit laat enige spasie dadelik warmer lyk op die oog af en hou ook goed koue uit.
’n Truuk, verduidelik Marcia, is om jou gordyne te “layer”. Aparte gordynrelings wat voor en agter mekaar hang. Hierdie metode dra by tot die warmte en warm gevoel van ’n kamer en is boonop ’n handige praktiese element wat goed werk vir ’n slaapkamer. Hang op die eerste laag ’n meer deursigtige gordyn wat jy kan toe trek vir privaatheid. Hierdie “sheer” gordyn sal ook lig inlaat. Hang dan ’n tweede “blockout” gordyn met ’n interessante tekstuur om die spasie warmer te laat voel.

7. Moet nie vergeet van plante of blomme nie
Marcia sê; Ek hou persoonlik van ’n spasie met huisplante of ’n pragtige orgidee in my slaapkamer dit laat die spasie dadelik lewendig en warmer voel. Iets so klein soos ’n plant het die vermoë om ’n hele spasie meer aards en rustig te laat lyk en voel.

Dit is nie die enigste pluspunt nie – plante is ook goed vir jou geestegesondheid en reinig die lug waar jy slaap.
Meer oor Marcia Leader
Marcia het meer as 25 jaar ervaring in die ontwerpindustrie. Dit strek van verkope en bemarking tot konstruksie en projekbestuur met binneshuisversiering en interieurontwerp. Met kennis van projekbestuur, bemarkingsbestuur en ontwerp daarby, bied Marcia ’n sterk tegniese voordeel vir haar kliënte en die projekte wat hul saam aanpak. Kontak vir Marcia en, besoek haar webtuiste hier.