Dit is jaskoop seisoen en ons is opgewonde oor al die verskillende style, skakerings en teksture tans beskikbaar. Maar wag eers voor jy ten duurste daardie jas koop en maak seker jy kies die beste jas vir jou lyfvorm en stylpersoonlikheid. Lees hier vir 7 van ons beste jaskoop-wenke plus 19 jasse op ons winter-inkopielys. Deur Justine Kroes
05/05/2023
1. Kies ‘n jas wat jou lyfvorm vlei
Appel vorm

Jou middel, bors- en heupmate is na aan mekaar. Met ’n appel-lyfvorm het jy nie ’n gedefinieerde middel nie. Jy sal die beste lyk in ’n A-lyn styl-jas wat die illusie van ’n kleiner en smaller middel skep. ’n Jas met ’n gordel wat om die middel vasbind is nog ’n goeie opsie vir ’n appelvormige lyf.

Uurglas of X-lyfvorm

Jou lyf is goed in proporsie, jou skouers en heupe is in verhouding met mekaar. Jy is dieselfde grootte bo en onder en jy het ’n goed gedefinieerde middellyf. Die meeste jasse sal goed werk vir jou, maar veral jasse wat jou klein middel verder beklemtoon. Kies A-lyn jasse, sodaatstyl jasse en pofjasse met gordels.

Peer- of driehoek-lyfvorm

’n Peervormige lyfvorm lyk so; jou bloesgrootte is meestal kleiner as jou broekgrootte, skouers is smaller as jou heupe. Jy het voller bobene en heupe.
Die truuk hier is om aandag en oë se fokus opwaarts te trek, weg van jou wydste gedeelte (heupe en bobene). Kies jasse met ’n interessante kraag of versierings aan die boonste helfte van die jas. ’n Jas met skouerkussings kan verder jou proporsies teenoor groter heupe uitbalanseer.


Omgekeerde driehoek-lyfvorm

Die omgekeerde driehoek-lyfvorm is gewoonlik die teenoorgestelde van die peervormige lyf. Jou skouers is wyer as jou heupe en jy lyk meer atleties gebou. Jy het nie ’n gedefineerde middellyf nie, en min definisie tussen middellyf en heupe. Jou onderlyf is klein en jy dra meestal jou gewig rondom jou middel, arms en borste.
Kies “fit & flare” styl jasse, die tipe jasse wat uitklok van jou middellyf na onder toe. Dit trek aandag na die onderste (jou kleinste) gedeelte van jou lyf, peplum styl baadjies kan hier ook werk. Jasse met min detail, geen skouerkussings aan die bokant van die jas, is vir jou. En kies gerus jasse met detail aan die onderste gedeelte van die jas. Vermy enige pofferige jasse wat ekstra gewig rondom jou skouers en bolyf gaan byvoeg. Maksilengte jasse werk ook goed vir die omgekeerde driehoek – dit skep die illusie van lengte en verleng jou liggaam.

Reghoekige lyfvorm

Jou middellyf, heupe en skouers is ewe breed. Jy het nie ’n duidelike middel nie, en jy dra dieselfde grootte bo en onder.
“Flare” styl en jasse met gordels is ’n moet om daardie gewenste gedefinieerde middel-effek te skep. soldaatjasse is nog ’n goeie opsie om daardie middel te definieer.

2. Vir ’n groter borsmaat:
Vermy enige “double breasted” styl jasse, dit kan ongewenste perseptuele gewig rondom jou middel en borsmaat byvoeg. Kies eerder “single breasted” jasse met struktuur as los en vloeiende jasse met baie materiaal, dit kan jou groter laat vertoon. Wrap of omvou jasse is nog ’n vleiende jas styl vir vroue met ’n groter borsmaat, beklemtoon die middel en die V-halslyn en het ’n verslankende effek.
3. Hoe die jas pas is belangrik
Niks is meer ongemaklik as ’n wintersjas wat te styf sit nie. Dit is winter, so hou in gedagte dat jy dalk ’n ekstra lagie of twee onder jou jas sal wil aantrek. Doen gerus die “drukkie” toets wanneer jy die volgende keer ’n jas aanpas – gee vir jouself ’n stywe druk, as die jas te styf voel, (veral rondom bo-arms en skouers) is dit dalk ’n goeie idee om ’n groter nommer aan te pas.

4. Vir korter vroue
Vermy oorgroot jasstyle, die “oversized” tendens is tans gewild, maar jy sal net slonserig en ekstra klein in so ’n jasstyl lyk. Jasse wat in jou middel vasbind, trek aandag na daardie gedeelte en skep die illusie van langer bene. Langer jasse kan ook vir jou ekstra lengte bied, dra dit dalk net saam met ’n effense hakskoen sodat die jas nie aan die grond raak nie.

5. Kies die regte kleur
Hou die res van jou klerekas in gedagte wanneer jy jou volgende duur jaskopie maak. Maak seker jy kan dit by ’n hele klompie uitrustings dra, omtrent so 80% van jou huidige klerekas. Indien jy ’n helderkleurige jas wil koop, (een van die seisoen se gewilde trends) maak seker die kleur pas by jou en laat jou nie uitgewas of vaal lyk nie.

6. Hou die materiaal in gedagte
Suid-Afrika se winters is nie naastenby so koud soos ander plekke in die wêreld nie, maar op sommige plekke word dit nogal ysig! Vir ekstra warm jasse kan jy nie verkeerd gaan met ’n woljas nie. Wol is ’n fantastiese isolerende materiaalstof en hou die hitte binne. Maak ook seker jou jas is gevoer, dit gee daardie ekstra bietjie warmte en ons dink dit lyk sommer net meer afgerond.

7. Wees versigtig vir te veel volume
Pofbaadjies en pofjasse wat te vol en pofferig is, kan onvleiend wees en jou groter laat vertoon as wat jy werklik is. Kies die seisoen ’n pofjas met diagonale (skuins) gekwilte afwerkings eerder as horisontale lyne (dit is so vleiend op die oog af!). Ons gunsteling pofbaadjie dié seisoen is een met ’n gordel of toutjies wat intrek rondom jou middel, glo ons jy sal nie weer ’n ander pofjas wil dra nie!