Soveel funksies en so min tyd; hier is aandgrimeerwenke wat nie ure neem nie, want min van ons het baie tyd om af te staan aan grimering (nadat daar hope en hope klere op jou bed lê!). Deur Suzanne Kotzé
1. Bevogtig eers
Smeer jou serum, oogroom en vogroom aan sodra jy uit die stort klim. So kry jou velsorgprodukte kans om effens in te trek voordat jy onderlaag aanwend.
2. Grimeersproei
Spuit grimeersproei aan voor en na grimering.
3. Eers grimering, dan hare en aantrek
As jy hare gewas het, is dit makliker om eers jou klam hare uit jou gesig te steek of ’n haarband op te sit en dan grimering te doen. So mors jy nie ’n vars geblaasde styl op met knippies nie en mors jy ook nie grimering op jou klere nie.
4. Serpie vir aantrek
As jy ’n bostuk of rok met ’n nou nek aantrek, sit ’n serpie oor jou gesig om te keer dat die grimering aan jou klere afsmeer.
5. Eers ooggrimering, dan onderlaag
Hierdie is iets wat ek by vele fotosessie’s al geleer het, die meeste grimeerkunstenaars doen eers modelle se ooggrimering en dan onderlaag. So hoef jy nie ooggrimering wat mors saam met jou onderlaag af te vee nie.
6. Versigtig vir onderlaag op jou hare
Hierdie is iets wat ek gereeld by blondines sien. Ons is haastig en smeer net onderlaag aan, en sien dan nie dat jy sommer jou haarlyn ook beetkry nie. Gebruik ‘n haarband om jou hare uit jou gesig te hou, veral as jy onderlaag aansmeer.
7. Spandeer meer tyd aan jou onderlaag, verbloemer en blosser
Hierdie vorm die skilderdoek van jou voorkoms, en al spandeer jy hoe lank om die mooiste ooggrimering te doen, as jou onderlaag nie goed aangewend is nie, of jou blosser skeef is, kan dit jou hele voorkoms bederf. Let veral op rondom jou neus; baie vroue (en ek is self skuldig) smeer nie onderlaag ordentlik rondom hul neus in nie, en dan sit daar sigbare lyne wat jy dalk miskyk as jy haastig is.
Moenie vergeet om verbloemer ook in die binneholtes van jou oë (tussen jou oë en bokant van jou neus) te smeer nie. Daar val dikwels natuurlike skadu, of ons vergeet van daardie deel. Blosser op jou wangappels en opwaarts en uitwaarts na jou slape om jou gesig te ‘lig’.
8. Bêre jou vloeibare oogomlyner as jy haastig is
Die hoeveelheid kere wat ek vir Justine foto’s stuur ‘dis hoekom ek laat’ is met gesmeerde oogomlyner, behoort as bewyse te dien dat jy nooit, ooit vloeibare oogomlyner moet probeer as jy haastig is nie.
Gebruik eerder ’n oogpotlood, en as dit smeer, maak dit deel van jou voorkoms. Gebruik ’n oorstokkie om die hele lyntjie te smeer, en smeer jou ander oog se lyn ook, sodat dit soos ’n rokerige oog lyk.
9. Dink aan jou kleurkombinasies

Van jou uitrusting en ook jou grimering. Van ons gunsteling grimeerkleurkombinasies is subtiele goue ooggrimering en ’n mooi rooi lip. Dit werk mooi saam met neutrale kleure, swart en selfs rooi. As jy ’n rok met ’n motief aantrek en byvoorbeeld koraal of pienk, is dit maklik om die kleur met jou lipstiffie kleur te herhaal. Dit beteken nou nie jy moet jou kleurpalet op jou hele gesig gebruik nie, byvoorbeeld pers oogskadu en rooi lippe omdat jou rok dit inhet nie.
10. Minder is meer

Veral as jy haastig is. Kies oë of lippe om te beklemtoon. Te veel grimering kan outyds en jou ouer laat lyk.
11. Vyf minute grimering
As jy regtig net vyf minute het; smeer onderlaag aan. Wend verbronsingsproeier oor jou wangbene en rondom jou haarlyn aan, en gebruik dit sommer ook op jou ooglede. (Ek gebruik graag Clarins Bronzing Compact Powder – Summer Collection. Die verskillende skakerings werk ewe goed as oogskadu).Bruin oogomlyner in die binnekant (waterlyn) van jou boonste ooglid (gee subtiele definisie en jy loop nie die gevaar om dit te smeer nie) en maskara. Rooi/pienk/koraal lipstiffie op jou lippe en tik dit ook aan jou wange.
Stylvolstaatmakers
















