Hier is wenke vir ’n gesellige herfshuis. Teksture en aardse skakerings vier nou hoogty en pas perfek by Herfs. Deur Suzanne Kotzé.
Skep so ’n herfshuis-atmosfeer
1. Kies warm herfsskakerings
Aardse kleure en veral skakerings van bruin is nie net groot nuus in die modewêreld nie (Pantone se kleur van die jaar is mos hoeka Mocha Mousse) maar ook in dekor. En dit is ’n wonderlike manier om ’n snoesige herfsgevoel aan jou huis te gee.
Stooikussings, beddegoed, ’n tafeldoek en dekorelemente soos uitstalbakke is maklike maniere om die kleurpalet in jou huis in te bring.


2. Bring tekstuur in
Materiaal met tekstuur soos bouclé, chenille of melanges materiale is steeds baie in, en werk veral goed in aardse kleure soos room, ligbruin, kameel en mosgroen.
Strooikussings of ’n ottoman werk goed om tekstuur in te bring. Of jy kan selfs ’n ou ottoman laat herstoffeer in een van die materiale.



3. Staanlampe
Staanlampe of tafellampe skep dadelik atmosfeer. Begin sommer met die intrapslag by jou voordeur met ’n lamp. Oorweeg dit gerus om tydskakelaars te gebruik vir jou lampe. So hoef jy nie elke aand al die lampe aan en af te skakel nie.

4. Lig (elevate) jou kaggelspasie
Dit is nou tyd om jou kaggel te laat uitstaan. Kry mooi houers om jou hout in te bêre. Trek ’n stoel en ’n tafeltjie nader, sodat dit ’n gesellige ontspanarea kan wees.

Lees ook: Kaggelbykomstighede
5. Bring die buite na binne


Met die kouer weer skep huisplante ’n heerlike binne/buite gevoel. Dit is ook baie atmosferies soos skadu en lig deur die blare val. Groepeer ’n paar plante saam en dink aan potte in klei en koper om by Herfs se aardse palet te pas.
6. Gebruik droë blomme, takke en blare in plaas van blomme
Soos ons dieper in Herfs en later Winter in beweeg word blomme al hoe skaarser (en duurder). Gebruik gerus takke (bloekom werk baie goed) en droë blomme en blare in potte.
7. Kerse en geure

Kerslig skep dadelik ’n gesellige atmosfeer. Terwyl ek baie jare gelede in Nederland gebly het, het ek geleer van hulle wonderlike gewoonte; ‘borreltijd’. Klokslag om 5uur word kerse aangesteek, vernsnaperinge uitgegooi en wyn geskink. So steek gerus jou kerse bedags ook aan, veral laatmiddag.
Kies geure (vir kerse, kamersproei en geurverspreiders) met houtagtige, mos en speserynote om ’n herfsatmosfeer te skep.
Woolworths Haute Series Large Jar Candle (R499, Woolworths) in in verskeie geure en kleure beskikbaar. Geurverspreiders en kamersproei is ook beskikbaar.
8. Omskep jou badkamer in ’n oase van selfsorg en ontspanning
Bêre gerus al jou somerjaponne, en hang ’n oorgroot, sagte japon in jou badkamer. Dit moet soos ’n drukkie vir jou lyf voel en die sielsalige na-bad gevoel verleng.
Plante, kerse en selfs kuns kan wondere verrig vir jou badkamer.
Kies die sagste, grootste handdoeke en badmatjies. Kry heerlike badsout en/olie en hou al jou badbykomstighede byderhand op ’n mooi badskinkbord. (Jy kan ook jou eie maak, deur ’n stuk hout te laat sny.)

Stilis Heloise het hierdie badskinkbord self laat sny.



Lees ook: Badkamerbykomstighede en stileerwenke
9. Kombersies in mandjies

Kyk bietjie na jou komberse wat jy tans in jou huis het. Is hulle dalk lelik/wollerig of voel hulle nie meer so sag nie? Dit is dalk tyd vir nuwe komberse. Kies kleure en teksture wat by jou dekor pas. Hou ’n mandjie in die hoek van die vertrek waar kombersies weer gebêre kan word en waar gaste en familie dit maklik kan bereik om op die bank op te krul onder ’n kombersie.


10. Dek met ’n tafeldoek
Die gerief van plekmatjies is wonderlik, maar ’n lang tafeldoek wat afhang skep dadelik ’n tikkie drama. Kies geweefde teksture of linne, en in aardse kleure. Voeg hout en koper-elemente by.
