Kyk, as grimeerkunstenaar Reneé de Wit, grimeerwenke gee, sommer so terwyl sy grimering doen, skryf ons dit vinnig neer. Want ons leer elke keer nog goeie wenke by haar. Deur Suzanne Kotzé
17/05/2024
Ons was onlangs by die bekendstelling van Sisley Phyto-Teint Perfection, en Reneé het grimering op twee modelle gedoen, en so ’n paar wenke tussendeur gegee. Hier is ’n paar lekker wenke wat ons by haar geleer het.
1. Hoe jy jou onderlaag aanwend, bepaal jou dekking
2. Onderoogverbloemer; moenie jou oë se driehoekies vergeet nie
Ons vergeet dikwels van die binnehoekies en buitehoekies van ons oë. Maak seker jy wend hier ook onderoogverbloemer aan.
3. Verbloemer by die buitehoeke van jou neusgate
Hierdie is ook deeltjies waarvan ’n mens gereeld vergeet, en dit kan ook effens rooier hier wees, en skadu val natuurlik ook hier. Daarom beveel Reneé aan dat jy hier ook onderoogverbloemer aanwend.
4. Roomblosser en beklemtoner
Blosser is iets wat ’n reuseverskil maak aan jou grimeervookoms. Ek is mal oor roomblosser. Wend beklemtoner bo-oor dit aan vir ’n ekstra glansende voorkoms. (Iets waarna die meeste van ons op soek is, soos ons ouer word).
5. Beklemtoner op jou ooglede
’n Goeie wenk vir wanneer jy lui of haastig is, gebruik sommer jou beklemtoner ook as oogskadu, deur ’n vinnige veeg oor jou ooglede aan te wend.
6. Bruin oogomlyner tussen jou wimpers
Nog ’n lui wenk is om bruin oogomlyner tussen jou wimpers aan te wend (Lig jou ooglid op, en trek ’n strepie onder jou wimper, op die pienk deel). Dit laat jou wimper voller lyk, en skep subtiele definisie.
7. Ooggrimering; herhaal jou ‘fout’
As jy ’n fout gemaak het met jou ooggrimering op een oog (en selfs grimeerkunstenaars doen dit ook), herhaal net die ‘fout’ aan die ander kant. ‘Smudge’ byvoorbeeld die lyn van die oogomlyner wat reeds effens gesmeer het toe jy dit aanwend, en ‘smudge’ dit opsetlik by jou ander oog ook. Werk met jou foute, in plaas daarvan om alles af te haal en oor te begin. Tensy dit natuurlik baie erg is.
8. Gebruik oogroom om foute reg te maak
Sit ’n bietjie oogroom op ’n oorstokkie en gebruik dit om ooggrimeringfoute reg te maak. Soos oogskadu wat effens gemors het onder jou oë, of ’n lyn wat gesmeer het.
9. Moenie vergeet van die bokant van jou wimpers nie
“Veral as jy ’n blondine is! Ek sien dit soveel keer by my blonde vriendinne, veral as hulle afkyk na ’n spyskaart. Dan is daardie boonste wimpers lig, terwyl die onderkant van hulle wimpers swart is.”
10. Onthou van die buitehoeke van jou mond
Baie vroue smeer net lipstiffie in die middel van hul mond aan en vergeet van die buitehoeke. Onthou dit veral ook as jy ’n lippotlood aanwend.