Foto: Style Rotate

Uitrustings vir troues en spesiale geleenthede – hier is raad

Die spesiale geleentheid- en trouseisoen is op ons, en as jy soos ons soms wonder wat die moets, moenies en moet-hê items is…dan is hierdie artikel vir jou! Talentvolle stilis en modekenner Carissa Bosman deel raad en handige wenke wat ons almal hoort te volg wanneer dit kom by uitrustings vir troues en spesiale geleenthede. Deur Justine Kroes

“Vir dames is spesialegeleentheidsuitrustings ingewikkeld, ons dink aan die praktiese gedeelte van die styl, en of ek dit ooit weer sal kan dra. Dit gaan ook oor die gemak, wat pas by jou lyf en ook jou begroting. Ongelukkig kry nie almal 10 uit 10 vir hulle trou-uitrustings nie, baie mans en vroue kry dit gereeld verkeerd”

Carissa Bosman

Die moets en moenies vir trou-gas-uitrustings.

Moenies

Wit is vir die bruid (teensy andersins aangedui)

  • Dit is die bruid se voorreg om die enigste een te wees wat wit dra, tensy sy anders besluit op die uitnodiging. Dames, moet dan nie “daai een” wees wat opdaag in jou mooiste wit pakkie nie.

Geen denims (manne!)

  • Om die regte trou-uitrusting vir ’n troue te kry kan nogal uitdagend wees vir die meeste vroue. Die here daag net op in chino’s, wat hopelik deftig is of nog in denims met ’n oop kraag hemp. Denim broeke is ’n baie groot nee vir ’n troue, liewe manne!

Geen pofbaadjies nie!

  • Ek sien gereeld hoe mans opdaag by ’n troue met ’n denim en K-Way pofbaadjie. Suzanne Swart (videograaf) en Migneon Marais (fotograaf) wat gereeld saam troues afneem, praat dikwels oor hoe sleg dit is as mans (en soms vroue) met K-Way baadjies opdaag.
  • Die bruidspaar en gevolg lyk mooi, die dékor ook sprokiesmooi en dan lyk dit op die foto of daar ’n paar kampeerders per ongeluk by die troue opgedaag het in plaas van die gaste. ’n Pofbaadjie is vir bergklim, braai en koue wintersdae by ’n wynplaas, nie vir ’n troue nie. Ons weet dit is gemaklik maar ’n mooi blazer is ook gemaklik en as dit baie koud is, is ’n jas baie meer stylvol en gepas.

Moets

Dames:

Onthou altyd dat hierdie die bruidspaar se groot dag is, so sit jou beste stylvoet vir hulle voor. Jy word ook afgeneem en vorm deel van die hele prentjie.

Terwyl jy so mooi lyk, wees dan ook so gaaf om jou mooi uitrusting te vat vir ’n paar draaie wanneer die dansvloer oopmaak.

As jy gereeld na ’n troue genooi word, kan jy (mans en vroue) gerus belê in ’n paar spesiale geleentheid stapel klerekasitems:

Swart rok

’n Baie goeie belegging is ’n mooi swart rokkie in ’n minimalistiese styl wat jy maklik met ander bybehore, ’n nuwe haarstyl en grimering wat jy anders gedoen het anders kan laat vertoon.

Netjiese langbroek

’n Netjiese langbroek, een wat ’n hoër middel het in ’n neutrale kleur is ook so ’n moet-hê. Met so ‘n styl broek kan jy maklik bloese en toppies uitruil. Dit lyk natuurlik altyd baie klassiek en stylvol as jou uitrusting monochromaties is. Dit beteken jou broek en bloes se kleur is of presies dieselfde kleur of baie naby.

Jas of blazer

’n Jas of blazer in ’n klassieke snit in swart of ’n neutrale kleur. Hierdie is veral noodsaaklik as jy in die Kaap woon en jy sukkel om te besluit wat jy moet saam vat as dit koud raak. ’n Pashmina is nie iets wat almal met flair kan dra nie, kies eerder ’n mooi jas of baadjie. Deesdae is daar ’n verskeidenheid in warmer of ligter materiale geskik vir winter of somer.

Moderne hakskoen

’n Moderne hakskoen. Ons dames kies almal verseker eerder tekkies en sandale maar dit is nie gepas vir ’n troue nie. Dit help nie jy lyk asemrowend en dra ’n vervelige paar pumps nie. Almal gaan vir daardie paar pumps kyk! Pak die pumps eerder in jou sak vir die donker aand dansvloer. Kies ’n blok hak, dit trap nie in die gras in nie en is ook meer gemaklik.

