Franschhoek Country House & Villas is ’n luukse 5 ster boetiekhotel reg in die hartjie van die Franschhoekvallei. ’n Stylvol-wegbreek na hierdie skilderagtige villa “dorpie” was ’n reuse bederf en net die hupstoot wat ons nodig gehad het. Ons deel tien redes waarom jy op jou volgende besoek aan die Hugenotevallei by Franschhoek Country House & Villas móét inloer; glo ons, dit stel nie teleur nie! Saamgestel deur Justine Kroes
06/09/2024
1. Die boetiekhotel se ryk geskiedenis
Dit het ons nie verbaas toe ons uitvind die hotel was in die 1890’s oorspronlik een van Suid-Afrika se eerste perfumeries gewees nie.
Tikkies oorblywenede elemente hiervan is vandag nog duidelik sigbaar in die tuine: van die rose wat rank, en die rye laventel en die geur daarvan wat ons so rustig laat voel het.
’n Gunsteling wat ons nooit sal vergeet nie, is die bakke vol suurlemoene wat oral rondstaan en uitgestal word – die landgoed was ook voorheen ’n suurlemoen sitrusplaas gewees.
2. Prentjiemooi uitsigte
Dit maak feitlik nie saak in watter rigting jy draai nie, die uitsig bly mooi vanaf elke hoek en draai. Daar is pragtige bergreekse aan die een kant en ’n uitsig na die omliggende wingerde aan die ander kant. Jy kan nie help om met jou kamera die uitsig vas te vang met die hoop dat jy die skilderagtige prentjie nog vir lang jare sal onthou nie.
Die skakerings van Country House & Villas se geboue teenoor die berge in die agtergrond is iets om te waardeer. Om tussendeur die geboue op die wandelpaadjie met sy oulike aanwysingsbordjies te stap, laat jou voel asof jy in ’n onbekende klein Franse dorpie van jou eie rondbeweeg.
3. Rustige geruis van water
Oral oor hoor jy die sagte geruis van water danksy die allermooiste fonteine, van groot tot klein en selfs pragtige fonteinmure langs die swembad.
Daar is maar net iets omtrent die klank van water wat ’n mens rustig en kalm laat voel.
4. Luukse kamers
Van die garden cottages tot die luukse villa suites is dit duidelik dat daar ’n goue lyntjie getrek word deur die ontwerp en dekorstyl van elke kamer by die boetiekhotel. En daar word nie gespaar op luukshede nie. Daar is verskillende kamers beskikbaar, afhangend van jou unieke behoeftes. Kameropsies sluit die volgende in:
Daar is standaardkamers: is binne die oorspronklike herehuis. Elke kamer het sy eie badkamer met ’n klein leefarea en ’n privaat balkon.
Luukse kamers is in ’n aparte gebou met meer spasie as die standaard kamers. Die kamers spog met ’n groter leeafarea en groter patio of balkon met uitsigte oor die fonteine of tuine vol laventel.
Tuin kothuise: is ’n dubbelverdieping duplex met ’n en-suite slaapkamer onder en ’n leefarea op die boonste verdieping. Die sofabed verdubbel as ’n ekstra slaapplek vir twee. Die tuinkothuis spog boonop met ’n privaattuin en ’n pragtige uitsig oor die omliggende wingerde. Ideale opsie vir gesinne.
Villa suites: is die definisie van luuksheid. Die suites is elk 100sqm in grootte en sluit ’n aparte sitkamer in. Die sitkamer spog boonop met ‘n tv, ‘n eet area en daarby ook ‘n kaggel. Die villa suites het twee balkonne of patio-areas waar jy rustig kan lê en ontspan, boeklees, of in stilte die pragtige uitsig geniet.
Die slaapkamer binne die Villa Suite is groot genoeg om in rond te dans. Die ’n reusebed met kraakvars wit linne wat soos botter teen jou vel voel, die mooie spieëltafel en die kasspasie vir dae, laat jou soos ’n koningin voel.
5. Ultra luukse badkamers en baddens
Die bad in die villasuite is iets besonders, en behoort beslis ’n hoogtepunt te wees vir elke persoon se besoek. Nie net is hierdie is hierdie bad ekstra diep nie, maar ook so ongelooflik prentjiemooi.
Die badkamer spog met ’n stort, (pragtige) bad, en twee wasbakke, en ons heel gunsteling deel – ondervloerverhitting. ’n Reuse bederf vir koue voete!
