Die ikoniese wit kraaghemp is beslis die kledingstuk wat die hardste werk in jou klerekas. Dit pas byna by alles en is so veelsydig. Woorde soos tydloos, klassiek, elegant, luuks, minimalisties en stylvol beskryf hierdie item op sy beste. Ons het vir drie fashionistas oftewel drie bekendes in die modewêreld gevra om hul liefde vir, wenke en styl-kombinasies met die wit kraaghemp te deel. Jackie Burger, Candice-Lee Kannemeyer en Clare Wiese-Wentzel vertel ons graag meer; Deur Justine Kroes
1. Hoekom is dit ‘n stapel-item?
Jackie Burger, voormalige handelsmerkbestuurder, tydskrif redakteur en die baasbrein agter Salon 58 meen “Dis ’n item wat jy elke dag moeiteloos kan dra.
Dit is nie aan seisoene gebonde nie, altyd tydloos en bied die perfekte balans tussen gemak en elegansie.”.
Jackie Burger

Clare Wiese-Wentzel, aanbieder van die TV-program Mooimaak en skrywer van haar eie stylblad The Global Critic stem saam “Somer of winter, dag of nag – dis ’n stapel! Een van daardie moet-hê items (soos ’n klein swart nommertjie of jeans wat perfek pas). Iets waarvan elke vrou ten minste een in haar klere kas moet hê. ’n Mens kan dit by soveel ander items en op soveel maniere dra en dit sal nooit date nie.”
2. Die snit en styl is belangrik
Vir ’n effense magie:
Candice-Lee Kannemeyer, voormalige tydskrif-mode-en- skoonheidsredakteur, stilis en stigter van haar eie stylblad, In My Bag, sê “vir my moet dit moet beslis oorgroot en lospassend wees, my gunsteling een is ’n wit kraaghemp van Desray. Veral as jy jou gewig, soos ek, rondom die maag-area dra, moet jy versigtig wees.

’n Opknoophemp kan jou maag area maklik groter laat vertoon. Deesdae verkies ek ’n oorgrootte weergawe van die opknoop kraaghemp, of ’n styl wat losspassend is, veral oor my maag gedeelte.
Candice-Lee Kannemeyer
Vir ’n groter borsmaat:
Stylvol se Suzanne Kotzé se raad: ’n Wit hemp en groot borste is nie altyd pasmaats nie.
Die wit kan jou borste groter laat lyk. Langer wit hemde werk beter; dit trek die oog af en fokus nie die aandag op jou borste nie.
Suzanne Kotzé
Pas ’n groter nommer as jou gewone grootte ook aan; die laaste ding wat jy wil hê is ’n wit hemp wat span en ooptrek oor jou borste.
’n Goeie opsie is om jou wit hemp oop te dra, met ’n donkerder skouerlose toppie onder jou hemp.
’n Wit hemp wat tot bo toegeknoop is, lyk elegant en simplisities, maar dit is nie vleiend vir ’n groter borsmaat nie. Knoop liefs jou boonste twee knopies oop. My gunsteling lang wit hemde is van Habits en Me&B.
Vir ’n uurglas figuur:
Clare sê: “Ek verkies ’n hemp wat effens tailored is. Ek is geneig om hemde in te steek sodat ek my middel (wat gewoonlik klein bly, al tel ek van tyd tot tyd elders gewig op) kan beklemtoon – dit help om ’n uurglasfiguur verder te skep. High-waisted broeke en gordels moedig verder daardie uurglasvorm aan.

