11 Stileerreëls wat jy gerus mag breek

Kom ons beweeg aan met die tye en laat gaan al daardie outydse stileerreëls wat jou dalk terughou en laat twyfel in jou modebesluite. Ons hoop hierdie artikel inspireer jou om te laat gaan van die ou stileerreëls en om iets nuuts te probeer. Ons is hier om jou te herinner – moenie jou modekeuses te ernstig opneem nie, onthou jy mag pret hê met jou modebesluite. Deur Justine Kroes

12/04/2024

1. ’n Geleentheid het nie altyd hakskoene nodig nie

Verby is die dae van hemelhoë hakskoene dra na geleenthede. Hoewel ons dink daar is altyd ’n plekkie vir ’n mooi paar hakke in jou skoenekas, is daar deesdae so baie ander (en gemakliker) skoenopsies wat vir beide meer of minder formeel kan werk. Ballerinaskoene, loafers, espadrille-styl skoene en selfs tekkies is deesdae vir sekere geleenthede aanvaarbaar.

Foto: Instagram @blaireadiebee

2. Vertikale strepe is beter as horisontale strepe

Ons ken die teorie agter vertikale strepe dra, en ons stem saam dat dit ’n verslankende effek kan hê MAAR ons glo ook daar is beslis plek vir horisontale streep-items in jou klerekas.

Die trendy “breton” streep, sinoniem met Parys-modesjiek is natuurlik horisontaal eerder as vertikaal.

Foto: Instagram @blaireadiebee

Op die ou end behoort jy meer aandag te gee aan hoe die styl van die kleidingstuk pas en jou laat voel. Gebruik stileertruuks om jou horisontale strepe vir jou te laat werk. Balanseer byvoorbeeld proporsies deur jou horisontale streephemp in te steek, of bind ’n gordel om jou middel vir definisie.

Foto: Instagram @blaireadiebee

3. ’n Eenvoudige neklyn vra vir ’n hangertjie

As jy ’n uitrusting dra met ’n skoon, eenvoudige neklyn, hou dit so. Dit is ou nuus om ’n bonkige halsnoer (of serp!) om jou nek te dra omdat jy voel iets “kort”. Hou eerder by die simplistiese eenvoud, jy sal verbaas wees hoe sjiek dit lyk. En as jy voel iets kort, probeer dalk eerder ’n paar oorbelle wat ’n stelling maak.

Foto: Instagram @blaireadiebee

Stylkonsultant Marilize de Clercq het lang jare gelede al vir ons hiervan geleer en dit is iets waarby ons steeds bly “Jou serpie wat jy heel laaste om jou nek bind voor jy by die deur uitstap, gaan nie jou uitrusting red nie!”

4. Moet nie metale meng nie

Die outydse reël van net silwer of net goue juwele dra is uit by die deur. Verby is die dae waar jy glo net ’n “silwer” of net ’n “goud” mens is.

Foto: @jennybird op Instagram

Dit is tans ’n trend om jou juwele se metale te meng en saam te dra, en ons hou van hierdie edgy stileertruuk. Daar is ook selfs juweliersware wat met beide silwer en goud in een ontwerp word. Ons dink deur metale te meng skep jy ’n interessante element in jou uitrusting.

5. Wit is net vir die somer

In Amerika is hierdie reël geken aan “no white shoes after labor day”. Ons raad: laat gaan sommer blistvinnig die reël. Wit is in werklikheid een van hierdie winterseisoen se grootste skakerings. Wit op wit en kop tot tone wit kan net so stylvol lyk tydens die winter as wat dit in die somer doen. Dink aan wit jasse met wit wyepyp broeke en midirompe of kop tot tone wit pakke, gestileer met kraakvars wit truie.

Foto: @darjabarannik op Instagram
Foto: @despi_naka Instagram

Wenk: as jy huiwerig is vir kop tot tone wit, probeer dalk skakerings van beige en wit saam dra.

