Nie almal van ons kan vakansie neem wanneer dit skoolvakansie is nie. Mag hierdie idees bydra tot ’n meer ontspanne Paastyd vir jou en jou gesin. Deur Milan Murray, stigter van die ouerskap-platform The My Story Tribe.
Vakansie!
Net die aanhoor van hierdie woord het die vermoë om jou skouers te laat ontspan, jou asemhaling te verdiep en jou mondhoeke agter jou ore in te haak.
Salig.
Tog is die “15-dae-’n-jaar” verloftoegewing vir die meeste Suid Afrikaners ’n wrede realiteit. Dit is binnekort Paasvakansie … maar dalk nie vir jou nie.
Terwyl jou kinders inlê en die onderwysers ’n welverdiende blaaskans neem, bly jou sperdatums ophoop en jou kuberposbus uit sy nate bars.
N.a.v ’n studie wat deur Brandmap gedoen is, is daar ná die pandemie meer as ’n derde van Suid Afrika se middelklas-werknemers wat grotendeels van die huis af werk. Die negatiewe impak daarvan op huisgesinne gedurende skoolvakansies is merkbaar, aangesien ouers tuis werk en van kinders verwag om die ontspanne familietuiste ook as kantoor en werkplek te respekteer.
Hoe verseker werkende ouers dat hulle kinders genoegsaam rus en herlaai tussen skoolkwartale sonder om skuldig te voel oor hulle eie onbeskikbaarheid?
Vyf idees vir wanneer jou kind met vakansie is, maar jy nie:
1. Uitruil -ouers
Ek het vir die eerste keer van die “Parent Swop”– konsep gehoor op ’n dinamiese Australiese webtuiste Circle In. Ek was nog altyd intens bewus van ons Afrikaners se vermoë om mekaar te hulp te snel – of jy nou by jou buurvrou gaan suiker leen of gevriesde kos by ’n siek vriendin aflewer. Tog skop daar ’n skuldgevoel in wanneer dit by ons kinders kom. Ons vra moeiliker vir hulp, want jou kroos is mos jou probleem, reg?
Die “Uitruil-ouers” konsep stel voor dat ’n groep kinders ’n dag by een ouerhuis deurbring. Dit gee die ander ouers ’n kans om te werk en nie ekstra kostes aan te gaan rakende oppassers en aktiwiteite nie. Jodi Geddes van Circle In merk op dat selfs die ouerhuis waar die kinders bymekaarkom daarby baatvind, aangesien kinders mekaar besig hou. Pak sommer ’n kosblik om dit vir die gas-ouer nog makliker te maak!
As 5 uitruil-ouers instem, het jy 4 dae in jou vakansie-week om rustig te werk.
2. ’n Verveeld-fles
Ek is ’n voorstander van verveeldwees. Ek wonder of daar al ooit ’n era was waar kinders so toegegooi word onder aktiwiteite en verwagtings. Jodi Musoff, ’n opvoedkundige spesialis by Child Mind Institute, benadruk hoe belangrik verveeldwees is vir die ontwikkeling van broodnodige vaardighede in ons kinders. ’n Gebrek aan sleutelvermoëns soos beplanning, probleemoplossing, buigbaarheid en geduld is veral opmerklik by vandag se kinders wat super gestruktureerd funksioneer.
Oorweeg om hierdie vakansie nie jou kind se dagboek te vul nie. Laat hulle toe om lui en sonder ’n agenda die dag in te gaan. Om die alewige “Mamma, ek is verveeld!” klaaglied te vermy, skep vooraf ’n “Verveeld fles” waaruit hulle kan kies. Vul dit met uitdagings vol kreatititeit en pret. Hierdie was wenners in ons huis se Verveeld-fles:

- Omskep die tuin in ’n buitelug bioskoop. Ons kan vanaand fliek kyk.
- Choreografeer ’n dans. Ons kan Sondag konsert hou.
- Skep ’n Potgooi (met naam en logo) en voer ’n onderhoud met ’n vriend.
- Maak tydskrifte bymekaar by die bure. Ons gaan dit ouetehuis toe neem.
- Bou ’n komberstent met 3 vertrekke.
- Skuif jou kamer.
- Ontwerp ’n bordspeletjie
3. ’n Werfwinkel
Daar is min dinge so lekker vir Twieners soos geld in hulle sak. ‘n Werfwinkel is ’n heerlike, kreatiewe manier om kinders te leer oor finansies (en terselfdertyd van ongewensde items ontslae te raak!)
Benjamin Talks is ’n kindervriendelike webtuiste wat jongmense leer oor finansies. Hulle lys die voordele van ’n werfwinkel so:
- Dit leer kinders om ‘n projek te beplan en te bestuur
- Om die prys van items te bepaal, kweek ‘n bewustheid van waarde
- Dit span kreatiwiteit in vir bemarking
- Om vir eie sakgeld te werk, skep ‘n gevoel van verwesenliking
My kinders het sommer die hele buurt se jongmense betrek en het hulle werfwinkel so beplan:
- Dag 1: Maak items bymekaar in 4 kategorieë (boeke, speelgoed, klere, huisware)
- Dag 2: Maak plakkate en sit pryse op alle items
- Dag 3: Neem kreatiewe foto’s om op die gemeenskapsgroepe te adverteer
- Dag 4: Die winkel is oop!
4. ’n Verfprojek
Ek stap nou die dag in ’n dekorwinkel en sien ’n bekende Afrikaanse televisiepersoonlikheid saam met haar dogter tussen die rakke snuffel. Hulle debatteer oor die item wat hulle vir haar kamer gaan koop. Die ma hou van een weergawe, die agtjarige dogter hou meer van iets anders. Die stryery eskaleer en eindig toe die ma haar voet neersit: “ Ek betaal vir die item, so ek sal besluit wat ons koop.” Ek was dae daarna nog ontsteld. Ons hou soms so vas aan ons eie “Pinterestprentjie” dat ons ons kinders se kreatiwiteit smoor.
Kinders moet gedurende die kwartaal aan soveel verwagtinge voldoen. Skep hierdie vakansie die geleentheid vir jou kinders om hulleself en hulle identiteit kreatief uit te druk.

Kies ’n item, ’n kas, ’n stoel, ’n rak , ’n kis, en laat hulle toe om dit self te verf of te omskep. My beste vakansiebelegging nog ooit was ‘n blik verf en maskeerband. My dogter het self haar bed geverf. Dit was onnet, oneweredig en ’n vieslike groen kleur. Sy was nog nooit so gelukkig nie!
5. Emosionele groei
Die huidige statistiek rondom kinders se emosionele welstand is kommerwekkend. In middelklas huishoudings is prestasiedruk, angs en lae selfbeeld hoër as ooit.
Gebruik hierdie vakansie om jou kind se emosionele battery te laai.
The My Story Tribe se arbeidsterapeut, Chantel Griesel, merk in ’n studie oor joernaal-hou dat die gewoonte van selfrefleksie ‘n merkbare verskil kan maak om jongmense op ’n gesonde manier te help verbind met hulle eie storie.
Maak hierdie vakansie tyd vir emosionele groeiaktiwiteite soos joernaalhou.
Die verwagtinge van die samelewing, ouers en die skool kan ’n kind se beeld van hulleself verdraai. Waneer ’n kind die geleentheid het om sonder druk en verwagting hulle eie denke, emosies en lewensgebeure te oordink , lei dit tot ‘n gegronde identiteit en gesonde self-regulering.
Laai ‘n gratis vakansiepakket van The My Story Tribe af. Kik hier om af te laai.

Hierdie 12 uitdrukstukke met ouerhandleiding is ’n ontspanne manier om emosies te verken. Belê ook in een van hulle kinderjoernale by www.themystorytribe.com

Aktrise Milan Murray is die stigter van The My Story Tribe. Sy is ’n ma van twee en passievol oor die emosionele welwees, groei en geestesgesondheid van kinders.