Vir die minimalis:
Vir ’n hemp met ’n goeie snit, moet nie bang wees om in die mansafdeling te loer nie is, Jackie se raad.
“Ek verkies klassieke snitte en koop maklik wit hemde in die mansafdeling – gestroop van fieterjasies en boonop goed gesny”.
Jackie Burger
3. Hoe gereeld moet jy jou wit hemp vervang?
Meestal sal dit afhang van die kwaliteit van jou wit kraaghemp – maar ook hoe jy vir jou hemp sorg, ons mode-foendi’s se raad:
Clare sê: “Op die oomblik, amper nooit nie, ek vermy die winkels weens COVID. Ek het egter so ’n paar wit hemde in my kas. Dit is die tipe item waarop ’n mens geld kan spandeer (dis ’n klerekasbelegging), dan hoef jy nie elke jaar ’n nuwe een te koop nie. Ek het van myne al jare lank. Ek pas hulle net mooi op!”
Jackie se koopraad – “Ek is nie spandabelrig nie, en koop slegs as ek ’n hemp moet vervang of iets vang my oog wat daardie tikkie ekstra het; soos byvoorbeeld ’n tuxedo hemp met ’n interessante kraag of hemde met mooi moue of mansjette”.
4. Hou jou wit hemp só kraakvars
- Was jou wit kraaghemp met die hand, en vermy dit om dit saam met ander klere te was. As jy ’n masjienwas moet doen, skei jou wit items en was afsonderlik, selfs pastelkleure kan afgee en jou wit wasgoed verdof of verkleur. Jackie se raad: “Dit gaan absoluut oor goeie kwaliteit materiaal en ek was my wit hemde afsonderlik met ’n natuurlike seep, koue water en laat dit droogword op ’n hanger.”
- Gebruik koeksoda, ja koeksoda! Clare se kitswenk “Ek gebruik altyd eerste koeksoda voordat ek enige ‘harde’ chemikalieë gebruik om merke uit te kry, maar ’n mens moet nie te lank wag om die koeksoda af te spoel nie.”
- Knoop jou hemp los voordat jy dit in die masjien gooi en draai die binneste gedeelte na buite om enige ‘wear en tear’ van die wasproses op die materiaal te verminder.
- Slaan die versagmiddel (fabric softener) oor, hierdie middels vorm ’n dun lagie op jou kledingstukke wat dit makliker maak vir vuiligheid om aan die materiaalstof vas te klou.
- Gebruik minder hitte, hoewel ons almal van daardie vars gestrykde hemp-gevoel hou, is minder hitte sagter op jou wit hemp, verruil liefs jou strykyster vir ’n klerestomer. “Ek stoom altyd my klere eerder as stryk, dis sagter op die lap,” sê Clare.
- Moet nie in direkte sonlig laat droogword nie, hitte en direkte sonlig kan sekere gedeeltes van die materiaal van jou wit hemp laat geel word sê Candice.
5. Kies eerder hierdie materiale:
Katoen is die topkeuse onder die modekenners, maar bamboes en egte sy hemde klink vir ons net so stylvol:
“Ek verkies katoen of bamboes, ek sal ’n mensgemaakte materiaalstof oorweeg net solank die materiaal mooi val”
Candice-Lee Kannemeyer
Jackie sê “Hoë gehalte suiwer katoen of poplin- en piqué-variante. Ander stowwe is vir my te sag en het nie dieselfde getailleerde lyne nie.”
“Ek het een in sy wat ’n baie elegante twist is op die klassieke wit kraaghemp maar die meeste van my hemde is katoen blends” sê Clare.
6. Dra dit so vir ’n gemaklike naweekvoorkoms:
Candice: Op ’n warm somersdag sal ek my wit hemp kombineer met ’n kortbroek (swart of bruin) en ’n paar Birkenstock sandale – my bene is beslis my beste bate en ek wys hul graag!
Jackie: Met denims, wye geplooide rompe of oorgroot khakibroeke!

Clare: In die somer, met ’n sagte wit of swart wye (Japanese styl) broek en sandale in metaal skakerings en ox blood rooi naellak op my toonnaels.
7. Dra dit so vir ’n formele afspraak
Jackie: Tuxedopak; my vintage crêpe vollengteromp (gunsteling aankope in Parys) of met my af-wit oxford bag-broek en pêrels.
Clare: Met ’n skinny jean of high waisted syromp.
Candice: As ek na ’n meer formele afspraak moet gaan sou ek my wit hemp kombineer met ’n paar donkerblou of swart skinny jeans, en om die uitrusting af te rond. hakke natuurlik!
8. Koop/dit dit hier:
Candice sê: “Ek verkies om plaaslike ontwerpers te ondersteun. My gunstelinge is beslis Coise, Desray & Just Cruizin. Ek het tans my oog op hierdie pragtige wit hemp van plaaslike ontwerper Coise.”
Clare: “Waarookal ek een kry wat mooi pas en nie te maklik kreukel nie. Ek is mal oor internasionale ontwerpers soos THEORY en VICTORIA BECKHAM se hemde maar ook high street name soos Zara en H&M.
Jackie: Gehalte en snit is vir my die belangrikste oorwegings en ek sien dit as ’n belegging, so my beste hemde is van manswinkels; ook van Trenery (voorstanders van organiese katoen); ’n paar by COS in Parys aangeskaf en dan my vintage vondse!!
Lees ook: Stiliste se top truuks.