Foto: @despi_naka Instagram

6. Moet nie patrone meng nie

Ons weet hierdie mag vir die meeste van ons uitdagend voel, maar jy mag verskillende patrone saam dra! Onthou net om altyd minstens een oorstemmende skakering in albei kledingstukke te hê om die stileerprentjie te laat werk.

Loer hier na inspirasie:

Foto: @despi_naka Instagram
Foto: @despi_naka Instagram
Foto: @despi_naka Instagram

7. Ouer vroue moet nie trends volg nie

Nonsens! As ons enigiets by oorle stylikoon Iris Apfel (102) geleer het, is dit dat vroue ongeag hulle ouderdom mag en moet aantrek wat hulle laat goed voel. Jy mag steeds pret hê met jou modekeuses, hetsy dit nou is om ’n silwer baadjie te koop of selfs net ’n paar wyepyp denims te dra.  

Kyk net hier vir inspirasie:

Foto: Instagram @greceghanem
Foto: Instagram @greceghanem
Foto: Instagram @greceghanem

8. Moet nie denim by denim dra nie

Jy mag beslis denim saam met denim dra. Denim is (en bly) een van die heel grootste modetrends van die oomblik. Denimontwerpe is deesdae beskikbaar in denimjasse, handsakke, skoene, rompe en rokke.

Foto: Instagram @helenabordon

Tans is dit hoogmode om denim saam met denim te stileer. Ons moet net waarsku – wees versigtig met die stilering van jou bykomstighede hierby. ’n Paar cowboy styl stewels of ’n rooi serp om jou nek sal dit dalk laat lyk of jy op pad is na ’n westerse temapartytjie.

Lees meer oor die denimtendens hier:

9. Jy behoort net skakerings in jou “kleurprofiel” te dra

Terwyl ons besef dit belangrik is om te weet watter kleure die beste by jou gelaat, haarkleur en oogkleur pas, dink ons ook dit is belangrik om klere (en kleure) te dra wat jou laat goed voel.

Stylkonsultant Dominique Wolf van The Style Coach SA sê “Ek het gevind dat daar nie net “een kleurpalet” is vir elk van die verskillende gelaatstipes nie. Met meeste van my kliente, het ek besef dit laat hulle obsessief raak oor die skakerings wat hulle mag en nie mag dra nie, wat mode angs by baie vroue veroorsaak. Die truuk is om eerder met skakerings te speel en te eksperimenteer waarin jy die beste voel.”

Foto: Instagram @blaireadiebee

Dus is dit belangrik om nie so gefokus raak en net kledingstukke in kleure soek en kies wat jou kleurprofiel gaan pas nie, jy mis dalk daardie perfekte goedvoel rok, waarin jy sal straal ongeag die kleur.

10. Jy kan nie sekere skakerings saam dra nie

Dominque sê die ou stileerreël dat jy nie mag navy en swart of pienk en rooi saam dra nie is nonsens. Met kleurblok kan jy bykans enige twee (of meer) skakerings saam stileer. Probeer dit ’n slag!

Foto: Instagram @catlpatterson
Foto: Instagram @greceghanem
Foto: Instagram @blaireadiebee

11. Jou handsak, skoene en gordel moet dieselfde skakering wees

Volgens Dominique is hierdie nog ’n stileerreël waarvan ons kan laat gaan! Moet nie neuroties raak om als by als te laat pas nie, dit kan ’n voorkoms skep van “te hard probeer”.

Foto: Instagram @greceghanem
Foto: @despi_naka Instagram

Eerder as die ekstra moeite met “match matchy” skoene en handsakke wat bymekaar pas, dra dit wat natuurlik vir jou voel. Niks hoef ooit presies by mekaar pas nie, omhels jou uniekheid en persoonlike flair!

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Sjiek-staatmaker; die wit kraaghemp
error: Content is protected !!