Jy dink dalk jy was net effens deurmekaar en vergeetagtig as kind, maar baie volwassenes kom eers agter hulle het AAHS (aandagafleibaarheid-hiperaktiwiteitsindroom) wanneer werkdruk te erg raak of verhoudings daaronder begin ly. Deur Suzanne Kotzé.
06/05/2022
“Baie van my pasiënte se ouers kom eers agter dat hulle self AAHS het, wanneer hulle kind daarmee gediagnoseer word. Wanneer ons begin praat oor tekens van AAHS, snap die ouer of ouers baie keer dat dit maar te bekend voel,” vertel Kaapse psigiater dr. Laura Comrie. “Dit was selfs die geval met my eie man ook. Vir jare het ek die onderwerp probeer inbring dat hy dalk AAHS het, maar hy wou my nooit glo nie. Eers toe ons kind daarmee gediagnoseer is, het hy dit ook regtig besef.”
13 tekens dat jy dalk volwasse AAHS het
Dr. Comrie deel haar bevindings:
“Hierdie tekens voel dalk bekend en normaal vir baie van ons, maar dit is die hoeveelheid en graad hiervan en hoe dit jou daaglikse lewe, verhoudings en loopbaan beïnvloed wat daarop dui dat jy AAHS het of nie het nie.”
1. Hiperfokus
Jy hiperfokus op iets waarin jy belangstel, of dit nou ’n Excel vorm is of boeklees. En alhoewel dit normaal kan wees, is jou fokus van so ’n aard dat jy byvoorbeeld nie hoor of enige iets anders agterkom, selfs as iemand jou naam roep nie. Wanneer iemand jou wegtrek uit jou taak, voel jy geïrriteerd en sukkel om weer te fokus.
2. Sukkel om stil te sit
’n Been wat op en af bons, jy spring op gedurende ’n fliek om iets te gaan kry of jy vroetel gedurende vergaderings. Dit is alles tekens van AAHS. Al vroetel jy dalk nie, voel jy steeds rusteloos; soos asof jy iets moet gaan doen, maar jy hou jouself terug. Veral vroue is meer bewus daarvan dat dit nie sosiaal aanvaarbaar is om te vroetel nie, so hulle onderdruk dit, maar voel dan rusteloos. Dit is een van die hoofredes waarom dogters minder as seuns gediagnoseer word met AAHS.
3. Jou denkwyse word maklik onderbreek
Jy praat oor iets en vergeet dan wat jy volgende wou sê.
4. Jy spring van een onderwerp na die volgende
Die een oomblik praat jy oor een onderwerp, jy dink aan iets anders en begin dadelik daaroor praat sonder dat jy die vorige gesprek of onderwerp afgehandel het. Mense met wie jy praat voel dikwels of hulle dalk iets gemis het, omdat jy so van een onderwerp na die volgende spring.
5. Jy blaker jou antwoorde of opinie uit
In ’n klaskamer blaker kinders met AAHS dikwels die antwoord uit, voordat hulle nog gevra word daarvoor. Volwassenes blaker weer dikwels hulle opinie uit. Of sukkel om ’n gesprek te volg omdat hulle die heeltyd dink aan wat hulle volgende wil sê en onderbreek dikwels gesprekke om dit te doen.
6. Ongeorganiseerd

Jy verloor die heeltyd goed en vergeet van afsprake. Jou lessenaar lyk dikwels of ’n orkaan dit getref het.
7. Impulsiwiteit
Jy gaan winkel toe om iets te koop, en kom dan terug met ’n klomp koel goed wat nie nodig was nie, maar dit wat jy eintlik moes gaan koop, het jy vergeet.
8. Sleg met begroting
Jy blaas dikwels jou salaris sodra jy betaal word op byvoorbeeld ’n duur handsak, maar het dan nie geld vir skoolfonds of om rekeninge te betaal nie.
9. Ongeduldig
Jy raak verveeld met lang verduidelikings of ongeduldig as enige iemand te lank neem om iets te doen.
10. Padwoede

Jy raak dikwels baie kwaad terwyl jy bestuur of bestuur self baie vinnig.
11. Sleg met multi-take
Hierdie gaan dikwels met hiperfokus saam. Jy sukkel om van een taak na die volgende oor te gaan. Jy sukkel om meer as een taak op ’n slag te doen.
12. Jy bereik nie jou potensiaal nie

Sodra die druk van byvoorbeeld universiteit of werk te veel raak of wanneer jy op meer as een ding moet fokus, voel jy oorweldig. Al is jy dalk slim genoeg om hierdie take te kan doen, kan jy dit net nie klaarmaak nie. Dit word dan ’n bose kringloop wat jou selfvertroue beïnvloed. Jy het dikwel groot en goeie idees, maar jy kan dit nie voltooi nie, want jy word verveeld of jou aandag word afgelei.
13. Jy het goeie bedoelings, maar laat mense dikwels in die steek.
Jy is dikwels die eerste een om hulp aan te bied, maar vergeet dan weer van wat jy beloof het, of jou aandag word afgelei deur iets anders.
‘Daar is geen towerpil wat AAHS net gaan regstel nie, veral nie as jy reeds ’n volwassene is nie. Medikasie kan jou help om te fokus maar jy moet steeds gedragsmeganismes in plek stel.
Dit sluit in
- Lysies
- Om goed georganiseerd te hou
- Om soveel moontlik orde en struktuur in jou omgewing te hê.