Indien jy al ooit gewonder het of dit veilig is om jou drafskoene in die wasmasjien te gooi, is jy beslis nie alleen nie.
Jou hardloopskoene dra jou kilometers, maar wanneer laas het jy hulle behoorlik skoongemaak? Volgens podiatris Nelfrie Kemp kan die regte skoonmaakroetine nie net jou skoene langer laat hou nie, maar ook help om reuke, swamme en ander voetprobleme te voorkom.
Maar kan ek my hardloopskoene in die wasmasjien gooi? Voetheelkundige Nelfrie Kemp meen dit is een van die mees algemene vrae wat sy ontvang, en haar antwoord bly elke keer dieselfde. Lees hier hoe om jou drafskoene reg te was en ‘n spesiale resep om van daardie hardnekkige vlekke ontslae te raak.Saamgestel deur Justine Kroes
Moenie jou drafskoene in die masjien was nie!
“Moet asseblief glad nie jou drafskoene in die wasmasjien was of in die tuimeldroër droogmaak nie,” waarsku voetheelkundige Nelfrie Kemp.
“Dit kan die tegnologie in die middelsool van jou skoen beskadig, asook die materiaal van die skoen se boonste gedeelte.”

Moderne drafskoene word ontwerp met gevorderde dempingstelsels en tegnologie wat jou voete, enkels en knie ondersteun. Die gebruik van oormatige hitte, water en die aggressiewe beweging van ’n wasmasjien kan hierdie materiale beskadig en die lewensduur van jou skoene verkort.
“Was jou skoene slegs wanneer dit regtig nodig is”, is Nelfrie se raad. As jy daarvan hou dat jou skoene altyd splinternuut lyk, vee dit eerder gereeld met ’n klam lappie skoon.
Gereelde was kan onnodige slytasie veroorsaak, daarom beveel Kemp aan dat jy jou drafskoene net deeglik was wanneer dit werklik nodig is.
Dit het jy nodig
Voor jy begin, maak seker jy het die volgende byderhand:
- Fungisolve (anti-swam oplossing wat help om skoene te steriliseer en reuke te verwyder)
- Sunlight-seep of soortgelyke sagte seep
- ’n Nuwe kombuisspons (hou na gebruik die een net vir jou skoene!)
- ’n Ou tandeborsel vir hardnekkige vlekke
- ’n Harde borseltjie vir die sole
- Koeksoda (bicarbonate of soda)
- Wit asyn
Stap vir stap; Was jou drafskoene so:
Stap 1: Verwyder die veters en binnesole
Haal al die veters uit die skoene en verwyder die binnesole. Onthou om jou binnesole uit te haal voordat jy begin skoonmaak.

Stap 2: Maak die binnesole skoon
Gebruik die spons en Sunlight-seep om die binnesole saggies te was. Jy sal verbaaas wees hoe vinnig dit skoonkom!
Stap 3: Was die veters
Maak die veters skoon met sunlight seep en water. Vryf dit sommer so tussen jou hande en kyk hoe smelt die vuil kleur weg.

Stap 4: Was die boonste gedeelte versigtig
Voordat jy water gebruik, borsel eers enige modder, stof en los vuilheid van die skoene af. Gee veral aandag aan die groewe in die sole waar vuilheid maklik ophoop.

Gebruik die kombuisspons en seep om die boonste gedeelte van die skoen versigtig te was.
Gebruik genoeg druk om vuilheid te verwyder, maar wees versigtig om nie die materiaal, logo’s of afwerkings te beskadig nie. Vir hardnekkige vlekke rondom nate, vetergaatjies en logo’s kan jy ’n ou tandeborsel gebruik met sagte sirkelbewegings. Die tandeborsel werk goed en is fyn genoeg om al die moeilike deeltjies vol vuilheid skoon te skrop.

Stap 5: Maak die sole skoon
Gebruik ’n harde skoenborsel of enige mediumgrootte borsel en sunlightseep om die sole skoon te skrop.

Wees versigtig om nie die kleur of logo’s af te skuur nie.
Stap 6: Raad vir hardnekkige vlekke
Vir moeilike vlekke gebruik gerus die koeksoda-metode, dit het jy nodig:
Koeksoda
’n Klein hoeveelheid water
’n Skeutjie wit asyn
Meng die koeksoda, water en asyn. Die mengsel sal bruis, dit is heeltemal normaal.
Gebruik ’n ou tandeborsel om die mengsel op die vlek aan te wend en skrop liggies.
Laat dit vir 20 tot 30 minute aan vir gewone vlekke en tot een uur vir baie hardnekkige vlekke. Moet dit liefs nie veel langer laat sit nie.
Spoel daarna af met koue water en laat die skoene natuurlik droog word.
Stap 7: Spoel skoene deeglik af
Spoel die skoene, veters en binnesole goed af onder koue lopende water.

Stap 8: Ontsmet die skoene
Meng die Fungisolve volgens die vervaardiger se instruksies met water.
Week nou die boonste gedeelte van die skoene, die binnesole en die veters vir ongeveer 20 minute in die oplossing.
Hierdie stap help om swamme te verhoed en ongewenste reuke te verwyder.
Stap 9: Spoel weer af
Spoel alles deeglik af onder lopende water.
Stap 10: Laat natuurlik droog word
Een van die belangrikste stappe is om jou skoene reg te laat droog word.
Moet nooit hardloopskoene in ’n tuimeldroër plaas of direk teen ’n verwarmer of hittebron droogmaak nie. Oormatige hitte kan die gom, dempingsmateriaal en struktuur van die skoen beskadig.
Doen eerder die volgende:
Stop die skoene met papierhanddoeke of koerantpapier om vog te absorbeer.
Laat dit natuurlik droog word in ’n goed geventileerde area.
Plaas dit in indirekte sonlig.

Wanneer die skoene heeltemal droog is, druk die binnesole terug en ryg jou veters weer in.
Meer oor voetheelkundige Nelfrie Kemp:
Besoek nelfriekemp.co.za om meer te leer oor Nelfrie se handige aanlyngidse vir skoene kies en volg vir Nelfrie op sosiale media hier. Nelfrie deel insiggewende videos oor voete, hardloop, skoene en voetgesondheid.