6. Swembaddens warm en koud
Hierdie boetiekhotel het nie net een nie, maar twee swembaddens. Die kleiner swembad is verhit om te geniet tydens koeler weer of net om luilekker in te ontspan. En die groter swembad is daar om in af te koel wanneer Franschhoek se temperature styg.
Daar is boonop ’n spyskaart “pool menu” van Monneaux restaurant waar gaste langs die swembad versnaperings en drankies kan geniet terwyl hul langs die swembad ontspan.
7. Vars uit die tuin by Monneaux restaurant
Die mooiste plantbokse propvol groente en kruie het dadelik ons aandag getrek. Die restaurant Monneaux (ook in die oorspronklike Manor House) bedien hierdie einste vars groete en kruie daagliks in die restaurant.
Monneaux is oop vir middag- en aandetes en spog met ’n indrukwekkende spyskaart. ’n Ligte middagete van slaai en pizzas met vars bestanddele uit die tuin was nog ’n hoogtepunt van ons besoek. Ons kan nie wag om in te loer vir aandete nie! Klik hier om ‘n bespreking by Monneaux te maak.
8. Uitstappies op ’n fiets
Dit is dalk nie vir almal nie maar is beslis vir ons ’n gunsteling aantrekkingspunt tot die boetiek hotel. Die fietse skep ’n geleentheid om Franschhoek te verken en ervaar op ’n manier wat nie sou moontlik wees met ’n motor nie.
’n Kort rit na die Franschhoek Saterdagoggendmarkie of selfs ’n besoek na een van die omliggende wynplase op die fiets klink na ’n droomuitstappie.
9. Perfekte ligging
Franschhoek Country House & Villas is feitlik net buite Franschhoek geleë, die hoofdorp is maar ’n paar honderd meter in die straat af en jy sal gemaklik soontoe kan stap indien jy nie per pendeldiens of met die beskikbare fietse dorp toe wil ry nie.
Die boetiekhotel is perfek geleë, naby aan al die bekende wynplase, selfs die Franschhoek Wine Tram loop direk agter die hotel verby.
10 Vyfster ontbyt
Die pragtige uitsig van die balkon waar ontbyt bedien word, is nog ’n hoogtepunt, en die ontbyt self was uit die boonste rakke. Daar word soggens ’n volle kontinentale ontbyt voorgesit en bedien. Van vars vrugte en jogurt tot croissants, brode en kase.
Bo en behalwe die smul uitpak-ontbyt is daar ook ’n spyskaart vir warm ontbyt. Die Eggs Benedict en Avo Haloumi-roosterbrood het hierdie slag gewen, maar volgende keer is ons terug vir die Poke Bowl ontbyt!
Psst … Hierdie moet jy ook weet:
Spa ook beskikbaar
Franschhoek Country House & Villas spog selfs met ’n spa en het ’n terapeut byderhand indien jy tydens jou besoek aan die boetiekhotel ’n ekstra tikkie bederf benodig.
Gesinsvriendelik
Ons was so opgewonde om te hoor dat hierdie luukse 5-ster hotel kindervriendelik is. Dit is feitlik enige kind se droom om in die paadjies tussen laventel en fonteine te hardloop en speel. Die Garden Cottage verblyf is ideal vir gesinne met kinders, met ’n koningingrootte bed onder en ’n sofabed op die tweede verdieping van die duplex.
Die reuse oop en grasgroen grasperke, die pragtuine en die swembaddens is perfek vir kwaliteit familietyd.
Formidable span
Hierdie luukse hotel word bestuur deur ’n formidable span wat saamwerk om uitmuntende diens te lewer. By aankoms is ons verwelkom met ’n glas vonkelwyn, en die warm, vriendelike en hulpvaardige span het deur die loop van ons besoek seker gemaak ons is gemaklik en het als (en meer) wat ons nodig het.
Kommunikasie, net ’n plesier
Direk nadat jy ingeboek het, ontvang jy ’n Whatsapp boodskap van ontvangs. Hierop kan jy al jou versoeke van pendeldiens tot spareëlings tref, of enige vrae vra wat jy dalk mag hê.
Bespreek hier:
Om jou eie besoek aan Franschhoek Country House & Villas te bespreek, klik hier. Vir meer informasie oor die boetiekhotel klik hier.