12 Winter modefoute

Dis koud, ons weet, ons voel self so asof ons sommer net alles in ons klerekaste wil aangooi! Maar dink dalk twee keer – maak jy dalk een van hierdie 12 winter modefoute? Stylkenners en voorkomskonsultante deel hulle raad en wenke om hierdie winter modeblapse te vermy: Saamgestel deur Justine Kroes

23/06/2023

1. Jou lae tel teen jou

Voorkomskonsultant Simone Lombard verduidelik “Jy dra dik en bonkige items op die verkeerde deel van jou liggaam, byvoorbeeld as jy groot borste het, moet nie ’n massiewe serp dra wat op jou borste lê nie. Die area sal heeltemal uit proporsie met die res van jou liggaam wees.

2. Los, los en nog los

 “Op die oomblik is alles “oversized” en dit maak dit moeilik om by die proporsie-riglyne te hou soos byvoorbeeld vermy los by los klere” verduidelik Stylkenner en voorkomskonsultant Susra Matthee. “Hoewel dit tans ’n groot trend is, is dit feitlik vir niemand vleiend om ’n los baadjie, hemp en broek saam te dra nie, dit sal jou eenvoudig groter laat lyk. Volg eerder die trend so: dra ’n los broek en baadjie, maar maak dan seker jou hemp of bloes is noupassend om steeds vorm en balans aan jou lyf te gee.

3. Jy balanseer nie proporsies nie

Voorkomskonsultant Jeanine Thereon sê “Verkeerde balans en proporsie kan ’n uitrusting outyds en onvleiend laat lyk – vermy kledingstukke wat van kop tot tone styf gespan sit. Dit is outyds en onvleiend. Probeer eerder die toebroodjie tegniek: dra dieselfde item bo en onder met ’n kontrasterende item in die middel.

Nog ’n voorbeeld van so ’n fout wat baie vroue maak is om ’n groot top te dra met ’n stywe broek en stywe stewels. Dit kan jou “top heavy” laat lyk – probeer eerder om growwer en bonkiger stewels onder te dra wat die groter bo-stuk/bloes uitbalanseer.

4. Laat gaan daardie ou oninteressante serpe

Voorkomskonsultant Lizanne Anderson van hello beautiful image and style sê “’n Serp is ’n handige manier om jou warm te hou, en terselfdertyd ’n maklike manier om jou uitrusting te verhef deur kleur en belangstelling in jou uitrusting te bring. Baie vroue dra klein en oninteressante serpies in oudmodiese patrone, in plaas daarvan om eerder ’n bonkige, moderne, sagte kombersserp te probeer. ’n Serp word reg onder jou gesig gedra, onthou om een te dra in ’n kleur wat by jou veltoon pas. ’n Bonkige serp kan sommer net oor jou skouers gegooi word, en hoef nie altyd om jou nek gedraai te word nie.”

5. Jy dink nie prakties oor jou kopies nie

Dun en ligte materiale lyk vreemd in die winter, vir die eenvoudige rede dat dit nie warm genoeg is nie, sê Susra. “Jy kan vir seker in die winter ’n rok dra, maar dit moet van ’n warmer of dikker materiaal gemaak wees, soos breistof of ’n dik of sintetiese lap wat warmer is. ’n Denimbaadjie is vir die somer, lente en herfs – dit is nie warm genoeg vir die winter nie. Verruil dit in die winter vir ’n leerbaadjie, jas of trui. Of dra eerder die denimjasse wat nou so gewild is.”

6. Jy vergeet van bykomstighede

Moenie van jou bykomstighede vergeet nie, verduidelik voorkomskonsultant Simone Lombard. “Net omdat jy nie jou nek wys nie, beteken dit nie jy moet geen bykomstigehede dra nie. Dra ’n polonektrui met ’n hangertjie wat bo-oor die trui hang. Jasse en mussies tel ook as bykomstighede, moenie daarvan vergeet nie!”.

7. Jy kies nie die regte jas vir jou lyftipe nie

Simone verduidelik dat baie vroue nie die regte jas vir hul lyfvorm kies nie, en ons stem hiermee saam, loer hier na ‘n artikel oor ons beste jaskoop-wenke, asook hoe om die regte jas vir jou lyfvorm te kies:

8. Gee nie aandag aan denims nie

Denims bly ’n baie gewilde keuse vir die winter verduidelik Susra “maar ek sien daar is baie dames wat nie aandag gee aan hul denims nie. Indien jou jeans uitgerek, uitgewas is of nie genoeg ondersteuning gee nie, gaan jy slonserig lyk. Ek probeer my jeans gereeld vervang, en waar ek kan die denim trends volg.”

9. Jy dra outydse, nie-so-stylvolle jasse

Lizanne sê “Ek sien baie vroue kies om te bly by korter, nie-so-stylvolle winterjasse wat bloot net prakties is en nie noodwendig stylvol is nie. Daar is wel tans soveel stylvolle opsies daarbuite wat steeds lekker warm, prakties en stylvol kan wees. Lang slootjasse, sagte materiaalbaadjies, pofferbaadjies, wolmengsel jasse en lekker lang faux leerjasse. Almal jasstyle wat jou hele uitrusting mooi sal afrond en daai ekstra laag van interessantheid aan jou uitrusting sal gee.”

Loer gerus hiervir ’n klompie jasse tans op ons wenslysie:

10. Enkelstewels weggesteek onder broeke

“Een fout wat ek gereeld vroue in die winter sien maak in hul uitrustings, is broeke wat bo-oor enkelstewels gedra word (die broek steek so te sê die stewel weg).” Lizanne sê “Dit laat dadelik vroue korter en bonkiger vertoon. Wys eerder daai mooi enkelstewel af. Onthou die goue reël met enkelstewels en broeke; die broek moet liefs net bo of reg op die boot se bokant eindig. Jou broek kan selfs net eenkeer klein opgerol word (so 1-1,5 cm). Dit skep ’n baie meer stylvolle voorkoms en sal jou hele uitrusting verfyn.

Nog ’n stylkonsep om te onthou, is dat die stewel se been so na as moontlik dieselfde as die broek se pypwydte moet wees. Dan kan die broek reg op die boot eindig en rus. Anders moet die broek verkieslik effe opgerol word of korter gemaak word.

11. Lang jasse by kort lywe

Susra sê “Die lang “duster” en ‘trench coats’ is groot nuus vir die winter. Maar ongelukkig is dit nie ’n ideale jas vir jou as jy petite (korter as 1,63 m) is nie. Dit sal lyk of jy verdrink in die jas en jy sal selfs nog korter lyk. Jasse tot by jou knieë (of korter) is die beste opsie vir korter lywe. Kies ’n jas wat tot op jou knieë hang, of effens korter, vir die mode bewuste petite lywe, aangesien kort jasse tans nie ’n groot mode-item is nie.

12. Jy dra die verkeerde kleur

“Ek sien so baie dat vroue die verkeerde kleur dra, net omdat dit in die mode is, of hulle daarvan hou. Om die verkeerde kleur te dra se impak is té groot. Dit kan jou ouer of self siekerig laat lyk – en wie wil dit hê. Maar! Indien jy nie weet watter kleure by jou pas nie, kan ’n stylkonsultant jou daarmee help.” Susra Matthee

Voorkomkonsultante

Simoné Lombard – kontak haar by simlombardimage@gmail.com en volg haar op sosiale media hier.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
knoop en doop
Knoop-en-doop-mode: doen dit self
error: Content is protected !!