Bêre gerus jou ou mus – en loer hier na ’n klompie wintershoede wat tans in die mode is. Van pildooshoedjies tot pette met dierepatrone – hier’s ’n hoedstyl vir ’n ieder en elk! Lees gerus meer hier oor 11 hoedstyle wat ons nou aan ons kapstok wil hang. Deur Justine Kroes
17/05/2024
1. Dierepatroon-pette
Luiperdmotief is natuurlik groot op die oomblik, en as jy nie kans sien vir ’n luiperpatroonbroek of rok nie is ’n modebykomstigheid soos ’n hoed dalk ’n goeie idee. Hierdie dierepatroonpette is die perfekte oplossing vir rondhardloopdae (wanneer jy eintlik hare moes was) en sportdae! Ons glo natuurlik luiperdpatroon is neutraal, dit pas dus by byna enigiets. Dra dit by jou denim, tekkies en militêrestyljas vir ’n luukse sportiewe voorkoms.
Hier is ’n paar gunstelinge:
2. Musse met meer
Bêre gerus hierdie winterseisoen jou vervelige ou musse (wat dalk reeds vol wollerige donsies is) en vervang dit met ’n “mus met meer”. Wat ons hiermee bedoel, is ’n mus met ’n unieke afwerking: pêrels of pom poms. Basies enige mus wat ’n behoorlike stelling maak.
Hier is ’n paar gunstelinge wat ons raakgesien het:
3. Mooi met rooi (hoede)
Rooi is in – maar meer as dit is die oorheersende tendens om ’n “pop of red” – net ’n tikkie rooi by jou uitrusting te dra. Hierdie stileertruuk word al hoe meer gebruik en is ’n modetrend wat nog ’n rukkie met ons sal bly. Hoekom dan nie ’n rooi hoed as jou “pop of red” gebruik nie?
Hierdie hoede sal ’n stylvolle tikkie rooi by enige uitrusting bied:
4. Denimhoede
Ingeval jy nie onlangs ’n Stylvol mode-artikel gelees het nie, is denim (ja steeds!) ’n reuse winters modetrend. As jy nie graag ’n kop tot tone denim voorkoms wil aanpak nie, probeer dalk ’n denim bofbalpet of ’n denim emmerstyl-bolhoed “bucket hat”.
5. Emmerstyl-bolhoed (bucket hat)
Die allerbekende “bucket hat” is dalk nie almal se gunsteling hoedstyl nie, maar ons dink dit werk stylgewys perfek vir beide somer- en winterseisoene. Kies dalk net in die winter ’n emmerstyl-bolhoed wat lekker warm is. Kyk net hoe handig is die hoed wat waterweerstandig is: g’n meer kroes hare in die winterreën nie (dames van die Kaap!).
6. Nagemaakte Pels hoed (Faux Fur)
Faux-pels is die seisoen ’n warm winter moet-hê. Of dit nou ’n sagte nagemaakte pelsjas is, afwerkings op krae en selfs nou ook op hoede. Ons dink hierdie hoede lyk beslis luuks en o, so lekker warm!
7. Fedora
Die Fedora is eintlik die ideale wintershoed – dit word meestal gemaak van vilt of wolstof. wat jou kop lekker warm hou. Die breë rand beskerm jou natuurlik steeds teen die son op sonnige wintersdae. Boonop dink ons die hoed lyk stylvol vir naweek uitstappies gestileer saam met jou gunsteling winstersrok en stewels.
Kyk net hoe stylvol is die Fedoras:
8. Baret
Die baret (Beret) laat ons dadelik dink aan sjiek Franse vroue! Hierdie is nou maar een hoedstyl wat ons dink nooit uit die mode sal wees nie. Die seisoen is daar weer ’n paar prettige weergawes met pêrels en interessante juweelafwerkings.
Baretmooi:
9. Pildoosstyl hoed (Pillbox Hat)
Te danke aan die hoedstyl wat volop was op die Spring Summer 2024 internasionale modeloopplanke word daar vermoed dat die “pillbox-hat” so gewild soos jaar 2020 se “bucket hat” sal wees. Kenners voorspel met al die mode silhoeëtte wat terugkeer na vroulike vorms en uitrustings met struktuur is die “pillbox-hat” ’n gewilde hoedkeuse wat hierby pas. Ons sien uit na hoe modekenners hierdie vintage styl hoed met moderne uitrustings gaan stileer. Hoewel daar nog nie veel van die hoede in die winkels is nie, hou gerus ’n ogie oop daarvoor.
Kyk net hoe mooi is die ontwerpe van Crystal Birch:
10. Kappie (hood)
Om eerlik te wees, is ons nog nie heeltemal seker hoe ons oor hierdie kappie/omvou mussie voel nie. Want as diep donker yskoue winteroggende eers arriveer sal ons nie omgee om hierdie outjies reg bo oor ons koppe te trek nie. Warm ore, wange en nek!
Die vroue laat dit wel stylvol lyk:
11. Hoede met tekstuur
Tekstuur is ’n groot gonswoord vir die winter, van sagte sy tot growwe denim, teddy materiale en boucle en gebreide afwerkings. Indien jy dalk vanjaar onseker is watter hoedstyl om te kies, moet nie bekommer nie, maak net seker jy kies ’n hoed met ’n tekstuur wat ’n warm wintergevoel afgee. Van gebreide bofbalpette tot boucle-bolhoede.
Hier is nog ‘n klomp om van te kies: