Serpe as gordels, die onverwagse 2025 modetrend

Serpe, veral syserpe, is vanjaar ’n moet-hê modebykomstigheid. Die nederige serp het die stileerkrag om jou hele uitrusting aanmekaar te bind, letterlik en figuurlik!

Daarom sê ons, skuif verby leergordels en hallo syserpe. Die sagte stylvolle modebykomstigheid wat nie net om jou nek gedra kan word nie, maar om jou lyf ook.

Hier is ses wenke om hierdie mikro-modetrend op die 2025 manier te stileer, sonder om te lyk asof jy reg uit die 2000’s se Y2K modeblaaie gestap het.  Deur Justine Kroes.

Hoekom ons van serpe as gordels hou:

Veelsydig: Jou syserp is ’n veelsydige item wat ’n tikkie persoonlikheid bring na minimalistiese uitrustings en werk by enige silhoeët.

Volhoubaar: Dit moedig jou aan om klere aan te trek wat jy reeds in jou klerekas het, met die syserp as ’n kragtige modebykomstigheid

Spaar tyd: Hierdie stileertruuk verander blitsvinnig jou voorkoms deur eenvoudig ’n serp op ’n strategiese plek vas te bind en neem werklik net ’n paar sekondes.

Grootmens Y2K: Dink so daaraan – vir die van ons wat graag rompe en serpe tydens die 2000’s oor ons broeke gedra het is die trend terug – nou is dit net meer stylvol en sjiek.

Om ’n serp as ’n gordel te stileer is ’n mode mikrotrend wat terselfdertyd vars en tydloos voel. ’n Kreatiewe manier om ’n tikkie “flair” aan jou uitrusting te bring sonder om baie te hoef spandeer (baie van ons het reeds sulke serpe in ons kaste!).

Stileer so jou serp as ’n gordel: hier’s 6 idees:

1. By denims of ’n broek:

Vervang jou leergordel met ’n syserp wat ’n stelling maak. Rol jou serp en glip dit deur jou broek se lussies en bind ’n knoop langs die kant of voor.

Stylwenk: Laat die onderpunte los hang vir ’n gemaklike voorkoms, eerder as om die serp te bind soos ’n geskenkstrik. Dra hierdie by wyepyp denims.

Jy kan dit natuurlik ook “bandana-styl” by ’n T-hemp en denims dra om jou gemaklike voorkoms te verhef. Hierdie truuk verander ’n doodgewone denim en T-hemp voorkoms in ’n elegante, sjiek en modieuse fashion forward een.

2. Oor jou jas of blazer baadjie

Hierdie is ons gunsteling manier om die trend te stileer, sjiek,stylvol en eenvoudig.

Bind jou serp rondom jou middel om vir jou lyfvorm meer definisie te gee. Die serp gee boonop daardie ekstra tikkie persoonlikheid, tekstuur en diepte aan jou uitrusting.

3. Serpe oor rompe

Vou jou vierkantige syserp in ’n driehoek (bandana-styl) en bind oor jou romp om jou middel te beklemtoon

 4. Om jou rok

Hierdie is ’n fantastiese stileertruuk om vorm en struktuur aan jou lospassende rokke of hemprokke te gee. Jou uitrusting lyk dadelik verhef en netjies bymekaar gesit.

5. Maak ’n monokroom uitrusting meer interessant

Bind ’n patroonserp bo-oor ’n monokromatiese uitrusting vir ’n interessante stylelement.

6. Maksimalistiese stilering met serpe

Indien die maksimalistiese, “meer is meer” aanslag tot stilering soos jy klink, moenie huiwer om verskillende kleure en patrone te meng nie.  Dink aan blompatrone en strepe sommer so bymekaar vir ’n vars en energieke voorkoms.

Moets en moenies:

Moet:

Kies serpe in ’n syerige materiaal of selfs ’n sagte katoen, hierdie gaan die maklikste werk om vas te bind.

Eksperimenteer met kleur en patrone – hier kan jy behoorlik jou stylpersoonlikheid uitleef.

Bind jou knoop voor of aan die kant afhangend van jou uitrusting.

Moenie:

Bonkige serpe met stywe materiale gebruik nie – dit sal nie vleiend om jou lyf sit nie.

Moenie die serp te styf vasbind nie, hou dit sag en gemaklik.

Onthou om altyd balans aan jou uitrusting te bring, indien die serp bont is, hou die res van jou uitrusting eenvoudig (indien jy nie ’n maksimalistiese stylpersoonlikheid is nie).

Serpe op ons kooplys

Asatsi Africa The Ayaan Leopards (R990)
Mantua Silkwear Elements Scarf (R1600)
Mantua Silkwear Wagara Scarf (R1600)
Asatsi Africa The Ina Scarf (R990)
Poetry KLûK CGDT x Poetry Silk Scarf (R599)
Wanderland Collective Anastasia Pather Hairy Caterpillar Silk Twill Scarf (2,800)
Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Jou gids tot geleentheidsdrag
error: Content is protected !!