Jy is óf ’n naguil óf ’n oggendmens (dalk bietjie van beide – gelukkige jy!) en ek as ’n naguil ken die gesukkel om aan die slaap te raak saans en weer vroeg op te staan. Ons het navorsing gedoen om soggens die wakkerwordproses te oorwin. Kenner Dr Dale Rae, Direkteur van Unversiteit Kaapstad se Slaap Wetenskap departement deel raad en 6 handige wakkerwordwenke vir naguile. Deur Justine Kroes
14/10/2022
1. Moet nie vroeg op staan nie
“Die eerste wenk, glo dit of nie, is om te probeer om nie vroeg op te staan nie”, so verduidelik Dr Dale Rae van die Sleep Science Institute aan die Universiteit Kaapstad. “Die rede hiervoor – as jy reeds ’n naguil is, is dit belangrik om jou liggaamsklok (body clock) aan te skuif. Die tipiese naguil se liggaamsklok is geprogrammeer om tussen 12 en half een te gaan slaap. Dus moet die persoon probeer om steeds ’n goeie nagrus in te kry en eers tussen agt of nege uur soggens op te staan.
Vir naguile is om vroeg op te staan gelyk daaraan om teen jou eie biologie te baklei.
Dale Rae
Word so laat as moontlik wakker
Die realititeit is ongelukkig dat meeste naguile kinders het om reg te kry vir skool of hulself gereed te moet kry vir werk. Daaroom is die moontlikheid vir langer inlê nie altyd ’n werkbare opsie nie. Die volgende beste wenk vir die naguil is om te probeer om so laat as moontlik op te staan. Dit sal help as jou beter helfte die voortou kan neem vir daardie eerste 30 minute van die dag en dalk ’n koffie kan bring om die wakkerwordproses aan te help.

Moenie ’n klomp alarms stel om te “snooze” nie, net een alarm vir so laat as moontlik, dit sal verseker dat jy soveel slaap as moontlik kan inkry.
2. Lig is belangrik
Sodra jy wakker word – skakel al die ligte aan en maak daardie gordyne oop en drink jou koffie naby die venster waar dit lig is. Die rede waarom die meeste naguile sukkel om wakker te word, is omdat hulle melatonien (jou slaap hormoon) steeds nogal hoog is. Melatonien is ’n hormoon wat jou liggaam saans vrystel om jou te laat slaap, en met naguile word hierdie hormoon al hoe later vrygestel omdat jy eers later gaan slaap.

Dis die rede waarom naguile soggens sukkel om hul oë oop te kry. Moet nie eerste ding soggens jou sonbril opsit nie – maksimum ligblootstelling verminder die melatonienvlakke en moedig verder die wakkerwordproses aan.
3. Kry ’n oggendroetine in plek.
Dr Dale Rae sê – neem ’n stort, dit sal die wakkerwordproses aanhits. Sy verduideik “naguile eet gewoonlik nie ontbyt nie, en die meeste voel nie juis beter na ’n groot ontbyt nie en dit is oukei, eet later wanneer jy gereed voel. Probeer wel ’n koffie inkry – die kafeïene sal bydra tot ‘n meer wakker jy.
Moet nie gedwing voel om te oefen nie – die meeste oggendmense kan vroeg opstaan en maklik gaan oefen, vir naguile is dit ’n moeilike taak. Skeduleer eerder jou oefening vir later in die dag en prioritiseer jou slaap.
4. Doen jou maklike werk eerste
Dit is ’n goeie idee om jou maklike werk soos eposse beantwoord en administratiewe werk wat nie baie breinkrag verg nie, sommer vroeg in jou werksdag af te handel. Onthou as naguil is jy steeds besig om wakker te work hierdie tyd. Hou dan die diep denkende werk wat meer breinkrag benodig vir die tweede helfde van jou dag.
5. “Truuk” jou liggaam om vroeër te gaan slaap
Probeer om goed af te skakel teen die einde van die dag en amper jou liggaam “truuk” om vroeër in die bed te kom. Probeer dalk ’n halfuur of meestens ’n uur vroeër as jou huidige slaaptyd in die bed klim. Hierdie eenvoudige stap sal klaar ’n reuse verskil maak aan jou opstaan en wakkerwordproses.
Wenke om goed af te skakel voor slaaptyd
- Kontroleer jou liginname voor slaaptyd. Minder lig en sagter, dowwe beligting in vertrekke laat toe dat jou liggaam meer melatonien (slaaphormoon) vroeër vrystel. Soggens wil jy probeer om jou melatonienproduksie te keer en saans wil jy dit aanhits sodat jy beter kan slaap.
- Probeer om nie te laat te eet nie of minstens 2 ure voor slaaptyd te peusel nie – eet is ’n stimulerende proses wat seine na jou liggaam stuur om wakker te wees.
- Probeer om nie op elektroniese toestelle te wees nie. Lees eerder ’n boek, indien jy nie kan nie, maak seker jy gebruik ’n blou ligfilter op jou skerm. As jy kan kies tussen foon of rekenaar of TV – kies eerder TV omdat die lig verder van jou oë af is, dit sal minder steurend vir jou slaap wees.
- Probeer ’n halfuur voor slaaptyd ophou met werk om ordentlik af te skakel – stel ’n goeie grens tussen werktyd en rustyd.
- Neem ’n rustige stort of bad voor slaaptyd, dit help om jou liggaamstemperatuur te verlaag wat in ruil ’n goeie slaapsein vir jou lyf is.
6. Betaal jou slaapskuld terug
Probeer slaap opvang en oor ’n naweek bietjie langer inlê – dalk vir so ’n uur en ’n half per oggend, is Dr Dale se raad.
Dit is ook belangrik om te weet; te veel slaap opvang is ook nie goed nie. Dit kan baie steurend vir jou liggaamshorlosie wees om een slaappatroon te volg tydens die week en ’n heel ander patroon naweke.
Dale Rae
5 tot 6 ure se slaap saans is nie genoeg nie – Dr Dale verduidelik selfs al kom jy klaar met die hoveelheid slaap is dit nie volhoubaar nie. Probeer gerus van die wenke volg om ’n beter slap- en opstaanroetine te beoefen.