7 Redes waarom ’n mat ’n moet is, plus die mooiste matte op ons wenslys

’n Los vloermat voel nie net sag onder die voete nie, maar is een van die kragtigste stileertruuks in dekor kenners se ontwerparsenaal. Of jy dalk ’n vertrek wil opknap, of van voor af begin, die regte mat kan jou spasie se voorkoms, gevoel en vloei heeltemal verander. Ons deel 7 redes waarom ’n mat ’n moet is, moets en moenies wanneer jy matte kies, plus die mooiste matte op ons wenslysie. Deur Justine Kroes

7 Redes waarom ’n mat ’n moet is;

1. Dien as anker in jou spasie

Een van die grootste verskille wat ’n mat maak, is dat dit dadelik struktuur aan ’n vertrek gee, veral in ’n oopplan uitleg. Matte help om sitareas of sones visueel uit te lê en af te baken. Dit skep ’n intensionele ontwerpgevoel.

Wenk: in jou leefarea – kies ’n groot genoeg mat wat tot onder die voorste pote van jou banke/meubels inpas, dit skep ’n gegronde voorkoms. Met die regte grootte, plasing en styl kan een mat jou hele spasie transformer, met minimale moeite en maksimum impak.

2. ’n Mat bring warmte en gemak

Teëls, hout en betonvloere lyk dalk sjiek, maar dit kan ’n spasie vinnig koud en leeg laat voel. ’n Mat bring dadelik warmte en ’n gevoel van sagtheid in ’n spasie. En laat ’n vertrek meer uitnodigend en knus voel.

Wenk: plaas sagte matte langs jou bed of in sitareas waar jou kaal voete die meeste land. ’n Sagte mat onder die voet voel dadelik luuks.

3. ’n Mat bring kleur, patroon en persoonlikheid

Dink aan matte as kuns vir jou vloer. Dit is ’n maklike manier om kleur, tekstuur of patrone by jou spasie te voeg sonder om mure te verf of nuwe meubels te koop.

Yudu Rugs Voke Charles Cotton Rug (R4 600)

Matte het ook die krag om verskillende ontwerpelemente in ’n kamer bymekaar te bring en die hele spasie meer samehangend laat voel.

Wenk: Kies ’n opvallende mat met verskil as jou meubels neutraal is, of hou jou matkeuse eenvoudig as jou dekor reeds baie karakter het.

4. Verbeter akoestiek en skep ’n rustige atmosfeer

Harde vloere weerkaats klank en kan ’n vertrek se omgewingsgeraas selfs harder laat klink as wat dit is.

Matte absorbeer klank (en geraas) en skep ’n rustiger, meer gebalanseerde atmosfeer. ’n Moet-hê veral in besige huise of woonstelle.

5. Berskerm jou vloere en is veilig

Matte dien as ’n beskermingslagie teen skrape en krapmerke, veral in hoë-verkeer areas soos ’n gang of onder ’n etenstafel. Matte bied natuurlik ook ekstra greep en verminder glygevare.

6. Eenvoudige dekorverandering sonder duur opknapwerk

Matte is maklik om te vervang, ’n item wat jy seisoenaal kan uitruil of wanneer jy lus is vir ’n vars dekorgevoel. ’n Mat is een van die heel maklikste maniere om jou spasie nuut te laat voel.

7. Matte kan jou spasie se vloei verander

Dink opnuut oor jou mat se vorm, jy hoef nie noodwendig ‘n reghoekige of vierkantige mat te kies nie.

Indien jy dalk die vloei van die spasie wil verander, probeer ’n ronde mat, of nog beter ’n mat met ’n interessante vorm of een met kurwes.

Matte moets en moenies:

Moets:

Meet altyd eerste: ’n Mat wat te klein is, laat ’n vertrek kleiner en ongeorganiseerd voel. Die regte grootte mat sal die spasie ruimer laat voel. Maak seker jy meet vooraf jou spasie behoorlik.

Pas jou matkeuse by jou spasie se behoefte aan: Kies duursame, goeie kwaliteit matte vir besige areas. Kies byvoorbeeld sagter, donsige matte vir slaapkamers en sitkamers.

Eksperimenteer met tekstuur: Verskillende teksture skep diepte en visuele belangstelling in jou vertrek.

Gebruik ’n “rug pad”; ’n lagie onder jou mat wat help om jou mat in plek te hou (veral in hoë-verkeer areas). En beskerm boonop jou vloere.

Mr Price Home Non Slip Rug Tape (R199,99 vir 4m); Mr Price Home Rug Pad (R299 vir 120x180cm)

Moenies; algemene matfoute om te vermy:

Moenie ’n mat kies wat te klein is nie, ’n piepklein mat in ’n groot oop spasie kan ’n kamer vreemd en afgesonder laat voel.

Moenie meubels ignoreer nie, ’n mat wat nie onder meubels inpas nie, laat dit lyk asof alles indie spasie “dryf”.

Vermy onpraktiese materiale in morsige of hoë-verkeer areas, shaggy of delikate matte onder jou etenstafel is moeilik om skoon te hou.

Moenie jou mat laaste kies nie, gebruik dit eerder as vertrekpunt vir die res van jou dekor, jy sal verbaas wees hoe dit die ontwerp en uitlegproses vergemaklik.

Matte op ons dekorwenslysie:

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Blom-ysballe; doen dit so
error: Content is protected !!