14 goed wat jy omtrent vitamien C en jou vel moet weet

Ons maak staat op vitamien C sodra daar ’n sweempie van verkoue is. Vitamien C is egter net so belangrik vir ’n gesonde, stralende vel. Gedurende die somer help dit ook om jou vel (saam met sonskerm) teen die son te beskerm. Net soos ons in ons geestesoog sien hoe die vitamien C in lemoene ‘kieme’ vernietig, so help vitamien C om ons vel teen vrye radikale (wat ons vel se DNS beskadig) te beskerm. Die regte formule en verpakking is uiters belangrik, want die vitamien kan wel onstabiel wees. Deur Suzanne Kotze

Dit moet jy omtrent vitamien C en jou vel weet

1. Vitamien C is ’n kragtige anti-oksidant

Vitamien C neutraliseer vrye radikale wat ons vel se DNS beskadig

Maar eers hoe werk anti-oksidante en wat is dit?

Oksidasie

Oksidasie is ’n natuurlike proses – dink maar aan ’n appel wat bruin word sodra dit geskil is en aan lug (suurstof) blootgestel word. So beïnvloed oksidasie, wat meestal deur vrye radikale veroorsaak word, ook ons velle.

Vrye radikale

Vrye radikale is suurstofmolekules wat ’n elektron verloor het en onstabiel is. Hulle probeer hulself genees en steel elektrone by gesonde molekules, wat op hul beurt net nog vrye radikale vorm en in die proses ons selle beskadig. Vrye radikale word nie net deur ons liggame vrygestel nie, maar ook deur eksterne faktore soos besoedeling, sonlig en sigaretrook.

Anti-oksidante

Anti-oksidante neutraliseer en keer vrye radikale. So help dit keer dat vrye radikale die molekulêre struktuur van ons DNS beskadig. Vitamiene C is ’n kragtige anti-oksidant.

2. Dit beskerm jou vel teen omgewingsfaktore

vitamien C besoedeling

“Soos bo verduidelik is omgewingsfaktore soos sonligradiasie, lugbesoedeling, digitale besoedeling (blou lig), rook (brandende tabak), abnormale sirkadiese ritmes (slaap), hoër temperature as gevolg van infrarooi radiasie en veranderinge aan ons mikrobioom alles sleg vir ons velle.” So vertel dermatoloog dr Nivana Ramlachan. Vitamiene C help jou vel beskerm hierteen.

3. Dit is veral belangrik om produkte met vitamien C soggens aan te wend

Juis omdat ons vel gedurende die dag aan so baie omgewingsfaktore blootgestel word. Wend jou vitamien C serum aan nadat jy jou gesig gewas het, en voordat jy jou dagroom en sonroom aanwend.

4. Vitamien C is nodig vir kollageensintese

Sonder genoegsame vitamien C in jou liggaam kan kollageensintese nie plaasvind nie. Kollageen (wat natuurlik in ons velle voorkom en onder meer help keer dat dit hang) neem af namate ons ouer word.

  • Sonder vitamien C kan kollageensintese en storing egter nie plaasvind nie.
  • Vitamien C help om die selle bymekaar te hou gedurende die vorming van kollageen.
  • Omdat vitamien C onder andere nodig is vir mooi hare, naels en ’n glansende vel, word daar dikwels na vitamien C as die ‘vanity vitamin’ verwys.

Maak seker jy kry genoeg vitamien C in deur jou dieet. Tamaties, soetrissies, mango’s, kiwivrugte, koejawels, pynappels, papajas, sitrusvrugte en groen groentes is goeie bronne. Topikale aanwending (soos ’n velsorgserum) kan ook help.

5. Lugdigte verpakking is noodsaaklik

Sodra vitamien C aan lug (suurstof) blootgestel word, word dit onstabiel. Dit sal nie skade aan jou vel doen nie, maar dit gaan nie die werk doen wat dit veronderstel is om te doen nie. Maak dus seker jy koop ’n produk wat lugdig verpak is. Deurskynende glasbotteltjies (om nie eers van oopdraaipotjies te praat nie) is ’n nee. Stoor die houertjie ook uit direkte sonlig en hitte.

