Daar is min klere-items so snoesig en stylvol soos ’n pragtige (en warm) winterstrui. Hier is 7 van die mooiste truie nou op ons wenslysie. Deur Justine Kroes
Patrone bo!
Hierdie swart en wit streeptrui van Mr Price (R199,99) gee dadelik vir ons daardie sjiek Franse gevoel, en ons weet sommer al ons sal bloedrooi lippe hierby dra.
Kleurblok mooi – hierdie roesbruin en pienk trui van Me & B (R599) is soveel pret en sal beslis enige grou, koue wintersdag ophelder. Die patroon is uniek en sal jou beslis laat uitstaan.
Neutraal maar nie vaal
Die Witchery Wing Sleeve Knit (R999) is dalk beskikbaar in neutrale skakerings van ligbruin en grys, maar die struktuur en skouer-afwerking skep dadelik ’n netjiese en modieuse voorkoms. Die patroon het dadelik ons harte gesteel – dra dit meer formeel werk toe of selfs by jou denims en tekkies vir ’n gemaklike voorkoms.
Die diepbruin sjokoladekleur laat ons harte warm klop, hierdie Trenery trui (R1499) bestaan uit ’n kombinasie van merino- en alpakkawol. Albei word gekenmerk deur die luukse gevoel en ekstra hitte wat dit bied. Die afwerking op die skouers maak dit net daardie tikkie meer modern en “anders”, beslis ’n aanwins vir enige klerekas.
Pastel perfek
Pastelle vir die winter is hier om te bly, kyk net hoe mooi is die truie van Mr Price se nuutste Project reeks:
Mr Price Project Chenille Cardigan (R189,99). Hierdie opknooptrui lyk lieflik sag en gemaklik, dra dit by jou denim of kleurblok dit by jou pastelrompe en -rokke! (ook beskikbaar in geel).
Mr Price Project Knitted Slouchy Pullover (R179,99) in ’n lospassende styl met volume om die mou-gedeelte. Dra die allermooiste pastelpienk trui die maklikste by jou denim of neutrale broeke en rompe. Onthou om jou proporsies te balanseer. Die trui is reeds ’n oorgroot styl so maak seker jy dra ’n noupassende of “slim” broek of romp aan jou onderlyf.
Hierdie Mr Price Project Fluffy Knit Cardi (R199,99) laat ons dink aan ons ouma se truitjies wat ons wens sy vir ons gebêre het! Kyk net hoe oulik is die donsige kraag en die mooi afwerking op die knope.