10 Beste wenke vir rooi lippe

Rooi lippe kan sjiek, glansryk of selfs natuurlik, vars en modern lyk. Hier is ons en grimeerkunstenaars se beste wenke; van die regte kleur tot aanwending. Deur Suzanne Kotzé

1. Maak seker jou lippe is sonder droë velletjies en goed bevogtig

Rooi lippe trek aandag en sommige mat lipstiffies kan effens meer droog op jou lippe voel.

“Voordat jy eers dink aan rooi lippe, moet jy eers enige droë velletjies verwyder. La Mer het ’n fantasiese lipafskilferaar. The Body Shop en Catrice het ook goeie lipafskilferaars. As jy klaar jou lippie afgeskilfer het, sit ’n lappiesmasker op jou lippe. Laneige het waarskynlik een van die beste lipmaskers op die mark.” Grimeerkunstenaar Algria Ferreira

“Ek skilfer altyd eers die lippe af deur lipbalsem te gebruik en van daardie weggooibare maskaraborseltjies (waarmee jy ook jou wenkbroue kan opkam). Wend die lipbalsem aan en borsel saggies oor jou lippe met die borseltjie,” is grimeerkunstenaar Renée de Witt se raad.

Onthou die vel op ons lippe is dunner as die res van ons lyf, blootstelling aan spoeg, wind en weer, hormonale veranderinge (soos peri-menopouse of menopouse) en veroudering (vel word nog dunner) kan veroorsaak dat jou lippe droog voel. Bevogting is daarom belangrig.

2. Kies die regte rooi skakering vir jou veltoon

As jy nog nie ‘jou’ rooi gekry het nie, is jou veltoon ’n goeie plek om mee te begin.

Koel ondertone

Hoe weet jy of jy ’n koel ondertoon het?

  • Jou are op jou pols lyk blou (en nie groen nie)
  • Jy word rooi van sonblootstelling
  • Silwer juwele lyk beter by jou

Koel skakerings rooi lipstiffie (met ’n effense blou ondertoon) werk goed by jou.

Warm ondertone

  • Jou are op jou pols lyk groen (en nie blou nie)
  • Jy word sonbruin van sonblootstelling (en brand nie gewoonlik rooi nie)
  • Goue juwele lyk beter by jou

Warm skakerings rooi (met ’n effense blou ondertoon) werk goed by jou. Kies rooi lipstiffies met ’n effense oranjerige kleur.

Sommige mense (soos ek) kan altwee wees.

3. Kies die kleur wat jou vol selfvertoue laat voel

“Ek glo dat die regte rooi die een is wat jou selfvertroue gee. As jy twyfel is MAC Ruby Woo altyd ’n wenner, want dit pas by die meeste veltone.” Reneé de Witt.

MAC Ruby Woo (R400 maccosmetics.co.zabash.comsuperbalist.com en MAC winkels)

MAC Ruby Woo is ook al vir jare Algria se gunsteling. “Die mat kleur bly vir ure aan. Jy kan dit ligweg met jou vinger aantik word sodat dit soos ’n gevlekte lip lyk of jy kan dit net gewoonweg aanwend as ’n soliede kleur.”

4. As jy huiwerig is, kies ’n meer deursigtige kleur

“As jy huiwerig is vir rooi, kies ’n rooi wat effens deursigtig is wat eerder jou lip effens vlek as ’n soliede rooi kleur.” Grimeerkunstenaar Cheryl Parker

MAC Lustreglass Sheer Shine Lipstick (R400, maccosmetics.co.za en bash.com)

“As jy skrikkerig is vir donkerrooi, wend ’n bietjie lipbalsem aan jou lippe en wend die rooi lipstiffie net aan die middel van jou lippe en gebruik dan jou vingers om dit liggies uitwaarts te smeer,” is Cheryl se raad.

5. ’n Rooi lipvlek is makliker en minder intimiderend

Ons dink dikwels rooi lippe beteken perfekte rooi soliede lipstiffie, maar jy kan ook ’n rooi lipvlek dra vir ’n meer natuurlike voorkoms.

Soos ons ouer word, word ons lippe minder rooi en ’n rooi lipvlek is die ideale manier om kleur terug te sit, sonder die ‘commitment’ van perfek gedoene lippe.

Wend dit so aan

Die meeste lipvlek het ’n kwassie by.

  • Omlyn jou buitelyne en wend daarna kleur aan die middel van jou lippe aan.
  • Laat dit effens droog word en klad jou lippe liggies op ’n sneesdoekie
  • As die kleur te subtiel is, wend nog ’n lagie aan.

My elkedag staatmakers

Ek tik hierdie aan my lippe en wange

The Body Shop Sheer Touch Lip & Cheek Tint Power (R230, The Body Shop)
Clarins Water Lip Stain – 03 (R490, Superbalist) gee ’n pragtige rooi afwerking.

6. Moenie van die buitehoeke van jou mond vergeet nie

“Baie vroue smeer net lipstiffie in die middel van hul mond aan en vergeet van die buitehoeke. Onthou dit veral ook as jy ’n lippotlood aanwend,” sê Renée.

7. Wend verbloemer aan die buitelyne van jou lippe

Renée wend altyd ’n klein bietjie verbloemer om die buitelyne van die lippe sodat lipstiffie nie ‘bloei’ nie.

8. ’n Tikkie glans

’n Tikkie glans in die middel van jou onderste lip sal jou lippe voller laat lyk.

9. Die res van jou grimering maak saak vir die voorkoms wat jy wil skep

Vir ’n natuurlike, ongekunstelde voorkoms

Kies ’n getinte sonskerm, neutrale oogskadu (of jou gesigpoeier) op jou ooglede, bruin oogpotlood, maskara en lipvlek op jou wange en lippe.

Vir elkedag-werksgrimering

Onderlaag, natuurlik oogskakering, oogpotlood, maskara, blosser en ’n langaanbly rooi lipstiffie of bevogtigende rooi as jou lippe meer geneig is om droog te voel.

Lugreëling in kantore is geneig om lippe droog te maak, ’n hidrerende lipstiffie is hierom dalk ’n beter keuse. Haat jy egter die rooi lipstiffie wat op glase en koppies bly sit, is ’n langaanbly lipstiffie ’n beter keuse.

Vir ’n glansryke voorkoms

Doen moeite om jou lipstiffie perfek aan te wend. Gebruik rooi lipomlyner en wend jou lipstiffie eerder met ’n kwassie aan.

Vloeibare oogomlyner, ’n tikkie goue oogskadu en ’n natuurlike, pienkerige blosser werk goed saam met die tipe voorkoms.

10. Die regte blosserkleur vir jou lipstiffie

Kies blosser in dieselfde kleurfamilie as jou lipstiffiekleur. Dra jy ’n meer oranje of baksteenrooi; kies ’n perske-skakering blosser. As jou rooi lipstiffie ’n koel skakering is, kies ’n pienkerige blosser.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
haarborsels
Haarborsels; van haarkapper-gunstelinge tot skoonmaak
error: Content is protected !!