mode reels
mode reels

14 Modereëls wat jy gerus mag breek

Weg met daardie outydse modereëls soos “jy mag nie swart en bruin saam dra nie” of “jou skoene en handsak moet bymekaar pas”. Twee voorkomskonsultante deel graag 14 modereëls wat jy gerus mag breek, hoekom jy dit mag breek en wenke oor hoe om dit te doen, Nicqie Robinson en Simone Lombard deel graag hul kundige raad. Saamgestel deur Justine Kroes

1. Spesifieke items vir spesifieke seisoene

Hoekom jy dit mag breek: Met die huidige modeneigings van someritems in die winter (byvoorbeeld somerrompe of -rokke saam met stewels en ’n warm jas) is dit nie meer nodig om met die draai van seisoene jou hele klerekas uit te skuif nie. Nicqie Robinson

Doen dit so: Sorg dat jou klerekas so georganiseerd is dat jy heel jaar deur al jou gunsteling-items vining kan raakvat.

2. Groter vroue lyk beter in lospassende klere.

Hoekom jy dit mag breek: Die reël is absoluut bog. Groter, vormlose snitte gaan juis dít doen wat jy probeer wegsteek, jy gaan net meer vormloos en nog groter lyk.

Doen dit so: Probeer ’n balans skep tussen los- en noupassende klere. Byvoorbeeld noupassende broek as jy ’n lospassende top dra, is Simone Lombard se raad.

3. Swart is die vleiendste skakering

Hoekom jy dit mag breek: Nicqie Robinson sê “swart, vir my, beteken somber. Daarom vermy ek dit so ver moontlik.

Baie min vroue kan eintlik swart naby hulle gesigte dra (dis net te donker en voeg dadelik jare by hulle voorkoms). Donker kleure is wel meer vleiend vir die liggaam as ligter kleure, dit is waar, maar dit hoef nie noodwendig swart te wees nie.” 

Nicqie

Doen dit so: Daar is egter soveel ander opsies om van te kies as dit kom by donker kleure as net swart, sê Nicqie Robinson

4. Jy mag nie een skakering van kop tot toon dra nie.

Hoekom jy dit mag breek: Vandag noem ons dit monokroom-uitrustings, dit is trendy en eenvoudig om so ’n uitrusting saam te stel. Dis een van die maklikste maniere om ultra-stylvol voor te kom.

Doen dit so: As jy bang is om dit te probeer, begin eers met ʼn uitrusting in ’n donkerder kleur, byvoorbeeld donkerblou. Jy het tien teen een reeds al dié stukke in jou kas, sê Simone Lombard.

5. Swart en bruin gaan nie saam nie.

Hoekom jy dit mag breek: Bruin en swart is beide neutrale kleure en kan dus saamgedra word.

Doen dit so: Hou jou bruin ʼn ligter skakering soos tan, ligbruin of vaalbruin, is Simone se raad.

6. Jou skoene en handsak moet bymekaar pas.

Hoekom jy dit mag breek: Die reël sal die gewone Suid-Afrikaner finansieel ruïneer en jou vreeslik beperk. Dis ʼn verouderde konsep en net eenvoudig nié prakties nié.

Doen dit so: “Koop eerder handsakke in neutrale kleure soos bruin of swart” sê Simone Lombard

7. Slegs EEN helder kleur mag op ʼn slag gedra word.

Hoekom jy dit mag breek: Simone se raad; “Colour Blocking” (kleurblok) waar jy twee of meer helder skakerings saam dra is ʼn groot tendens. Jy kan selfs die kleure gebruik om verskillende liggaamsdele te beklemtoon of selfs te verbloem.

Nicqie Robinson stem hiermee saam “Ek wil vroue inspireer om juis BUITE hulle gewone denkrigtings te dink wanneer dit kom by kleurkombinasies.  Dis juis met daardie unieke kleurkombinasies wat jy jou eie styl kan uitleef”

Doen dit so: Probeer eers kleure van dieselfde ‘kleurfamilie’ bv. rooi, oranje, en pienk as jy huiwerig is sê Simone Lombard.

8. Jy moet koop en dra in stelle

Hoekom jy dit mag breek: Met my leuse “minimale items, maksimale uitrustings” koop ek glad nie stelle nie, sê Nicqie Robinson. Moenie jouself beperk om net stelle en bypassende pakkies te dra nie, meng en pas eerder jou items vir ’n unieke voorkoms.

Doen dit so: Voordat jy enige item koop, bepaal eers of jy hierdie item met ten minste drie ander items in jou klerekas kan meng-en-pas, is Nicqie Robinson se handige raad.

9. Lang vroue mag nie hakke dra nie.

Hoeveel keer het jy al die volgende gehoor? “Jy is klaar so lank, moet jy sulke hakke dra?”.

Hoekom jy die reël mag breek: Hoekom nie?

Raad: Moenie jou ore uitleen aan onnodige kommentaar nie! sê Simone Lombard.

10. Rooi lipstiffie is vir die aand.

Hoekom jy dit mag breek: Dis pret en ʼn maklike manier om jou voorkoms op te kikker.

Doen dit so: Hou die res van jou grimering minimaal en maak die lipstiffie jou fokuspunt. sê Simone Lombard

11. Mansklere is vir mans.

Hoekom jy dit mag breek: Simone Lombard sê “Dit is nie meer die 18de eeu nie en mansklere is soms goedkoper en selfs gemakliker. Kyk veral na goeie kwaliteit wit hemde.”  

Doen dit so: Die manlike snitte mag dalk nie te vleiend wees vir vroulike kurwes nie, so steek jou hemp in of dra ’n gordel om vorm te skep, hou ook die res van jou uitrusting vroulik.

12. Tekkies is net vir die gimnasium

Hoekom jy dit mag breek: Dis gemaklik en kan ’n uitrusting meer trendy laat lyk. Dit kan deur enige ouderdom gedra word en boonop is die kombinasies eindeloos – dra dit by denims, rompe en selfs jou rokke.

Doen dit so: Maak seker jou tekkies is netjies en skoon is Simone se topwenk hier.

13. Jy mag nie verskillende patrone meng nie

Hoekom jy dit mag breek: Dis pret en ʼn wonderlike manier om jou kreatiewe kant vir die wêreld te wys.

Doen dit so: Probeer een van die volgende

Dieselfde patroon in verskillende groottes. 

Speel met verskillende patrone van dieselfde kleur. Simone Lombard

modereels

14. Jy moet trend items dra en in die mode wees

Eerder as om ’n slaaf van modeneigings te wees, is dit baie belangriker om eerder te weet wat jou stylpersoonlikheid is. Verstaan jou styl, weet waarvan jy hou en wat vir JOU werk

Doen dit so: As jy jou stylpersoonlikheid vasgestel het, kan jy loer wat vir daardie spesifieke seisoen in die mode is, en dan kyk hoe jy daardie neiging kan laat werk vir jou, jou ligaamsvorm en jou stylpersoonlikheid, is Nicqie se raad.

Simone Lombard

Is ‘n voorkomskonsultant wat spesialiseer in styl en kleur-konsultasies, persoonlikse koper en stilis. Vir konsultasie navrae kontak vir Simone by simlobardimage@gmail.com. Volg vir Simone op sosiale media hier.

Nicqie Robinson

Is ‘n identiteits-stilis wat jou graag wil inspireer om die beste jy te wees!

Kontak vir Nicqie vir ‘n konsultasie by info@nicqie.com Volg vir Nicqie op sosiale media hier.

Lees ook: 10 maklike stileertruuks vir ‘n slanker voorkoms

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Kies die regte trui vir jou lyfvorm
error: Content is protected !!