Het jy al ooit gewonder watter tipe pak pas die beste by jou stylpersoonlikheid? Adrienne du Plessis wat spesialiseer in voorkomskonsultasie vir die die werksplek deel haar wenke vir pak koop asook watter styl pak die beste by jou sal pas. Deur Adrienne Du Plessis, saamgestel deur Justine Kroes.
03/03/2023
Hoekom ’n pak?
Adrienne verduidelik “’n Pak is ’n wen-item in elke persoon se klerekas. Dit is maklik om te stileer en werk vir enigiemand vir enige funksie en in enige werksplek. ’n Pak vat baie van die dinkwerk uit aantrek, veral as jy nie tyd het om jou uitrusting vooraf te beplan nie. ’n Pak is so veelsydig – jy kan elke item apart of saam dra. Dit beteken meer stylopsies vir jou klerekas.”
’n Pak is jou wapenrusting in die werksplek!
Wenke vir pak koop
Spandeer ’n bietjie meer op ’n pak wat van goeie gehalte lap gemaak is, dit gaan langer hou (en boonop lekker sit en voel).
Maak seker die snit pas jou lyf perfek en jy is gelukkig daarmee om die baadjie en die broek of romp saam én apart te dra.
Kyk na die was-instruksies voor jy jou pak koop. As jy dit net kan droogskoonmaak en jy koop ’n ligte kleur, gaan jy dalk R200+ per dra moet bywerk by die prys, en dan raak dit duur!
Daar is definitief ’n pak vir elke styl-tipe; wat is jou pak-persoonlikheid?
1. Die klassieke styl
’n Klassieke snit of styl in swart of wit met ’n nouer, reguit of wyepyp-broek sal jou ver bring. Simplistiese lyne met min of geen versierings.
’n Klassieke pak kan ook werk vir enige styl-tipe met die regte bykomstighede, bloes, handsak en skoene, wat jou styl uitbeeld.
2. Elegant en vroulik
Jou styl-persoonlikheid is meer geneig om ’n romp-pak te probeer. Of selfs ’n pak in ’n tweed of boucl-tipe lap. Jy hou veral van ’n pak in ’n vloeiende, sagte lap met ’n gordel wat jy kan knoop of bind.
3. Retro pak-persoonlikheid
As jou styl-persoonlikheid meer eklekties en retrosjiek is – kies dalk ’n Sewentigs geïnspireerde pak met ’n wye lapel, noupassende middel en ’n uitklokbroek. (uitklokbroeke is tans volop beskikbaar). Wees op die uitkyk vir ’n pak in ’n skaakbordpatroon, blompatroon, fluweel of selfs kunsleer.
4. Modern- dramatiese styl
Jy hou daarvan om ’n stylvolle stelling maak. Modern en “city chic” beskryf jou goed. Jou pak bestaan uit ’n gestruktureerde baadjie met buitengewone afwerking en skouerkussings of jy kies graag ’n helder kleur soos magenta, rooi of helder geel of groen.
5. Sportiewe styl
As jou persoonlike styl meer gemaklik en sportief is – kies ’n meer lospassende pak-styl wat jy gemaklik by jou tekkies en ’n T-hemp kan dra.
Lees ook meer oor stylpersoonlikheid hier.
Adrienne du Plessis
Adrienne is ’n voorkomskonsultant wat spesialiseer in voorkomsadvies vir vroue in die sakewêreld.
Business Style Consultant, kontak vir Adrienne hier: www.adrienneduplessis.co.za of stuur vir haar ‘n epos op info@adrienneduplessis.co.za volg vir Adrienne op Instagram: @adriennedplessis