’n Vuurput skep ’n heerlike, gesellige kuierhoekie in jou buite-area. Ons sien sommer uit na somer se laataand geselsies om die vuur (sonder dat jy na braaivleis hoef te ruik.) Deur Suzanne Kotzé
Waar is die beste plek vir ’n vuurput
Gewoonlik is dit ’n entjie weg van jou gewone braai-area. Dit kan natuurlik naby aan mekaar wees, maar die ideaal is om ’n snoesige kuierhoekie te skep waar jy óf nadat julle klaar gebraai en geëet het, kan aanhou kuier, óf dalk net om die vuurtjie skemerkelkies wil geniet. Kies ’n deel van jou tuin waar jy dalk ’n mooi uitsig het, of ’n onbenutte area. Wees wel versigtig as jy ’n houtdek het. Maak seker jy sit jou vuurput op hittebestande teëls en nooit direk op jou dek nie. Maak ook seker dat die area rondom jou vuurput ook hittebestande teëls het, vir wanneer kooltjies dalk uitspat.
Vuurputte op ons wenslysies
Bio-ethanol vuurput
Ons is gaande oor hierdie tipe meer omgewingsvriendelike vuurputte.
Pluspunte
- Omgewingsvriendelike brandstof
- Kan binne en buite gebruik word
- Rook nie
- Maklik en vinnig om te gebruik
- Jy kan dit enige plek neersit
Negatiewe punte
- Die bio-ethanol is nie altyd so maklik om te kry nie (jy kan dit nou nie op sixty-60 bestel nie).
- Die bio-ethanol brand nogal vinnig op. (Maak seker jy koop genoeg).
Nog groottes is beskikbaar op concreo.co.za
Gas vuurput
Nog ’n gewilde opsie is ’n gas vuurput. As jy reeds ’n gasbraai en ’n gaspunt in jou buite-area het, kan hierdie ’n goeie keuse wees.
Pluspunte
- Eko-vriendelik
- Rookvry
- Ideaal vir ingeboude vuurputte (as jy reeds ’n gaspunt buite het)
- Kan binne en buite gebruik word.
- Temperatuur kan gestel word.
Negtiewe punte
- Die gas vuurputte is taamlik duur
Houtbrand vuurput
Die meeste Suid-Afrkaners is mal oor ’n houtvuurtjie wat brand. Gelukkig kry ’n mens selfs vuurputte wat ’n skoorsteen insluit.
Pluspunte
- Daar is heelwat goedkoper opsies beskikbaar
- Dit skep ’n lekker atmosfeer
- Die meeste huishoudings het reeds braaihout
Negatiewe punte
- Dit rook
- Jy moet die vuur in stand hou
- Hoë risiko vir brandgevaar.
- Sommige stedelike gebiede verbied oop houtvure
Lees ook: