Die somer is hier en dit beteken dit is weer tyd om met ons vars gemanikuurde voete te spog met mooi somersandale. Die truuk, volgens voetheelkundige Nelfrie Kemp, is om ’n sandaal te vind wat nie net mooi lyk nie, maar jou voet ook ondersteun. Maak jy dalk van hierdie foute wanneer jy jou sandale kies? Hier is ’n voetheelkundige se raad om die regte somersandale te kies. Saamgestel deur Justine Kroes
6/10/2023
6 wenke om die regte somersandale te kies
1. Kies kwaliteit bo kwantiteit
Voetheelkundige Nelfrie Kemp sê “Belê in goeie somersandale en hul sal jou bederf vir ’n paar seisoene.
Goedkoop koop is baie keer seer voete koop.
Nelfrie Kemp
Begin in goeie skoene belê, jy kry net een paar voete. Met tyd sal jy ’n versameling opbou wat jou nog baie jare lank gaan hou.”
2. Koop volgens jou voetstruktuur
Volgens Nelfrie is elke mens se voete uniek en dis belangrik dat jy skoene koop wat vir jou voete werk. Dit is belangrik dat jou voet en sandaal soos ’n eenheid moet beweeg wanneer jy stap. Dit behoort nie nodig te voel om met jou tone jou sandaal of plakkie vas te gryp (grip) nie.
Hierdie aanhoudende “grypaksie” van jou tone kan stremming plaas op jou gewrigte en sagte weefsel wat kan lei tot seer voete en selfs dalk ’n seer rug. Vermy liefs aanglipsandale – as jy hulle móét dra, kies hulle vir geleenthede waar jy meer gaan sit as loop.
3. Kies ’n sandaal met ‘n effense hak
Hoewel Nelfrie verduidelik dat ons gemaak is om kaalvoet te loop, het ons liggame aangepas deur die jare. Om ’n hakkie van slegs 1 cm te dra kan jou voet en bene meer gemaklik laat voel as ’n plat skoen. Dit komplementeer ook natuurlik ons voete en bene.
4. Koop somersandale vir die aktiwiteit
Nelfrie sê “dress for the activity”. Neem die hoeveelheid tyd jy op jou voete gaan deurbring in ag voordat jy jou sandale kies. “Jy kan nie een sandaal hê vir elke okkasie nie. Jou sandale skoenekas hoort die volgende tipe skoene in te sluit; sandale wat gemaklik genoeg is om heeldag te dra; sandale wat jy meestal by die huis dra; mooi sandale vir wanneer jy weet jy gaan nie lank hoef te staan in hulle nie; ne dan natuurlik kort elke vrou daardie sexy paar sandale vir spesiale geleenthede.
Om die regte sandaal te kies, hang af van wat jy gaan doen wanneer jy daardie sandaal dra en dit bepaal hoe jy wl hê ’n sandaal moet pas. Byvoorbeeld:
- Somersandale om by die huis te dra – soek vir gemak en ondersteuning.
- Somersandale vir inkopies doen en baie op jou voete wees – kies gemak en ondersteuning
- Somersandale vir werk – stylvol en gemaklik (afhangend van die tipe werk wat jy doen)
- Somersandale vir hier en daar, sit en staan – stylvol en gemaklik
- Somersandale vir spesiale geleenthede – stylvol. Nelfrie sê “Soms is dit die moeite werd om die mooiste, stylvolste skoen te koop wat nie altyd so gemaklik pas nie, maar dit rond dalk jou uitrusting mooi af. Ons versorg maar die voete die volgende dag.”
5. Moet nie ’n skoen afskryf op sy rakvertoning nie
Pas gerus eers die skoen aan. Nelfrie verduidelik; “Om skoene beter te verstaan en goeie advies te kan gee, pas ek honderde skoene aan en baiekeer verbaas die skoen my sodra dit aan my voet is.
’n Skoen waarvoor ek my neus optrek op die rak, lyk partykeer baie goed aan my voet.” Pas dus soveel moontlik verskillende style aan om seker te maak jy vind die perfekte sandaal vir jou voete.
6. Somersandale se skoengrootte
Pas die skoen aan. Verskillende style somersandale sal verskillend pas en baie keer sal jy dalk in ’n sekere styl een grootte groter of kleiner moet kies.
Hier is ’n paar somer sandaalstyle om van te kies:
Meer oor Nelfrie Kemp

Besoek nelfriekemp.co.za om meer te leer oor Nelfrie se handige aanlyn gidse vir skoene kies en volg vir Nelfrie op sosiale media hier. Nelfrie deel insiggewende videos oor voete en voetgesondheid.