Is julle spieëltafels ook alewig deurmekaar? Sukkel julle ook altyd om daai een verlore oorbel te vind? Ons het die oplossing gevind – mooi EN handige juweelkissies op ons stylradar. Dit is eenvoudig te moeilik om net op een te besluit! Deur Justine Kroes
01/04/2022
Pedersen Lennard Purl Jewellery Box (R2 990)
Hierdie kunsstuk van ’n juweelkis is ontwerp met die gedagte dat jou ritueel van juwele aansit elke dag ’n “mindful” ervaring met ’n tikkie waardering daarby moet wees.
Die uitgekerfde kontoere en lyne in die hout geïnspireer deur die rimpel-effek van wind op sand en water) is nie net mooi nie, maar ’n slim ontwerp vir armbande, ringe en hangertjies om netjies in te lê (veral vir daardie hangertjies wat so koek, die ergste!).
Die juweelkissie bestaan uit drie verskillende lae wat op mekaar gestapel word. Die eikehout word ook mooi gekomplementeer deur die koperspieël, wat daardie ekstra uniekheid aan die ontwerp gee.
Mooi Mirrors Jewel Organizer (R650)
Hierdie juweelkissie steek ‘n vreugdevlammetjie aan! Mooi Mirrors ontwerp die prettigste spieëls in skakerings van die reënboog, en toe ons hierdie oulike ontwerp sien, was ons sommer kinderlik opgewonde!
Hoewel hierdie houertjie nie tientalle slim afdelings of laaitjies het nie, is dit steeds ’n groot gunsteling – meestal omdat dit ons gelukkig sal maak om elke dag ons juwele in die sonneblomgeel houer te bêre of om dit op ons spieëltafel sien staan. Diejuweelorganiseerderse afmetings is 21×30 cm en kan in die skakering van jou keuse gemaak word. Loer ook hier na Mooi Mirrors se ontwerpe.
Umbra Moona Jewellery Storage Box (R1 599)
’n Netjiese spieëltafel is om die draai met hierdie groot juweelkissie. Die moderne halfsirkel ontwerp sluit drie laaie in wat 360 grade kan draai en swaai om seker te maak dat jy maklik jou juwele kan vind.
Die juweelkissie het selfs ’n spasie bo-op die houertjie waar jy groter items soos jou bril, horlosie of selfs parfuumbotteltjies kan stoor of uitstal. Die afmetings van die houertjie is 27,2 cm x 15 cm x 18 cm.
Country Road Zoe Jewellery Box (van R899)
Hoe mooi sal die as-hout lyk op enige spieëltafel nie. Die ronde (klein) of pilvormige boksie (medium en groot boksies) het vier handige kompartemente vir kleiner items soos ringe of oorbelle.
Daar is ook ’n klein spieël vas aan die deksel van die pragboksie wat jy regop kan laat staan. Die ashwood juweelkissie is beskikbaar in drie groottes, klein, medium en groot.
Yamazaki Tosca Accessory foldout tray (R399)
Hierdie slim Tosca Accessory Foldout Tray is die perfekte stoorplek vir jou ringe en oorbelle. Klein en kompak.
Die juweelkissie is ook die perfekte pasmaat vir daardie dames wat meer minimalisties is in hul benadering tot juwele dra. Die houer is gemaak van hout en staal en het 4 slim laaitjies wat uitvou om jou juwele in te bêre.
Die houer se afmetings: 10 cm W x 10 cm D x 12,2 cm H.