Vir baie reisigers is die werklike uitdaging nie om alles in ’n tas te pas nie, maar om hotelkamer-chaos te vermy. Teen dag twee is daar gewoonlik dit onvermydelike ontploffing van klere, laaiers, juweliersware en toiletware. Die geheim? Pak met organisasie in gedagte voordat jy die huis verlaat. Deur Suzanne Kotzé
Die storie is geïnspireer deur ons eie hotelkamer-chaos nadat ons onlangs by ’n hotel oorgebly het. Ons het wel vyf keer binne twee ure van uitrustings verander en moes jaag om ’n klomp foto’s geneem te kry. (Ons moet darem verduidelik hoekom die badkamer so buitengewoon erg lyk.) Maar die meeste van ons sukkel onder gewone omstandighede ook hiermee. Later spandeer jy soveel tyd om goed te soek. Ons het sommer vir onsself oplossings gesoek, mag dit jou ook help.
Dit hotelkamer-chaos voorkomingsbenodighede
| Item | Waarmee dit help |
| Pakblokkies (packing cubes) | Skei klere in kategorië of uitrusings |
| Kompressie-blokkies | Goed vir oorvol tasse om spasie te spaar |
| Juweelhouertjie | Voorkom hangetjies wat gekoek is, verlore oorbelle en help om tred te hou dat alles ingepak is. |
| Kabelorganiseerder | Help keer dat kabels verstrengel |
| Skoensakke | Beskerm jou klere teen vuil sole |
| Houer vir reisdokumente | Paspoorte, vlugkaartjies ens. om net so in die kluis te bêre |
Pak- en organiseringswenke
1. Beplan jou uitrustings vooruit

Hierdie wenk het Justine my geleer en dit is iets waaruit ek soveel vreugde put. Gebruik ’n klerereling en hang al die klere wat jy oorweeg om in te pak op die reling. En kyk dan hoe jy die verskillende klere kan meng en pas om verskillende uitrustings te maak. As jy te veel items het, wat jy net een keer dra, los hulle by die huis. Sit ook jou skoene by jou klere sodat jy kan sien watter skoene by die meeste uitrustings sal pas.
2. Pakblokkies vir uitrustings
In plaas daarvan om pakblokkies volgens kategorie te organiseer, organiseer dit volgens uitrustings. Pakblokkies wat deursigtig is, of ’n deursigtige bo-kant het, is ideaal sodat jy kan sien watter uitrustings daarin is.



Wenk: Sommige goedkoop pakblokkies breek na een keer se te volprop. So maak seker jy hou kwaliteit ingedagte as jy koop, anders werk dit dalk duurder uit om voor elke vakansie ‘goedkoop’ blokkies te koop.
As jy iewers sakke vind, waar dit nie as ’n stel verkoop word nie, koop gerus ’n paar ekstra groot blokkies. Ek vind altyd dat ek groot blokkies kort, veral gedurende die winter met meer jasse en baadjies.
3. ’n Wasgoedsak is ’n moet
Veral vir onderklere en sokkies. Maak ook seker jy het ’n ekstra pakblokkie vir nog vuil klere.
4. Uitpak versus uit tas
Sommige reisgers soos Imari du Plessis sê sy leef eerder uit haar tas, want as sy uitpak vergeet sy goed. Lees meer hier:

As jy wel van uitpak hou (ek moet dadelik uitpak om tuis te voel) pak jou reisblokke net so in jou kas.
5. Skep ’n neersitplek
Besluit op ’n plek waar goed soos sonbrille, sleutels en handsakke neergesit word. Kyk vir ’n vrugtebak of skinkbord, sodat almal altyd weet waar dit is, anders word is dit die heeltyd soek.
6. Hang op
’n Toiletsakkie wat jy net so in die badkamer kan ophang, sonder dat jy hoef uit te pak, is wonderlik.

As jy slegs vir ’n paar aande weggaan kan jy selfs ’n ophangsak gebruik, wat jy net so in jou tas pak en ophang. (Pak ook hier uitrustings, in plaas van kategorieë apart).

7. Tech- en kabel organisasie
Kabels wat koek, op die grond rondlê of weg is, is ’n pyn. Veral as kinders ook nog heeltyd vra vir kabels. Stoor al die kabels in ’n sakkie, en merk ook sommer kabels met kleur en name vir verskillende gesinslede. So weet mens wie se kabel ‘weg’ is en wie moet soek daarvoor. Of nog beter, maak vir elke kind hulle eie sakkie waarvoor hulle verantwoordelikheid moet neem.



8. Kleurorganiseer gesinsbagasie
Kies verskillende kleure pakblokkies vir verskillende gesinslede, veral as julle tasse of hotelkamers deel. Merk ook sommer hulle laaikabels met dieselfde kleur.
9. Stoor jou juwele reg
Dit is die moeite werd om jou juwele in ’n aparte juweelsakkies te hou, sodat alles nie saamkoek nie. Dit maak dit ook makliker om te bêre en so kan jy ook vinnig sien as iets dalk weg is, en dit dadelik soek, eerder as om by die huis agter te kom dit is weg.






