Ons was almal weke laas by die haarkapper, hier is hulp – ons 5 gunsteling planne vir sigbare wortels en uitgroeikleur. Deur Suzanne Kotze en Justine Kroes
1. Steek dit weg met ’n haarserpie
’n Haarserpie is nie net steeds ’n trendy mode-item nie maar dit red vinnig ’n slegte haardag, of dit nou uitgroeikleur is of hare wat lank laas gewas is. Jou haarserpie sal jou nog jou gunsteling bykomstigheid word. Die haarserpie hoef nie noodwendig ál jou uitgroeikleur weg te steek nie, maar dit help om dit te breek en die aandag weg te trek van die kleur.
Dit het jy nodig:
- Jou gunsteling-haarserpie of nekserpie (vierkantige sy-serpies werk die beste)
- Knippies
- Haarekkie
- ’n Klein bietjie geduld
Wenk: oefen totdat jy ’n styl vind wat die beste by jou pas.
Video: Kyk na die video vir verskillende style van hoe om jou haar serpie te stileer.
2. Kleursproei werk wonders
Hierdie L’Oreal Paris Magic Retouch Instant Root Concealer (R110 Clicks en Dis-Chem), is beslis een van ons gunsteling planne met uitgroeikleur. En werk wonders op ligte sowel as donker hare.
Justine sê: Hierdie kleursproei (die swart skakering) is my redding wanneer ek eeue laas by die salon was. Spuit eenvoudig die sproei aan op die gedeeltes waar jou uitgroeikleur die meeste sigbaar is. Op my hare is die uitgroeigedeelte op my middelpaadjie die ergste. Die kleur word blitsvinnig droog en voel nie nat of taai op my hare nie, dit is nie permanent nie en was ook na elke sjampoe uit.


Wenk: Hoewel die spuitnaald die aanwending van die kleursproei makliker maak, val daar tog partykeer ’n paar druppels. Gooi liefs ’n ou handoek om jou skouers wanneer jy jou kleursproei aanwend om jou klere te beskerm.
Suzanne sê: Ek konsentreer ook op my paadjie gedeelte en lig my hare effens op en spuit die kleur romdom my kroon en paadjie aan, van onder na bo. ’n Redder as ek vergeet het om my haarafspraak te maak en ewe skielik met uigroeikleur en grys sit.
Skakerings beskikbaar in bruin, swart, donkerbruin, ligblond, en donkerblond.
3. Kam ’n kuif of sigsagpaadjie
Ek dra meestal my hare met ’n middelpaadjie, maar dis waar my uitgroei kleur baie gou sigbaar is. Deur ’n kant-kuif te kam trek ek die aandag af van die duidelike lyne wat die middelpaadjie skep. ’n Sigsagpaadjie breek ook die sigbaarheid van die uitgroeiwortels en trek sommer ook die aandag af met ’n anderste styl.
4. Dra ’n haarband (aliceband)
Ek is gaande oor die groter opgepofte haarbande en dit steek uitgroei-kleur goed weg. Wenk: pas die haarband in die winkel aan (indien moontlik), want sommige haarbande is geneig om jou seer te druk agter jou ore. Ek verkies swart of helderkleurige haarbande wat mooi konstrasteer met my blonde hare. Pastelle, wit en room lyk weer vir my baie mooi by donkerkoppe.

5. Tekstuur en volume
My hare val altyd plat as die kleur begin uitgroei. Tekstuursproei en produkte wat jou haarwortels lig is een van my gunsteling planne met uitgroeikleur en help dat jou hare nie plat teen jou kop lê nie, werk goed. So is uitgroeikleur nie so sigbaar nie.
My ou staatmaker vir volume is Schwarzkopf Osis+ Session Label Powder Cloud (R276)

Enige droë sjampoe verrig ook wondere vir volume en tekstuur. Ek gebruik dit graag as stilleerproduk en nie noodwendig om my hare te reinig nie.
Lees ook: Hare: die mooiste uitgroei-vriendelike kleure en style