Die nederige japon, daardie een item wat ons byna almal besit. Dink gou ’n bietjie, wanneer laas het jy jou japon ’n slag opdateer? Ons was self op soek en deel graag die praktiese, mooi, en snoesige japonne wat ons raakgesien het. Hier is ses gunsteling japonne tans op ons radar. Deur Justine Kroes
26/07/2024
Snoesige japonne
Tuis leef ek omtrent in my japon! In die winter kom ek by die huis en spring dadelik in ’n snoesige japon, sommer so bo-oor my klere!
My perfekte winterjapon-resep: nie te lank nie, ook nie te kort nie, dit moet nie soos ’n reënboog lyk wat ontplof het nie (ons wil natuurlik stylvol wees!) en dit moet sakke hê. (Ek dra sommer my lipsalf, legoblokkies en leesbril rond in die handige sakke).
Mr Price Fleece Gown with Hood (R180)
Hierdie japon tik al die regte boksies, snoesig, ’n mooi patroon en neutrale skakering. Plus, die “hoodie” gedeelte is ’n bonus om my kop warm te hou vir daardie laataande se sit en skryf. Boonop is die prys in die kol!
Hunkemoller Robe Short Zip Flannel Fleece (R999)
Gits, ’n japon wat byna nes ’n gemaklike jas lyk. Hierdie japon sal ek sommer op ’n school run dra (waar ek weet ek nie uit die kar sal klim nie 😉). Die kraag en ritssluiter laat dit effens netjies lyk en ek sal nie skuldig voel om tuis heeldag lank in hierdie japon rond te beweeg nie.
H&M Fleece Dressing Gown (R529 Superbalist)
Hierdie japon lyk lieflik sag en snoesig, die midi-lengte is ideaal, nie te lank nie maar ook nie te kort nie. Ons gunsteling deel – die sakke natuurlik!
Japonne vir warmer dae
In warmer weer is hierdie japon net so ’n lekker kledingstuk om gemaklik tuis in rond te beweeg. Loer hier vir 3 warmer weer japonne op ons stylradar:
The T-Shirt Bed Co The Maxi Gown (R838,95)
Suzanne sê: “ek het in die somer vir myself hierdie japon gekoop en dit is nou ’n absolute gunsteling, want ’n mens kry min japonne wat so lekker lank is. Dit is so ’n mooi japon en voel skoon asof ek ’n oorvou rok aanhet wanneer ek hierdie japon dra. Kan beslis hierdie vleiende, gemaklike japon aanbeveel. The T-Shirt Bed Co The Maxi Gown (R838,95)
Pyjama Collection Belle Gown (R1350)
’n Japon wat gemaklik lospassend sit, gemaak van ’n dubbele moeselien materiaal. Die mou-detail is uniek en iets besonders, veral vir die nederige japon. Die klokmou styl het rekke ingewerk, so jy kan jou moue opstoot indien nodig. Plus, hierdie knielengte japon het sakke! Die mooi ontwerp is beskikbaar in 6 verskillende skakerings.
’Elizabeth Summer Gown Kimono Indian Cotton Pink With Leopards (R980)
Hierdie patroon het natuurlik dadelik ons harte gesteel. Materiaal is van 100% katoen en kan tydens somer en winter gedra word. Daar word selfs voorgestel dat hierdie japon ’n dubbel doel kan dien as ’n kimono vir bo-oor jou swembroek in die somer!