Konsertseisoen het aangebreek en daarby talle mammas se angsbevange gevoelens oor konsertgrimering vir die verhoog. Of jy nou ’n gesoute dansmamma is of net lipstiffie moet aanwend vir ’n skoolrevue – hier is ’n paar slim wenke vir die aanwend en verwydering van konsertgrimering. Saamgestel deur Justine Kroes
18/10/2024
15 Beste haar- en grimeerwenke vir konsertgrimering
Margaux Jackson van Melani School of Dance deel haar top haar- en grimeerwenke:
1. Oefen vooraf
Oefen vooraf jou kind se hare en grimering – dit gee jou as mamma ’n aanduiding van hoeveel tyd jy gaan nodig hê op die dag self. Dit help natuurlik ook vir die kinders om te weet wat om te verwag.

2. Bly koel en kalm
Onthou as jy angstig en gespanne optree, gaan jou kind dit aanvoel en ook begin angstig raak. Drink ’n glas wyn, haal diep asem, wees geduldig en ontspan.
3. Hou hande besig
Dit is veral vir die kleiner kinders moeilik om vir so lank stil te sit. Vind iets wat hul handjies kan besig hou soos kraletjies ryg of ’n storie kyk op ’n tablet of foon, is Margaux se raad. Nog ’n wenk is om vir kinders ’n paar versnaperinge te gee, dit lei hul aandag af en hou mondjies besig, sê Margaux.

4. Hidrasie is belangrik
Dit is altyd belangrik om die vel vir grimering voor te berei. Margaux sê “voordat jy grimering aanwend, wend ’n hidrerende vogroom aan. Dit werk soos ’n voorbereidingslagie (primer), en sal die grimering beter laat aanwend en langer laat hou. Plus dit maak die grimeerverwyderingsproses stukke makliker”.
5. Kies hipoallergeniese grimering
Dit is belangrik om hipoallergeniese grimering te kies. Wees op die uitkyk vir produkte wat spesifiek ontwikkel is vir sensitiewe oë en vel. Dit sal verhoed dat die produkte jou kind se vel of oë irritteer, raai Margaux aan.

6. Gebruik ’n sagte oogpotlood
’n Sagter jel potlood wend baie makliker aan as die tradisionele harde oogpotlode. Ons gebruik graag Essence produkte, dis sag op die oë en veroorsaak geen irritasie nie, verduidelik Margaux
7. Maskara wat bly smeer? Doen dit so:
Margaux deel ’n handige truuk vir maskara aanwend; “sê vir jou kind om reguit na jou bors te kyk (daar waar mamma ’n hangertjie dra). As hul ogies net reguit vorentoe kyk is dit baie makliker om die maskara foutloos aan die wimpers aan te smeer met die maskaraborseltjie. Dit werk soveel makliker as wat hul probeer op of af kyk, en met die knip van die oë smeer die maskara altyd.
8. Hande uit die gesig
Julle weet hoe dit gaan, wanneer jy besig is om lipstiffie aan te wend, jeuk jou kind se neus of oog ewe skielik! Herinner hul om nie aan hul gesiggies te vryf of krap nie. Frummel eerder die neusie of wys hoe hulle met ’n vingerpunt baie saggies op die area kan druk druk vir verligting eerder as om te vryf of krap.
9. Lipstiffie-aanwending
Die beste is om vir jou kind te sê om net hulle lippies sag te hou – nie styf te trek of soentjie lippe te pruim nie. As die lippies ontspanne is, smeer die lipstiffie veel makliker aan, sodra hulle die lippies styf trek en dan weer ontspan is wanneer die lipstiffie smeer en rondskuif sê Margaux.

10. Blosser; doen dit so
’n Kleiner blosserborseltjie is ‘n moet, sê Margaux. Mamma se groot blosserkwas sal kinders se hele wang rooi maak. Dit is belangrik om klein bietjie definisie te skep met die borseltjie. Laat hulle wangetjies insuig soos ’n vissie en wend net daar op die knoppie of appel waar dit mooi rond is, ’n klein tikkie blosser aan.
Jy kan selfs ’n roomblosser (cream blush) gebruik wat jy met jou vingers kan aansmeer – dit werk gewoonlik die heel maklikste. Dan smeer ’n mens nie die hele borsel oor die wang en maak ’n reuse rooi sirkel nie, is Margaux se wenk.
11. O gits, ’n blaps – maak dit só blitsvinnig reg:
As jy ’n blaps gemaak het, moet nie als afvee en van voor af begin nie; gebruik ’n oorstokkie met ’n klein tikkie miselwater (micellar) of grimeerverwyderaar om jou blaps skoon te vee. Ander kere is dit weer makliker om sommer net ’n tikkie onderlaag bo oor aan te wend, verduidelik Margaux.

Hierdie Quick Treat towerstaffie van glov gebruik ons self om enige grimeerblapse vinnig weg te vee. Dit pas soos ’n klein handskoen op jou vinger. Maak dit eenvoudig nat met water en vee die blaps weg.

12. Verwyder grimering so
Vir die skoonmaak, afvee en verwydering van grimering is dit baie belangrik om kleintjies se gesiggies en ogies goed skoon te vee om enige irritasie en velsensitiwiteit te voorkom.
Gebruik ’n katoenballetjie geweek in miselwater of ’n gesiglappie (wipe) spesiaal vir sensitiewe velletjies. Probeer ook om met ’n sagte room reiniger die gesig daarna te was, verkieslik een wat nie oë laat brand nie.
Nadat die gesiggie skoon gevee is, wend ’n lekker hidrerende gesigroom aan wat velletjies sal streel na die gebruik van al die onbekende grimeerprodukte waaraan hul velletjies nie gewoond is nie.

Psst probeer hierdie Stylvol wenk – ons gebruik daagliks grimeerverwyderlappies en hierdie een van glov werk soos towerkuns om grimering te verwyder. Jy maak eenvoudig die lappie met water nat (geen seep of chemikalieë nodig!) en vee grimering daarmee skoon. Hierdie een sit soos ’n handskoen om jou hand wat die skoonveeproses selfs nog makliker maak.
13. Gebruik ’n fyn kam vir hare
Maak seker jy gebruik die fynste kam wat jy het, en vermy dit om ’n borsel te gebruik, anders kry jy groot kam merke tussen die hare waar die kopvel uitsteek, sê Margaux. Kinders het gewoonlik nie baie hare nie (veral kleuters) en die fynste kammetjie sal verseker dat die kopvel nie sigbaar is met enige gapings tussen die jel-hare nie.
14. Haarsproei veiligheid
Wanneer die haarsproei aangewend word, laat jou kind sy/haar asem ophou vir ’n paar tellings met hulle hande bo oor hul ogies. Wanneer jy klaar gesproei het moet hulle wegloop van die area af anders gaan hul die haarsproei inasem. Margaux sê “Ons vind die aerosol kannetjies haarsproei het die heel beste houkrag op die hare, veel beter as daardie in die deursigtige sproeibotteltjies.”
15. Hare uitkam
As dit tyd is vir hare uitkam is die beste wenk om in ’n warm bad te lê met daardie jel en haarsproei hare onder die water vertel Margaux. Om haarsproei of jel net so uit te kam kan moontlik die hare beskadig. Die week-in-die-bad metode maak die hare sag voordat jy dit uitkam. Wend sommer lekker baie opknapper aan jou hare of gebruik ’n goeie detangling sproei. Onthou om altyd van onder (die punte) af na bo (die wortels) hare uit te kam is Margaux se top uitkamwenk.