6. Die rakleeftyd is belangrik

Jy mag dalk verbaas wees om te hoor dat sommige formulasie, maar ’n paar weke hou. Jou vitamien C velsorgproduk is bedoel om gebruik te word nadat jy dit oopmaak. Dit is nie een van daardie produkte wat jy kan gebruik, ’n breek neem en iets anders gebruik voordat jy dit weer gebruik nie. Maak dit oop en gebruik dit klaar!

7. Ander name is L-askorbiensuur en askorbiensuur

Op die bestanddelelysie sal jy selde ‘vitamien C’ sien, maar eerder L-askorbiensuur (L-ascorbic acid) of askoborbiensuur (ascorbic acid).

8. Vitamien C help met bruin vlekke en pigmentasie

Vitamien C kan help om pigmentasie ligter te laat lyk, aangesien dit melanien (die pigment verantwoordelik is vir ons vel se kleur) produksie kan help onderdruk.

9. Dit kan jou vel meer glansend laat lyk

Vitamien C het ook anti-inflammatoriese eienskappe wat rooiheid kan help verminder en jou gelaat meer eweredig kan laat lyk. Dit tesame met die vermindering van vlekke en pigmentasie kan jou vel meer glansend laat lyk.

10. Dit kan help om jou vel teen die son te beskerm

Die gebruik van ’n vitamien C-serum gedurende die somer is een van die slimste maniere om jou vel te ondersteun en te beskerm. Vitamien C is ’n kragtige antioksidant wat help om vrye radikale wat deur UV-strale, besoedeling en hitte gegenereer word, te neutraliseer. Alhoewel dit nie sonskerm vervang nie, werk vitamien C saam met SPF om die vel se verdediging teen omgewingskade en voortydige veroudering te versterk. Gereelde gebruik kan help om die voorkoms van pigmentasie veroorsaak deur sonblootstelling, donker kolle en onewredige velkleur te verminder, probleme wat dikwels vererger met verhoogde sonblootstelling.

11. Vitamien C kan help om plooie gladder te maak

In ‘n wetenskaplike studie is bevind dat die gebruik van ’n topikale vitamien C formule plooie aansienlik verbeter het.

12. Die regte persentasie is belangrik

Nie te min nie (onder 10%, oneffektief) en ook nie te veel (bo 20%, mag sensitiwiteit verhoog) nie is ’n goeie reël om te volg as dit by vitamien C kom.

13. Vermy Retinol saam met vitamien C

Probeer om nie Retinol en vitamien C saam te gebruik nie, want dit kan senstiwiteit veroorsaak. Gebruik dit eerder soggens (vitamien C) en saans (Retinol) of op verskillende dae.

14. Die kleur wys of dit geoksideer het

Hoe om te weet of jou vitamien C-serum sleg geword/geoksideer het?
Kleurverandering is die grootste leidraad

  • Vars L-askorbiensuurserums is helder of baie ligte strooikleurig.
  • Soos vitamien C oksideer, word dit geel → amber → oranje → bruin.
  • Sodra dit donkergeel of bruin is, is dit grootliks nie meer effektief nie.

Vitamien C serums om te probeer

Avène Vitamin Activ Cg Radiance Corrector Serum (R770, Dermastore)
Dermalogica biolumin-c serum (R830, R2149 vir 30ml Woolworths)
Drunk Elephant
C-Firma™ Fresh Day Serum (R1890, Arc Store)
Endocare Radiance C Ferulic Edafence Serum (R1230, dermastore)
Eucerin Hyaluron- Filler Vitamin C Booster Serum (R869, Clicks)
Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Die beste skeerwenke vir melkbaarde, hardebaarde en selfs volbaarde
error: Content is protected !!