10 Minimalistiese dekor wenke

Voel jy dalk oorweldig deur al die “goed” en klotter wat jou huis vol staan? Daardie oefentrapfiets wat niemand ooit gebruik nie of ’n kombuistoonbank vol gepak met elektriese toestelle wat jy een keer elke ses maande aanskakel? As jy voel die spasie rondom jou is deurmekaar, vol klotter en neem spasie in jou gedagtes op, volg gerus hierdie 10 dekorwenke vir ’n minimalistiese spasie asook hoe om meer minimalisties te leef. Deur Justine Kroes

24/02/2023

Maar wat is Minimalisme presies?

“In kort is minimalisme die leefstyl waardeur jy minder besittings besit”

Joshua Becker Becoming Minimalist

Minimalisme is nie net ’n dekortrend nie, dit is waarlik ’n leefstyl. ’n Wyse van lewe gebaseer op die gedagte dat jy kan klaarkom met minder “goed” en daarby tyd, geld en moeite vir jou alledaagse lewe spaar.

Ons volg al ’n geruime tyd vir bekende Amerikaanse minimalis Joshua Becker, (Lees ook sy blad vir minimalistiese inspirasie hier) Johua se minimalistiese lewe het begin nadat hy een Saterdag al die klotter in sy motorhuis staan en regpak het, terwyl sy seun alleen in die agtertuin speel. Hy het daar en dan besef hy is besig om waardevolle tyd met sy seun te mis as gevolg van al die onnodige materialistiese items wat sy huis, lewe en kopspasie vul. Nadat Joshua en sy gesin meer minimalisties begin leef het, geniet hulle meer tyd saam.

Hoekom in ’n minimalistiese klottervrye spasie leef? Joshua Becker verduidelik:

  1. Daar is minder om skoon te maak
  2. Minder om daagliks te probeer organiseer (dinge raak nie net meer “weg” nie en alles het sy plek)
  3. Minder stres, jy bekommer jou minder oor die items wat rondstaan en jy leer om jou huis en spasie te geniet.
  4. Minder finansiële kommer – om meer minimalisties te lewe, beteken jy spandeer minder omdat jy nie meer jou huis vul met duur, onbelangrike items nie.
  5. Meer energie om te spandeer op dit wat werklik saak maak.

Nog twee “minimalists” Joshua Fields Millburn en Ryan Nicodemus is bekend vir hul dokumentêr “Minimalism, a Documentary Abou the Important Things”, beslis ’n kyk werd en saai ook gereeld potgooi episodes uit oor meer minimalisties leef. Klik hier om meer te leer.

10 Wenke vir ’n minimalistiese spasie

Hier is ’n paar meetbare stappe wat jy kan neem om meer minimalisties te lewe

1. Ontklotter heel eerstens jou spasie

Die heel belangrikste stap is om jou spasie skoon en klottervry te kry. Daar is talle verskillende maniere om die stap aan te pak, maar die belangrikste is: begin klein. Fokus op een kamer, spasie of hoekie per week/ maand. Wees realisties met jouself en neem behoorlik tyd hiervoor. Hou net die items wat jy werklik gebruik en skenk die res.

Neem voor en na fotos van die spasie wat jy regpak – die resultate en fotos sal sorg vir motivering om ander spasies en areas aan te pak.

2. Omhels die “een in, een uit reël”

Hierdie reël verwys na die metode waar, as en wanneer jy ’n dekor- of huis-item koop, moet jy een (of meer) items laat gaan wat spasie in jou kaste, maar ook “headspace”, spasie in jou kop opneem.

“Ons probeer hierdie denkpatroon vir ons kinders ook leer – wanneer hulle nuwe speelgoed ontvang, help ons hulle speelgoed identifiseer waarmee hulle nie meer speel nie – dit word dan geskenk aan iemand wat nog gebruik sal maak daarvaan”.

Joshua Fields Millburm, The Minimalists

Hierdie tegniek help balans skep in jou spasie, en verhoed dat jy items versamel wat jy nie werklik nodig het nie.

3. Skoon eenvoudige lyne

Die meeste minimalistiese spasies het dit in gemeen – skoon, simplisties en eenvoudig. Vermy enige besige dekormotiewe op mure en meubels. Hou kombuiskaste, toonbanke en tafels skoon om daardie skoon eenvoudige lyne in jou spasie te versterk.

