Grimeerkunstenaar Raine Tauber deel haar beste wenke vir ’n songesoende brons voorkoms. Klou gerus vas aan die sorgvrye gevoel wat somersdae bring deur met sagte brons grimeerskakerings te speel. Deur Suzanne Kotzé
18/03/2022
Chanel La Pausa grimeerversameling
Hierdie mooi voorkomste is met Chanel se La Pausa grimeerversameling geskep. Die inspirasie vir die reeks is Gabrielle Chanel se villa by die Franse Riviera genaamd La Pausa. Die sagte lig, aardse skakerings en die skitterende sonlig rondom die villa word weergegee in hierdie grimeerversameling.
Van die mooiste verbronsers, wat jou beslis songesoen laat lyk, tot nuwe nuwe lipbalsems (wat die eintlike rede vir die versameling is) en natuurlik ’n Les 4 Ombres (Chanel se bekende vierpalet oogskadu’s) is ook deel hiervan. Daar is selfs ’n sonmotief op die blosser en oogskadu om die spesiale versameling te vier.
Grimeerwenke vir ’n songesoende brons voorkoms
1. Gebruik brons skakerings op jou oë, lippe en wange
Hou jou voorkoms monokromaties, deur dieselfde tipe skakerings (tones) op jou wange, oë en lippe te gebruik.
2. Kies wat jy wil beklemtoon
Kies óf jou oë óf jou lippe as jy een sterker voorkoms wil skep. Hou dit andersins meer neutraal op jou hele gesig om ’n algemene, meer natuurlike brons voorkoms te skep.
3. Jou blosser, beklemtoner en verbronser moet saamsmelt
As jy blosser, beklemtoner en verbronser gebruik is dit belangrik dat mens nie enige lyne sien waar die een ophou en dit ander begin nie. Dit is belangrik om dit goed in te meng.
4. Verbronser net onder jou wangbene
Begin met verbronser net onder jou wangbene opwaarts na jou wange en wend ’n ligte lagie aan net waar jou wang begin, jou voorkop, en op die brug van jou neus.
5. Blosser op die appel van jou wang
Baie vroue wend hulle blosser te laag aan; wend dit op die appel aan, nie onder die appel nie.
6. Geen beklemtoner (highlighter) naby jou oë.
Wend jou beklemtoner op die bokant van jou wang aan, maar wees versigtig om nie te naby aan jou oog-area te gaan nie, aangesien dit fyn lyntjies kan beklemtoon. As jy jou vinger net onder jou oog hou, moet die beklemtoner glad nie in die daardie holte kom nie. In plaas daarvan om jou beklemtoner opwaarts te meng, meng dit ondertoe sodat dit ook soomloos meng met jou blosser en verbronser. Geen harde lyne moet sigbaar wees nie.
7. Beklemtoner kan jou oog-area lig
Beklemtoner onder jou wenkbroue net onder die hoogste deel en ook net bo, dit skep die illusie dat jou wenkbrou gelig is. Raine se gunsteling beklemtoner om te gebruik is Chanel Baume Essential.
8. Jou verbronsingpoeier moenie te rooi of oranje wees nie
As jy ’n ligte vel het, vermy rooi of oranje verbronsingpoeier, kies eerder olyfkleurige skakerings.
9. Gebruik ’n voorbereidingslagie om sprankelende oogskadu in plek te hou
Wend ’n eyeprimer aan as jou oogskadu geneig is om onder jou oogarea te beland (en fyn lyntjies te beklemtoon).
10. Romerige op vloeibare oogskadu is beter vir plootjies
Romerige of vloeibare oogskadu mors nie blink deeltjies in jou plooitjies nie en is vinnig om aan te wend. Die goue en koper sonlig van Côte d’Azur is die inspirasie.
11. Oogpotlood en oogskadu oor mekaar
Jy kan ook ’n oogpotlood gebruik in jou gunsteling metaalskakering en dit aanwend waar jy jou oogskadu sal aanwend. Daarna kan jy die oogskadu bo-oor dit wend. Die potlood sal die oogskadu in plek hou.
12. Oogskadu kan ook as beklemtoner gebruik word
Raine het die ligste oogskadu van die Les 4 Ombres op Suzanne gebruik as beklemtoner. Die khakibruin kleur in die palet is soos die van die olyfbome rondom die villa, terwyl die goue en koper skakerings soos die sonlig in die area is.
13. Warm lipkleure komplimenteer die voorkoms
Vermy koue, gryserige lipkleure. Warm kleure, appelkoos, baksteen en oranjerooi is almal goeie pasmaat vir die voorkoms. Die skakerings van Rouge Coco Baume werk natuurlik almal goed hiermee saam. Die lipkleure is eintlik balsems met kleur by. Dit voed en streel jou lippe terwyl dit mooi kleur ook gee. Raine se gunsteling manier om die lipkleure te gebruik is om dit in die liparea in te ruk, sodat dit amper effens gesmeer en onperfek lyk. “Dit is beslis ’n groot trend,” vertel sy.