Ons sê ja vir tekstuur, natuurlike skakerings en ’n sensuele luukse gevoel as dit by die sewentigs styl kom. Juis omdat die TV-reeks Dinge van ’n Kind ook gedurende die 70’s afspeel, het drie van die aktrises; Jana Kruger, Melissa Myburgh en Mienke Ehlers vir ons model gespeel. Deur Suzanne Kotzé en Justine Kroes
Fotograaf: Kristina Stojiljkovic, hare en grimering: Cheryl Parker en Amori Birch
10 modereëls vir die sewentigs styl
1. ’n Moderne interpretasie is belangrik
As dit by enige mode ‘trend’ kom wat geïnspireer is deur ’n vorige dekade, is dit belangrik om nie die ‘trend’ presies aan te trek soos wat dit in daardie dekade gedra is nie. Jy wil nie lyk asof jy byvoorbeeld in die sewentigs vasgehaak het nie. So jou skoene, broek, hemp, hoed en handsak hoef nie almal ’n sewentigs gevoel te hê nie.
2. Kies tekstuur, tekstuur en nog tekstuur

Dink aan kunspels, satyn, geweefde materiaal, ferweel en leer.
Mienke dra: Rok van Foschini (R299); Baadjie van Woolworths (R1 299); Enkelstewels van Woolworths (R899).
Melissa dra: Rok van Forever New (R1 799); Oor die knie kousstewels van Luella by Foschini (R1 200); Baret van Me & B (R460).
Jana dra: Bloes van Forever New (R899); Romp van Scotch & Soda (R2 899); Wit Stewels van Luella by Foschini (R1 299).
3. Dra monokroom in room

Mienke dra: Bypasssende stel van Foschini broek (R350) toppie (R199); Jas van Forever New (R2 199) en bonkige loafers van Foschini (R450)
Verskillende teksture in room hou ’n uitrusting interessant en skep ’n luukse gevoel.
4. Sê ja vir bypassende stelle
Bypassende broeke en bo-stukke is steeds groot nuus en dit kom so reg uit die jare sewentig. ’n Bypassende stel in een kleur is die maklikste manier om dit te dra, maar voel jy braaf kan jy ook ’n bypassende stel in sewentigs patrone dra.
5. Kies oorgroot sonbrille

Oorgroot, hoekige sonbrille maak beslis ’n sewentigs stelling. Jy hoef nie ’n fortuin aan mode-sonbrille te spandeer as jy van plan is om dit net ’n seisoen of twee te dra nie.
6. ’n Maksirok is ’n moet

Jou maksirok moet minstens by jou enkels hang. Om dit nog meer sewentigs te maak kan jy altyd ’n polonek bostuk onder jou rok dra.
7. Gaan vir geometriese patrone
Psigedeliese patrone was ’n groot kenmerk van die sewentigs. Ons verkies die patrone in aardse skakerings, vir ’n meer stylvolle en luukse voorkoms.

’n Midi-lengte ferweel rompie saam met ’n patroonhemp is twee sewentigs elemente wat goed saamwerk.
8. Stewels
Hoewel hemelhoë platformstewels in die 70’s groot nuus was, is dit wel belangrik om steeds te kan loop in jou skoene! Soek dalk eerder wit of room skakerings as platform hoogtes nie vir jou is nie.
Wenk: As die res van jou uitrusting reeds 70’s skree, hou jou skoenkeuses meer modern.
Oor-die-kniestewels of kousstewels is tans ’n groot trend en sal die regte balans tussen sewentigs mode en nou bring.

9. Jou hoë middellyfbroek moet uitklok
’n Hoë middellyfbroek wat uitklok bly ’n vleiende styl vir vele vroue! Die langer lengte laat ook jou bene langer en slanker lyk.

10. Hou jou kleurpalet in natuurlike skakerings
Die sewentigs is natuurlik ook gekenmerk deur helderder kleure, maar ons verkies, bruine, kameelkleur, skakerings van roes en bruin. Dit is makliker om te dra en lyk meer luuks en stylvol.

Die katpak (jumpsuit) was ’n ware sewentigs staatmaker. Die patroonjas hierby in neutrale skakerings skep diepte en hou die uitrusting modieus.
Die satynmateriaal skep ’n meer luukse, amper sensuele gevoel (so sewentigs!).
Hierdie, groen, goud, amper bruin skakering is ’n gunsteling in die sewentigs kleurpalet.
Dinge van ’n kind

Die reeks is gegrond op Die dinge van ‘n kind, Marita van der Vyver se boek.
In dié reeks van tien episodes ontmoet kykers vir Mart Vermaak (vertolk deur onderskeidelik Melissa Myburg, Cintaine Schutte en Susanne Beyers). Die ontnugtering van haar grootwordjare vind plaas teen die politieke agtergrond van die onstuimige laat 1970’s, terwyl ’n ouer Mart haarself in ’n ontnugtering van ’n ander aard bevind.
In die roman Die dinge van ’n kind leer lesers Mart sowel as tiener en as ’n vrou in haar dertigs ken wat as ’n expat in Londen woon. In die TV-reeks ontmoet kykers egter ook ’n heelwat ouer Mart wat haar weer in Suid-Afrika gevestig het.
Dinge van ’n kind word Dinsdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Dit is ook op DStv Catch Up beskikbaar.