Mans

Een of twee moderne broeke in ’n neutrale kleur: Swart, navy, stone of beige. Maak seker die materiaal van die broek is nie te grof in tekstuur nie. Sekere chino-styl broeke is growwer in tekstuur en vertoon baie informeel. Hoe fyner die materiaal se tekstuur, hoe meer deftig en stylvol is die item.

Netjiese kraaghemde. Een in ’n soliede kleur en een met ’n patroon. Patrone moet klein wees, nie te groot nie. Blokkiespatrone is nie gepas vir ’n troue nie.

Semi-formele kleredragkodes vra nie vir ’n das nie, maar formele kleredragkodes verg wel dat jy ’n das ’n moet dra met ’n baadjie, veral vir die diens.

’n Netjiese pak, baadjie of jas in ’n neutrale kleur.

’n Mooi paar formele skoene. Sneakers is ’n definitiewe nee vir ’n troue.

Wenke vir formele en semi-formele kleredragkodes:

Dames

  • Wanneer die uitnodiging se kleredragkode formeel is moet die dames lang rokke (verkieslik) of lang-broeke dra.
  • Korter rokke is meer gepas vir ’n semi-formele kleredragkode.
  • Informele maxi-rokke is nie formeel nie en die rok se materiaal moet geskik wees vir die aand.
  • Donkerder kleurskakerings is ook meer formeel as ligter kleure, maar as jou rok byvoorbeeld uit ’n soliede ligte kleur formele lap soos duchess satyn gemaak is en dis lank, sal dit werk.
  • Die lap tekstuur is ook meer formeel as dit fyner is, byvoorbeeld satyn gaan meer formeel wees as linne. Hou dit in gedagte.

Mans

  • Formeel vir die manne beteken ’n toegeknoopte wit kraaghemp met ’n swart das of strikdas met ’n swart broek en baadjie.
  • Die bruid kan versoek dat ligter kleur broeke en baadjies ook gedra word al is die dragkode formeel.
  • Informeel/semi-formeel is meer gemaklik maar dieselfde reëls wat vir die dames geld is ook dan geskik vir die mans wat kleur, materiaal, tekstuur en patrone betref.
Carissa Bosman

Carissa Bosman is ‘n bekende stilis, grimeerkunstenaar en voorkomskonsultant. Volg vir Carissa op Instagram hier.

Sakpas plan vir trou (of spesiale geleentheid) uitrustings

Voel jy ook skuldig om jou duur spesiale-geleentheidsuitrusting agter in jou donker kas te hang? Te veel geleenthede, te min uitrustings en geld! om nuwes aan te skaf (ons ken daai!). Style Rotate se huur-’n-uitrusting-per-geleentheid-konsep is jou antwoord.

Hierdie slim huur-mode konsep is die breinkind van Cleo Marcopoulos and Tash Liesner, albei bekend in die modewêreld. Saam het hul besluit om ’n meer herwinbare benadering tot mode vir geleenthede aan te pak, en so is Style Rotate gebore.

Met hierdie “dra meer, koop minder” konsep is dit nie meer nodig om van winkel tot winkel te spring op soek na daardie perfekte uitrusting nie.

So werk Style Rotate

  • Style Rotate het uitrustings van groottes ses tot 24 om van te kus en keur.
  • Ontwerpe sluit plaaslike en internasionale ontwerpers se skeppings in.
  • Kliënte kan uitrustings huur vir troues, formele geleenthede, verjaarsdae of selfs net belangrike vergaderings – daar is ’n paar “power” pakke wat perfek is hiervoor!
  • Die diens werk aanlyn, kliënte kan Style Rotate se webtuiste besoek en ’n uitrusting kies op ’n 4-dag kalender periode.
  • Huur pryse wissel van R350 tot R1 099 afhangend van die rok. Hou in gedagte, jy huur ontwerper items!
  • Style Rotate sorg vir die aflewering, verpakking en droogskoonmaak van elke item.
  • Pas tuis aan – as jy nie tevrede is met hoe die rok pas nie, sal Style Rotate jou huur koste sonder vrae terug betaal (minus die afleweringsfooi).
  • As jy in die Kaap area woon, kan jy ’n afspraak maak om rokke aan te pas ingeval jy wil dubbeld seker maak van die grootte, styl of snit.
  • Jy kan jou uitrusting tot ses maande vooruit bespreek, ingeval jy bekommerd is iemand anders boek jou gunsteling item uit.
  • Aflewering is landwyd beskikbaar.

Lees ook: 10 Moet-hê sandale dié somer

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Kies die regte swembroek vir jou lyfvorm
error: Content is protected !!