10 nuutste mode-trends vir winter

Nooit sou ons kon dink dat die modewerêld binne ’n jaar so drasties kon verander nie – en daarby die mode-trends ook. ’n Duidelike tema in modekringe en onder kenners is beslis “gemak bo alles”. Die gemaklike inperkingstyl bly populêr en ook groot, lospassende silhoeëtte met snoesige teksture. Ons sien dit beslis as slenterdrag met ’n tikkie luuksheid daarby.

Die top 10 nuutste mode-trends vir die winter wat ons nou raaksien sluit in –lang pofferige jasse, vessies of onderbaadjies, bypassende stelle, neonskakerings en trekkerbandskoene, om ’n paar te noem! Deur Justine Kroes

1. Die “Shacket”

Cotton On Blue Check Shacket (R799)

Die naam beskryf hierdie trend-item perfek – die Shacket is die kruis tussen ’n shirt (hemp) en ’n jacket (baadjie). Perfek vir daardie tussen-in weer – die Shacket wat meestal bestaan uit wol, leer of katoen-kombinasies is dikker en warmer as ’n gewone oopknoophemp, en nie so swaar soos daardie warm winterjasse en -baadjies nie. Die oorgroot, lospassende styl is natuurlik ook ’n groot tendens.

Wenk: As jy dié oorgroot trend wil aanpak maar nie wil lyk asof jy verdrink in jou klere nie, moet jy onthou om jou proporsies te balanseer. Met die lospassende Shacket aan jou bo-lyf, maak seker jy dra noupassender silhoeëtte aan jou onderlyf.

2. Vessies (vest) en onderbaadjies

Dra jou vessie of onderbaadjie bo-oor oorgroot rokke of kraaghemde om definisie rondom jou middellyf te skep. Gebreide onderbaadjie-vessies is die mees populêre keuse die seisoen.

Die styl bied beslis ’n blink plan om verlede seisoen se rokke of hemde op te kikker met ’n gebreide moulose vessie bo-oor.

3. Oorgroot denims

Factorie Slouchy Jean (R499 Superbalist)

Slouchy, amper slordige, oorgroot denims is tans die denimstyl van die oomblik. Noupassende, ongemaklik stywe jeans is iets van die verlede; wat duidelik inpas by die oorheersende gemakdrag-modeneiging van die afgelope jaar.

Kyk uit vir die terme wanneer jy oorgroot jeans wil koop: “baggy”, “oversized”, “slouchy” of “balloon” jeans sal werk.

Wenk: Bygesê, die styl is beslis nie vir almal nie, hou jou stylpersoonlikheid en lyfvorm in gedagte wanneer jy trend-aankopies doen!

4. Helder skakerings

Vanjaar is die “brights” trend soos dit geken word in die modewêreld meestal helder, neon skakerings van pienk, groen of geel. Die meer-is-meer-reël geld beslis vanjaar wanneer dit kom by hierdie mode tendens. Dra dit van kop tot tone of kleurblok verskillende helder skakerings saam.

Wenk: as jy nie braaf genoeg is om die helder skakerings trend van kop tot tone aan te pak nie, kies ’n bykomstigheid soos ’n kopband of handsak in ’n helder neon skakering.

5. Bypassende stelle (Matching sets)

Mr Price Matching Sets

Bypassende stelle ’n populêre trend tydens die somer het nou oorgespoel na die wintermode moet-hê items toe. Bypassende stelle is enige stel van netjiese pakke, baadjie-en-romp-stelle tot sweetpakke.

’n Bypassende stel is nie net modieus mooi op die oomblik nie, maar ook so veelsydig – jy kan elke item apart of saam dra. Dit beteken meer styl-opsies vir jou klerekas.

Wenk: hou jou klerekas in gedagte wanneer jy ’n bypassende stel koop – kies een wat die beste gaan werk by wat jy reeds het.

6. Moue met volume

Dramatiese moue is beslis die heel maklikste mode-item om te dra om dadelik te lyk asof jy weet wat tans groot mode is. Lees meer oor die moue trend en watter moustyle nou groot nuus is – klik hier om meer te lees.

7. Lang pofferige jasse

Foto: Shutterstock

Gemaklike, oorgroot pofferige jas-baadjies is die nuwe winterjas. Vervang hierdie seisoen jou netjiese Melton-styl jas deur ’n lang pofferige jas/baadjie. Dié styl is veral bekend in langer lengtes, midi- of selfs maxi-lengtes.

Wenk: Dra dit oor jou netjiese uitrusting of saam met jou gemakdrag, dié veelsydige (en warm!) baadjie is in die kol met vanjaar se oorheersende mode-tema, “gemak bo alles!”.

8. Gekwilte teksture (Quilted textures)

Foto: Shutterstock

’n Maklike manier om jou uitrusting meer modieus te laat lyk is om met teksture te eksperimenteer en by jou uitrusting in te sluit. En “quilted textures” is een van die jaar se bekendste mode-neigings. Veral gesien in jasse, baadjies, handsakke, skoene en selfs rompe.

9. Trekkerband skoene

Staan opsy Docs, vanjaar is die dramaties-bonkige “tractor-tread” skoen die nuwe moet-hê skoen. Die “Tractor tread” skoen se faam is afkomstig van die Prada AW19 loopplank en deur die afgelope paar jaar het al hoe meer ontwerpers die bonkige skoenontwerp ingesluit in hul modereekse. Net soos die “dad shoe” bonkige tekkie trend verkoop die Balenciaga trekkerband stewels ook soos soetkoek!

Die skoen word gekenmerk aan groot bonkige sole wat amper soos ’n trekker se buitebande lyk, selfs groter en meer bonkig as Doc Martens.

10. Leer/ kunsleer broeke

Foto: Shutterstock

Nee, moet nie so gou hierdie trend afskryf nie – dit hoef nie styfpassende jeggings te wees nie. Die trend is daar om elke lyfvorm te vlei – ’n gemaklike jogger styl kunsleerbroek met ’n ingesteekte T-hemp en jou gunsteling tekkies. Of ’n wyepyp kunsleerbroek met enkelstewels en ’n pofmoubloes. Hierdie broek trend is volop in die winkels en daar is beslis iets vir almal.

Wenk: as jy graag die trend wil aanpak, maak seker jy pas verskillende style aan om een te vind wat jou lyfvorm die beste vlei.

Lees ook: Moue vir nou!

Teken in op ons nuusbrief en word deel van die binnekring.

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Moet-hê mode-items
error: Content is protected !!