“Die enigste items wat sigbaar is op ons kombuiskaste, is items wat ons elke liewe dag gebruik. Enige ander items word weggepak” Joshua Fields Millburn

4. Dekor moet funksioneel wees

Dekorbykomstighede moet bewustelik (mindfully) in ’n spasie bygevoeg word. Hier stem al die “minimalists” saam – moet nie bang wees vir kaal mure nie en moet nie dekoritems gebruik net om spasie te vul nie. Dink aan dekoritems wat beide mooi lyk plus ’n doel in die spasie dien. Byvoorbeeld ’n interessante boekrakontwerp.

“With minimalism the bones are the beauty”- deur al die onnodige ekstras in ’n spasie uit te skakel is ons meer in staat om die mooiste en mees belangrikste skoonheid raak te sien. Met minimalisme is daar nie ’n behoefte aan ’n hele klomp kuns nie – jou meubelstukke, as hul reg gekies word, kan dien as kuns op hul eie. Joshua Fields Millburn

“Jy moet oukei voel met jouself in ’n leë kamer, dit wat jy in die spasie inbring of byvoeg moet jou lewe aanvul, en moet natuurlik funksioneel wees” Joshua Fields Milburn, The Minimalists.

5. Kwaliteit bo kwantiteit

Goedkoop koop is duur koop – ons almal ken hierdie gesegde goed. Om aanhoudend nuwe items wat breek te koop is teen enige minimalis se waardesisteem. Die idee is om funksionele, praktiese en bruikbare items vir jou spasie aan te skaf wat vir jare lank sal hou.

Dink dus langtermyn wanneer jy huis- of dekor-kopies maak.

6. Monochromatiese kleurpalet

Ja kleur is natuurlik toelaatbaar, maar daar is eenvoud wat plaasvind in ’n spasie waar een kleur- skakering oorheers. In minimalisitiese spasies is dit gewoonlik skakerings van wit, grys of swart.

Vir dekordoeleindes, gebruik die oorheersende kleur as inspirasie, vir items wat bygevoeg word – die bewustelike (mindful) beplanning is hier belangrik.

7. Tekstuur is belangrik

Baie sien minimalistiese dekor as koud en lewensloos – dit hoef natuurlik nie die geval te wees nie. Dit is natuurlik hoekom tekstuur belangrik is.

Tekstuur kan op verskillende maniere in ’n spasie gebruik word – dink aan jou mat, die tekstuur van jou kussings, tekstuur van gordyne of beddegoed, elkeen daarvan kan gebruik word om ’n mate van warmte en diepte aan die spasie by te voeg.

Om lewende plante by jou minimalistiese spasie in te bring skep ook ’n mate van tekstuur en skakel daardie lewelose, koue dekorgevoel uit.

8. Kies kontemporêr

’n Algemene tendens in minimalistiese spasies is die gebruik van kontemporêre meubelstukke – moderne meubels wat simplisties ontwerp is. Die meubeltipe staan bekend vir geometriese skoon lyne sonder ekstra fieterjasies, krulletjies en draaitjies.

Skoon, eenvoudige en elegante meubels werk die beste as jy ’n minimalisitiese voorkoms probeer skep.

9. Wees geduldig

Omhels die reis na ’n minimalistiese spasie. Een ding is verseker – jou minimalistiese spasie gaan nie oornag gebeur nie en gaan nie onmiddelik bymekaar kom nie.

Ons dink baie keer ons het dadelik sekere huis items nodig – maar ons kan heel goed klaarkom daarsonder. Milburn verduidelik “toe ons in ’n nuwe woonstelspasie ingetrek het, het ons ’n hele paar maande geneem om ’n sitkamerbank te vind wat in die spasie werk en so ook waarvan ons hou – ons koop nie net om te koop nie” Al die items wat jy in my eie huis sal vind is eenvoudige items wat aanvulling bring tot my lewe (stoel, tafel, bed, bank), g’n ekstras is werklik nodig nie”.

Wees geduldig en dink eerder daaraan as ’n proses van gebeure tot minimalisme en geniet elke stap.

10. Hou ligtelik aan aardse besittings vas

Laastens hou ligtelik aan aardse besittings vas, verduidelik Milburn, “koop items met die gedagte dat dit vir jare lank sal hou en gebruik word. Maar in dieselfde asem wees ook realisties en besef wanneer ’n item nie meer waarde toevoeg tot jou lewe of spasie nie, en laat dit met ’n ligte hart gaan”.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Weet jy wat jou dekorstyl is?
error: Content is protected !!